Cliffordene Norton inspireer by Adam Small-fees
Die ATKV, in samewerking met die Vriende van Afrikaans (VVA), het tydens die onlangse Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) Adam Small-fees die skrywer Cliffordene Norton genooi om met jong skrywers in gesprek te tree. Die skrywersgesprek, wat deel gevorm het van die fees se skoleprogram, is bygewoon deur leerders van die Hoërskool Kylemore in die P.C. Peterson Primêr se skoolsaal.
Die gesprek is gelei deur Shireen Crotz, die VVA se projekorganiseerder, wat op ’n sensitiewe en meelewende wyse Norton se diep skrywerswaarhede ontgin het. Norton het met graad 8-, 11- en 12-leerders gesels oor haar boeke, haar skryfproses en haar persoonlike reis as skrywer.
Tydens die gesprek is veral twee van haar jeugromans bespreek: Om jou te ken en Ek sal vir jou veg. Haar derde boek, Hoe haal ek nou asem?, is ook kortliks aangeraak.
Oorspronklik van Barkly-Wes in die Noord-Kaap, bly dié klein dorpie steeds haar grootste inspirasiebron. Sy skryf oor die mense wat sy ken en die landskap wat sy liefhet – die oop vlaktes, die rooi en grys skakerings van die grond, en die helder sterrehemel. Familie, erfenis en menslike verbintenis vorm die kern van haar verhale.
Haar liefde vir stories het reeds op 15 begin, toe sy haar eerste liefdesverhaal met die hand geskryf het. Tog erken sy dat sy lank bang was om haarself as ’n skrywer te sien. Sy het nie grootgeword met skrywers as rolmodelle nie en het aanvanklik gevoel sy moet agter haar gunstelingskrywers aanskryf.
“My gunstelingskrywers was wit,” het sy vertel. “Toe moes ek leer om te skryf wie ék is – in my taal, met my stem en oor mense wat ek ken.”
Na ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit het sy haar professionele loopbaan by Volksblad begin. Vandag werk sy in die bemarkingsafdeling van haar alma mater en is sy besig met ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.
Een van die mees aangrypende oomblikke van die gesprek was toe Crotz haar vra: “Hoekom dink jy tieners moet lees?”
Norton het vertel hoe lees vir haar ’n veilige plek geword het – soos ’n vriendin wat jou nooit verlaat nie.
“Jy ervaar soveel emosies as tiener,” het sy verduidelik. “Jy staan met een voet in die kinderwêreld en een voet in die grootmenswêreld. Jy begin dinge sien wat volwassenes dalk vir jou probeer wegsteek. Lees help jou om daardie wêreld te verstaan en te besef wie jy eintlik wil wees. Dit maak die wêreld groter as jou omgewing.”
Die gesprek het ook sterk gefokus op haar roman, Ek sal vir jou veg, waarin temas van geweld, woede en oorlewing ondersoek word. Die verhaal draai onder meer om Cazlee, ’n karakter wat grootword in ’n disfunksionele huishouding waar haar pa haar ma mishandel. Wanneer sy uiteindelik terugveg, verander die dinamiek in die huis, maar die emosionele letsels bly.
“Sy slaan nie omdat sy wil nie,” het Crotz beklemtoon. “Sy slaan omdat sy móét.”
Sy het verder verduidelik dat die gevegstonele realisties geskryf is, maar binne ’n gestruktureerde konteks plaasvind. Karakters soos Cazlee en Ellamay veg nie in straatgevegte nie – hulle behoort aan ’n klub waar hulle opleiding ontvang in dissiplines soos skopboks.
Toe sy gevra is oor plekke in haar boeke, het sy weer teruggekeer na Barkly-Wes.
“Ek ken daardie plek,” het sy gesê. “Ek skryf die mense wat ek ken.”
Sy het die jong leerders aangemoedig om oor Kylemore te skryf – oor hul families, hul ervarings en hul gemeenskap.
Die gesprek het afgesluit met ’n eenvoudige, maar diep boodskap: Skryf leer jou om te dink. Wanneer jy skryf, is jy gefokus. Jy ontdek jou eie gedagtes en jou eie identiteit.
Twee gelukkige leerders het elk ’n getekende kopie van twee boeke, Om jou te ken en Ek sal vir jou veg, gewen. Elke kind wat die gesprek bygewoon het, het danksy PEKT-borge ’n kospakkie ontvang.