BrainTribe bou jonges se emosionele veerkragtigheid

Wat kry jy as jy neurowetenskap en emosionele intelligensie met mekaar kombineer? Die antwoord is BrainTribe, ’n kreatiewe program wat van die neurowetenskap kinderspeletjies maak. Die ATKV het onlangs hande gevat met die BrainTribe-span om dié program by skole landwyd te ontplooi en kinders se emosionele intelligensiespiere sterk te maak. Die program word ook deur FEDSAS ondersteun.
BrainTribe is reeds bekendgestel by verskeie skole in die Wes-Kaap, waarná die span die program na die Oos-Kaap en ook Bloemfontein sal neem. Maar hoekom is dit nodig dat ons kinders van vroeg af leer wat emosionele intelligensie is en hoe dit hulle baat as hulle bewus is van hulle emosies? Emosionele intelligensie is die vermoë om jou emosies te identifiseer, te verstaan en te beheer. Dit sluit die vermoë in om die gevoelens van ander te herken en effektief daarop te reageer. Die probleem is egter dat sosiale media persoonlike interaksie verminder – kinders leer nie meer sosiale vaardighede aan nie. Daarom is dit belangrik om jou kind te leer hoe om emosioneel intelligent te wees.
Lae emosionele intelligensie en min sosiale vaardighede veroorsaak dat kinders sukkel met ’n swak selfbeeld, gedragsprobleme toon (tuis en by die skool), meer vatbaar is vir groepsdruk en gereeld in konflik kom met maats, ouers en onderwysers. ’n Kind met ’n hoë emosionele intelligensie het die voordeel van ’n goeie selfbeeld, herken hul gevoelens en kan goeie besluite neem en daarvolgens optree, kan goeie verhoudings handhaaf (en het dus meer vriende), gee nie sommer in wanneer hulle met groepsdruk gekonfronteer word nie en toon minder gedragsprobleme by die huis en skool.
Die BrainTribe-projek is die breinkind van Manie Botha en Stefaans Burden. Manie is ’n innoverende leier en inspireer met sy manier om buite die boks die dink. Stefaans is ’n predikant, sanger, skrywer en rugbyafrigter. Albei dié mans het ’n geweldige passie vir jongmense en wil deur BrainTribe ’n verskil in jongmense se lewens maak. Die idee vir BrainTribe is gebore uit Manie en Stefaans se gewaarwording van hoe swaar jongmense emosioneel kry. Manie sê, “Daar is baie boeliegedrag in skole, en ons kinders is emosioneel nie veerkragtig nie. Hulle kan nie emosioneel terugbons as iemand iets lelik of sleg van of vir hulle sê nie. Hulle het eenvoudig nie die emosionele gereedskap om hulle te help nie. Ook die ouers het nie altyd hierdie kennis nie. Kleingoed kom immers nie met ’n handleiding nie! BrainTribe gebruik neurowetenskap en sielkunde om vir kinders te verduidelik hulle het ’n keuse oor hoe hulle dink en optree. Jy kán beheer neem oor jou lewe en die keuses wat jy maak.”
Stefaans sê, “Ons het ’n verantwoordelikheid om vir ons kinders ’n taal te gee – ’n manier te gee – om te gesels oor hulle emosies.”
BrainTribe vertel op ’n tasbare en baie eenvoudige manier aan kinders hoe dinge in hul koppe gebeur. Jy ontmoet die Tribe, wat jou help om deur middel van kleurvolle karakters die werking van jou brein in besluitneming te verstaan. Jy ontmoet vir BrainBuddy (prefrontale korteks), Wagter die Hond (amigdala), Piet Papegaai (hippokampus), Bob Bobbejaan (kommergedagtes) en Ou Koei (negatiewe selfspraak). Die Tribe funksioneer as ’n geheel wat ons help om goeie en slim besluite te maak en dit bewustelik te kies. BrainBuddy help jou om slim besluite te maak en die regte ding te doen. Wagter wil jou beskerm, maar kan baie angstig raak met die veg-, vlug- en vries-reaksie. Piet Papegaai is soos ’n bandopnemer wat alles wat gesê word opneem en terugspeel. Bob Bobbejaan is ’n baie kreatiewe deel van die brein, maar ongelukkig in ’n negatiewe sin – Bob is altyd bekommerd oor ’n klomp goed. Dié outjie vra die heeltyd die vraag, “wat as…” of, “sê nou maar net…” Die laaste karakter is die ou koei in die sloot. Dit het baie met selfspraak te doen, soos, “ag, weet jy, dit gebeur mos altyd met my…” of, “ek is nooit goed genoeg nie”. Stefaans sê, “Die karakters maak die wêreld van emosies vir die kinders oop op ’n manier wat hulle verstaan.”
Stefaans het dan ook die liedjie, “Hey, Buddy, hey”, geskryf, waardeur kinders gehelp word om te onthou wat hulle van die brein leer.
“Ons moet altyd onthou, dit gaan nie een mens vat om die wêreld te verander nie. Ons moet saamstaan en hande vat – onderwysers, ouers, kinders en ander opvoeders. Soos die Engelse gesegde lui, “It takes a whole village to raise a child”. Dit is ons begeerte om ook onderwysers en ouers se hande sterk te maak en vir hulle te sê hulle doen ’n goeie werk, maar weet dat daar mense is wat julle ondersteun met die gereedskap om dit nóg beter te doen,” sê Manie.
Loer gerus op BrainTribe se webwerf vir meer inligting: www.braintribe.co.za