Brandervolts se laaste Kersproduksie op die planke

Die ATKV-tak Brandervolts se nuwe en laaste Kersproduksie is op 2 Oktober 2025 in die kerkgebou van die Oase Gemeente Jeffreysbaai in Dolly Vardenstraat te sien.
Koebaai is ’n treffende titel vir die finale produksie van ’n geliefde teatergroep wat die plaaslike gemeenskap vir jare lank laat lag, huil en saamsing het.
Volgens Menno Mostert, ondervoorsitter van die ATKV-tak Brandervolts, is slegs hy en Tersia Strydom van die oorspronklike groep wat 12 jaar gelede begin het, steeds aktief.
“Destyds het alles begin toe Tersia, ’n erkende Afrikaanse taalkenner, gevra is om by ’n ATKV-tak in Despatch op te tree,” sê Menno.
“Sy wou natuurlik nie alleen gaan nie en sy vra toe vir my of ek nie saam wil gaan nie. Só het woord en lied mekaar gevind en, soos hulle sê, die res is geskiedenis. Daar het eenvoudig net by so baie mense aanklank gevind by dit wat ons doen. Dit is nou 12 jaar later en hier sit ons nog steeds.”
Die sukses van die groep spreek boekdele en volgens Menno het plaaslike inwoners “uiters positief” op hulle produksies deur die jare reageer.
“Ons produksies het mettertyd so gewild geraak dat dit uitverkoop was nog voor ons dit geadverteer het. As een produksie klaarmaak, vra mense al wat ons volgende produksie gaan wees,” sê Menno.
“Ek dink ons groep het ’n standaard gestel waardeur die gehoor geweet het wat hulle van elke produksie kan verwag. Die aanvraag na ons produksies het so groot geword dat ons in latere jare genoop was om sommiges twee keer aan te bied om almal te kon akkommodeer.”
Tyd om te gaan
Oor die besluit om te stop, sê Menno: “Soos die ou spreekwoord sê: ‘Daar is ’n tyd om te kom en daar is ’n tyd om te gaan.’ Ons is op die kruin. Ons is op die hoogtepunt en dit is nou ’n goeie tyd om ‘koebaai’ te sê.
“Die titel Koebaai is doelbewus gekies omdat dit gepas is vir die finale produksie en ook die groep se karakter perfek saamvat. Ons het altyd iets tong-in-die-kies gehad, met ’n lag en ’n traan. Dit val natuurlik so lekker op die tong as jy ‘koebaai’ sê,” verduidelik hy.
Oor die inhoud van die laaste produksie bly Menno geheimsinnig en sê daar is ’n verrassingselement.
“Mense moet kom kyk en sien hoe alles 12 jaar gelede begin het.”
Wat kan gehore van hierdie spesiale laaste optrede verwag? Menno verwys na een van hul grootste produksies in Potter’s Place, Afrikaans op sy beste, wat twee aande ná mekaar uitverkoop was.
“Dit is wat die mense ook vir ons finale produksie kan verwag,” belowe hy.
Menno bespreek kortliks die grootste uitdagings wat die groep oor die afgelope dekade of wat moes oorkom.
“Die grootste uitdaging was die gevaar om te stagneer. Ons was die heeltyd aktueel. Ons het tred gehou met die gebeure van die dag.”
Hy noem as voorbeeld hul produksie Christmas in Afrika, wat tydens die gedenkjaar van die begin van die Eerste Wêreldoorlog opgevoer is, en waar hulle elemente van die skietstilstand oor Kersfees by hul produksie ingesluit het.
Selfs die Covid-19-pandemie kon hulle nie keer nie.
“Ons het altyd probeer tred hou met dit wat aangaan en waarby mense aanklank kan vind,” sê Menno.
Oor die emosies wat hy ervaar terwyl hulle die laaste produksie beplan, sê Menno: “Daar is baie emosies wat deur jou kop gaan, maar aan die einde van die dag kan ek net sê ek is dankbaar om deel te kon wees van die produksies wat ons gedoen het. Ek sal dit vir die res van my lewe onthou.”
Menno erken hy sal die kameraadskap die meeste mis.
“Ons het as groep só mooi gegroei. Ons het altyd tyd gehad vir mekaar en ons het positiewe kritiek vir mekaar gegee.”
Hy voeg met ’n glimlag by: “Hulle sê jy besef eers wat jy gehad het wanneer jy dit nie meer het nie.”
Die ATKV-tak Brandervolts beplan om ’n spesiale toekenning aan die groep te oorhandig, maar besonderhede daaroor sal nader aan die tyd bekendgemaak word.
Met Koebaai sluit ’n era vir die Brandervolts-ensemble af, maar hul bydrae tot Afrikaanse teater sal lank in die harte van gehore voortleef. Koebaai beloof om ’n waardige slot te wees vir ’n teatergroep wat Afrikaans waarlik op sy beste ten toon gestel het.
Die vertoning begin om 19:00 op 2 Oktober 2025. Kaartjies is by die ATKV-tak Brandervolts of by Menno by 078 496 4401 te koop.