Boksburg-gesinstak se gholfdag ’n kolhou

Deel van die ATKV se missie is om terug te ploeg in die gemeenskap. En dit is presies wat die ATKV-gesinstak Boksburg doen deur projekte soos hul gholfdag, waarmee hulle kan teruggee aan die gemeenskap. Deur die moue op te rol en die bal aan die rol te kry, kon hulle ’n impak maak in die lewens van behoeftige leerders in die gemeenskap.
Die tak het seker gemaak hulle kry ’n kolhou tydens die laaste gholfdag, wat gehou is ten bate van behoeftige instansies in die Boksburg-gemeenskap. Die gholfdag, wat by die State Mines-buiteklub in Brakpan gehou is, was ’n dawerende sukses.
Die tak is betrokke by die Kosmos Aftreeoord, die Kowa Pienaar Tehuis en die Witfield Park Ouetehuis in Boksburg, asook die Little House by die Sonop-karavaanpark. Hulle staan ook behoeftige leerders van sommige hoërskole in die omgewing by.
Volgens Elsabé Kleyn, takvoorsitter, kon die tak verlede jaar behoeftige matriekleerders van die Hoërskool Oosterlig help om hul matriekafskeid by te woon. “Ons is ’n goeie span en harde werk werp vrugte af!” sê sy.
Die Boksburg-gesinstak se eerste gholfdag is in 2018 gehou. Hierná kon hulle eers weer in 2021 die setperke aandurf.
As jy graag betrokke wil raak by die ATKV, of wil uitvind van ’n tak in jou omgewing, besoek gerus die ATKV se webwerf by www.atkv.org.za.