Burgersdorp se tuine van hoop

Die Chinese het ’n uitdrukking wat lui: “Die mens wat ’n tuin plant, plant geluk.” Dít het Alna Belendez-Retief, ’n sakevrou en bedrewe tuinier van Burgersdorp, al keer op keer met haar groentetuine ervaar.
Alna, wat goed kan beplan en ’n aanvoeling vir tuinmaak het, vertel dat haar verhouding met die ATKV ’n paar jaar gelede begin het toe ’n ATKV-personeellid by haar gastehuis oorgeslaap het. Hulle het oor haar groentetuin gesels en hoe hulle hande kon vat om mense te leer hoe om tuin te maak en sodoende ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Ná daardie aanvanklike saadjie by haar en die ATKV geplant is, het sy vir ’n paar jaar saam met die ATKV en Seed2Harvest geleer hoe om groentetuine aan te plant en dit te onderhou.
Hulle het die plaaslike gemeenskap geleer hoe om ’n tuin te ontwikkel, groente te plant, te oes, groente te was en te verpak en hoe om dit te verkoop. Hulle was saam betrokke by die Ukwethu Farming-projek en ná die afhandeling van daardie projek, het Alna deur die ATKV opleiding by Farming God’s Way in Gqeberha ondergaan.
“Dit was werklik ’n lewensveranderende ondervinding en Farming God’s Way maak ’n groot impak met hul werk,” sê Alna.
Alna het nie toe besef hoe vinnig sy weer ’n groot projek sou aanpak nie – totdat sy ’n sentrum vir kinders en die jeug op Burgersdorp besoek het. Die sentrum is vir kinders wat misdade gepleeg het en die vonnisse wissel van ses maande tot vyf jaar.
Die hoof van die sentrum het haar gekontak en vertel dat hulle grond van sowat twee hektaar het en dat dit ideaal vir ’n tuin sou wees.
Alna het die sentrum besoek en besef dat sy daar betrokke moes raak. Sy het vir Jaco Spies, die ATKV se streeksbestuurder in die Oos- en Noord-Kaap, en vir Farming God’s Way gekontak en hulle was dadelik vuur en vlam oor die nuwe projek.
“Farming God’s Way maak dit baie maklik om ’n groentetuin te begin. Hulle het regtig ’n ongelooflike konsep. As ons oes, verkoop ons die groente en die geld word dan vir die seuns in veilige bewaring gehou. Ons verkoop dit goedkoop aan die sentrum se werkers.
“As die seuns dan die dag die sentrum verlaat, kry hulle hul gedeelte van die geld. Ons het ook onlangs knoffel geplant waarvan ons ’n goeie oes verwag. Ons tuin het met 12 beddings begin, maar dis nou al 100 vierkante meter groot.”
Dit gaan egter oor veel meer as om net groente te plant, want die 33 seuns leer nie net hoe om groente te plant en dit te versorg nie. Hulle leer sommer in die proses ’n paar lewensvaardighede by en besef dat hulle weer nuut kan begin.
Vir Alna is die seuns ’n bron van inspirasie en sien sy veel meer as net seuns wat misdade gepleeg het.
“Hierdie kinders is werklik spesiaal. Baie van hulle was aan dwelms verslaaf toe hulle hul misdade gepleeg het. Hulle besef nou dit was verkeerd. Ek het ook ’n teologiestudent wat dikwels saam met ons in die tuin werk en sy geniet dit ook om saam met die seuns te werk en met hulle te gesels.”
Een van die skoonmakers by die sentrum is ook nou na Farming God’s Way om daar opleiding te ondergaan en Alna is opgewonde oor die geleentheid wat hy gekry het en dat hy nou haar regterhand by die sentrum gaan word.
Alna vertel dat saailinge baie duur is, en dit kos veral duur om dit op Burgersdorp te kry. Dis daarom dat sy ook ’n tonnel begin het sodat sy haar eie saailinge kan kweek. Sy het op die oomblik amper 8 000 saailinge wat besig is om te groei.
Intussen is daar nóg ’n projek waarby sy betrokke is, en dit is die plaaslike Mzimkhulu Primary School se tuin. Sy het groot planne om ook daar ’n groentetuin te vestig en hulle is besig om die grond daarvoor reg te kry. Die projek het baie potensiaal, vertel sy.
Alna het onlangs met die hulp van die ATKV ’n fondsinsamelingskonsert gehou en het ook al ’n praatjie gelewer waar sy ATKV-taklede vertel het hoe om gemeenskapstuine te begin en te onderhou. Daar is al ’n paar takke wat belangstel en sy kan nie wag om die konsep ook aan ander dorpe bekend te stel nie.
“Dit is ’n wonderlike ding om ’n tuin te plant waaruit jy iets vir ete kan pluk. Ons kos bevat vandag soveel preserveermiddels en dit is ’n heerlike gevoel om uit jou eie tuin kos te maak en presies te weet wat daarin is. Ons benader alles organies en selfs peste word op ’n organiese manier uitgeroei. Die wonderlike ding van ’n groentetuin is dat enigeen so ’n tuin kan begin.”
Alna is dankbaar vir borge soos die ATKV, BKB en Megafeeds wat dit vir haar moontlik maak om in haar gemeenskap aan te hou saai.
Stuur gerus ’n e-pos aan Alna by alnabelendez@gmail.com vir meer inligting oor die tuine.