Crescendo: Lucia Poggenpoel wys hartspaaie

ATKV-Crescendo-kunstenaar, Lucia Poggenpoel (33), stel op 15 Augustus haar debuutalbum, Paaie van my hart, by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch vry. Al die liedjies – almal uit haar pen en deur die produksiehuis Crescendo Musiek vervaardig – sal daarna op sosialemediaplatforms beskikbaar wees.
“Ek is baie trots op hierdie liedjies. Dit het my ’n rukkie geneem om hierdie liedjies daar buite te kry,” erken sy. “Ek moes deur soveel paaie van liefde, vreugde en hartseer stap. Hierdie snitte kom daarom direk uit my hart en ek prys die Here vir wat in my lewe gebeur het. Hy is die rede hoekom ek in hoofletters nou voluit kan leef,” sê Lucia.
Paaie van my hart is die musikale vrug van haar deelname aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram waar sy haar stem en stories geslyp het tot liedjies wat lig en hoop bring. Sy vertel dat sy onmiddellik by haar mededeelnemers en die mentors van die program tuis gevoel het.
“Dit het vir my gevoel of ek uiteindelik tuisgekom het. Die mense van hierdie program is omgeemense wat my tot hoër kreatiewe hoogtes geïnspireer het.”
Die stories agter die liedjies
- “As jy val”: Hierdie snit is ’n gebed en verklaring in een. Dit vertel die verhaal van haar herstel ná haar broer se dood. Sy vertel dat sy verpletter was, maar deur musiek tot genesing verrys het.
- “Hou van jou”: Hierdie lied gaan oor die heimlike opwinding van ’n geheime liefde. Dit is lig en speels, maar ook eerlik. “Ek het hierdie lied geskryf vir iemand wat glad nie weet hoe ek voel nie,” lag sy. “Ek is mal oor sing en as ek van iemand hou, skryf ek sommer ’n lied daaroor.” Die resultaat is ’n melodie wat jou warm laat glimlag – amper soos verlief wees self.
- “Hoop vir ons mense”: Lucia sing hierdie duet saam met Ghapi. “Hierdie lied dra ’n boodskap van hoop oor aan ’n land wat swaar trek weens die ekonomie en gebroke verhoudings. Ghapi is vir my so ’n sterk karakter. As hy hierdie liedjie saamsing, klink die lied soveel sterker en meer epies.”
- “Smoorverlief”: Hierdie liedjie is ’n vrolike sokkietreffer wat Lucia se beste vriend geskryf het om sommer “lekker geraas te maak”. Sy is opgewonde oor die refrein: “Smoorverlief, my skat, my lam – ek is mal oor jou.” “Dit ’n liefdesverklaring op die maat van ’n dansbaan. Ons het gedink, as jy vir iemand wil sê jy is smoorverlief, doen dit só – met ’n mooi melodie wat almal saam kan sing,” verduidelik Lucia.
VRYSTELLINGSBESONDERHEDE
- “As jy val” is op 25 Julie 2025 as ’n enkelsnit vrygestel.
- Die musiekvideo van “As jy val” word op 8 Augustus 2025 vrygestel. Dit speel in die natuur en woude af, waar Lucia met haar koperkleurige lokke wat soos vlamme gloei heel tuis voel. “Dit fokus meer op die emosie van die liedjie en ek wat heeltemal in my vel voel in die natuur en alle eer aan God kan gee,” sê Lucia.
- Die album Paaie van my hart word op 15 Augustus tydens ’n produksie met die naam Paaie van my hart by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch bekendgestel. Joshua na die Reën, Jean-Marc Meyer en mede-Crescendo-kunstenaar Taurig Claasen gaan ook hul verskyning maak. Besoek Quicket om kaartjies aanlyn te koop.