Boksburg-gesinstak ploeg terug in gemeenskap

Op die gronde van die Sonop-karavaanpark in Benoni staan die Little House-skooltjie, waar 13 kinders tussen twee en vyf jaar oud daagliks versorg word. Dié kinders is almal deel van gesinne wat in die karavaanpark woon. Toe Elsabé en Gideon Kleyn, taklede van die ATKV-gesinstak Boksburg, ses jaar gelede bewus geraak het van die nood by die skool deur die bekende TV-program, Bobby en Karlien: In jou skoene, kon hulle nie anders as om saam met hulle tak betrokke te raak nie. Elsabé sê, “Hierdie is vir ons ’n deurlopende liefdadigheidsprojek. Ons doen twee maal per jaar – soms meer, afhangend van die behoefte – skenkings in die vorm van kos, skoonmaakmiddels en klere aan die skooltjie. Tydens Kersfees word daar geskenke uitgedeel.”
Little House is ’n projek van die Hanna Charity and Empowerment Foundation, wat in 2008 gestig is deur Hanna Grobler. Borgskappe van kinders, die jeug en bejaardes is hul hoogste prioriteit. Hulle ontvang geen ondersteuning van die regering nie, dus kom die organisasie se primêre inkomste en ondersteuning van individuele borge en maatskappye. Hulle gee persoonlike aandag en direkte voordele aan kinders, die jeug en hul gesinne, sodat hierdie mense waardig kan leef en ten volle in die samelewing kan deelneem. Die Hanna Charity and Empowerment Foundation ondersteun gemeenskappe met basiese dienste soos speelgroepe (waarvan die Little House een is), sopkombuise, vaardigheidsontwikkeling, werkskepping, klerebanke en sosiale en sielkundige ondersteuning, asook biblioteke.
Die ATKV ondersteun graag projekte waardeur gemeenskappe opgebou word en waardeur taklede kan terugploeg in die gemeenskap. Volgens Elsabé is kos en klere altyd ’n groot behoefte onder inwoners van die karavaanpark.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.