Bou brûe in jou moedertaal

Dóér uit Amman, Jordanië, skryf ’n vriendin per e-pos hoe sy dit mis om haar taal te kan praat. Die taal waarin sy gebore, geskool en getroud is. Die taal waarin sy liefhet, lag, droom en bid. Ja, sy praat dit by die huis met haar man en kinders. Maar dit is nie dieselfde nie, skryf sy. Buite die grense van hul gesin voel hulle dikwels uitgesluit en misverstaan. Gelukkig kan sy haar kinders, wat nog kleuters is, in hul moedertaal onderrig, vir hulle voorlees en laat speel, sê sy.
Taal is meer as ’n blote medium van kommunikasie. Dit gee struktuur aan ons denke, bewaar ons erfenis en vorm die basis van ons kultuur. Internasionale Moedertaaldag word jaarliks op 21 Februarie gevier. Dit is ’n manier om die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld te beklemtoon en mense aan te moedig om ingelig te wees oor hul moedertaal. Boonop val die fokus op dié dag op die bewaring van kultuur en erfenis.
Volgens Unesco herken die viering van hierdie spesiale dag dat taal en veeltaligheid inklusiwiteit kan bevorder. Unesco glo dat onderwys, gegrond op die eerste taal (of moedertaal), in die vroeë kinderjare moet begin, want dit is waar die boustene van leer gelê word. Vir die ATKV is Internasionale Moedertaaldag ’n belangrike dag op die kalender. Unesco sê immers: “Tale is die kragtigste manier om kultuur te bewaar en te ontwikkel en om dit regoor die wêreld te bevorder.”
As jy oor moedertaal gesels, lei die gesprek outomaties na onderrig in moedertaal. Dié is glad nie vreemde waters vir die ATKV nie. Verskeie projekte deur die organisasie ondersteun die belangrikheid van moedertaalonderrig.
Lees lê die grondslag van alle leer. Navorsing bevestig dat kinders wat in hul moedertaal lees, ook makliker leer. Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, beywer hulle vir die bevordering van Afrikaans op gemeenskapsvlak. Hul fokus is op die bevordering van lees. Volgens die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS)-verslag van 2016 kan 78% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders nie met begrip lees nie. ’n Derde van alle ouers vertel nooit vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders voorgelees nie. Die VVA se boektrommelprojek is ’n lig in die donker vir baie wat nie toegang het tot boeke nie. Trommels vol leesboeke word aan verdienstelike laer- en kleuterskole beskikbaar gestel. Dié projek gee meer as 4 500 kinders per jaar toegang tot splinternuwe leesboeke, wat beteken hulle kan lustig lees – en dus ook leer – in hul moedertaal.
Die ATKV bied ook reeds vir etlike jare skoleprojekte aan wat kinders help om sukses te behaal in hul moedertaal. Dié projekte bied ’n platform vir kinders om talle nuwe vaardighede aan te leer, hul taalkennis op te skerp, leierseienskappe te ontwikkel en hul kreatiwiteit uit te leef. Deelname aan hierdie projekte gee kinders die geleentheid om hul liefde vir Afrikaans op verskeie maniere uit te leef.
Moedertaalonderrig strek soveel wyer as net opvoeding in jou taal. Die werwing en verwerking van kennis vind plaas in jou moedertaal. Kinders wat moedertaalonderrig ontvang, verstaan beter, leer beter en presteer beter. Navorsing het ook bewys dat kinders wat in hul moedertaal konseptualiseer (kennis verwerk), vaar beter in wiskunde en wetenskap. Hoekom? Want lees lê die boustene van álle leer. Dus, as jy in jou moedertaal met begrip kan lees, hou jy die sleutel tot begrip en sukses in ander vakke.
Vir die ATKV is die bevordering van moedertaal ’n sleutelfaktor tot sukses. Deur ons verskeie projekte wil ons graag sien dat alle deelnemers suksesvol is. Kom, bou brûe in jou moedertaal deur deel te neem aan die ATKV se projekte. Vir meer inligting besoek www.atkv.org.za
Jy kan ook ’n blywende verskil maak deur ’n skenking aan die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek. Jou bydrae – klein of groot – gaan die wêreld van woorde en stories aan kinders bekendstel. Vir meer inligting kontak gerus vir Wendy Homann by wendyh@atkv.org.za.