Crescendo Musiek stel eerste album van 2025 vry

Edinia Citwa van Mosselbaai is die eerste kunstenaar uit die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram van 2024 wat met die hulp van Crescendo Musiek haar debuutalbum Gebore om te wen op 4 Julie 2025 saam met die sangeres Nádine by die Daisy Jones-teater net buite Stellenbosch vrystel.
Die titelsnit vorm die kern van die album, wat vyf oorspronklike liedjies uit die pen van hierdie ma van drie seuns bevat. Edinia verklap dat sy nooit in Afrikaans geskryf het nie tot sy met die hulp van haar seun Lonwabo (15) se rekenaarsagteware “Gebore om te wen” vir ATKV-Crescendo ingestuur het.
“Die ontdekking dat ek in my moedertaal kan skryf, het my die vryheid gegee om my waarheid, my storie, eg en eerlik oor te dra.”
Die volgende liedjies – as’t ware ’n refleksie van haar lewensreis – kan op die album gehoor word:
- “Gebore om te wen”, die titelsnit, is ’n kragtige verklaring van selfherstel en veerkragtigheid.
- “Jy is my stil” is ’n sagte liefdeslied vir die persoon wat sy nog nie ontmoet het nie.
- Met “Ek is hier” maak Edinia ’n sterk stelling: “Ek is hier, vol en vry, sonder maskers, sonder vergelyking. Ek is hier, want ek het myself gevind. Ek is hier om te bly.”
- In “Die lewe van ’n skrywer” gebruik Edinia die analogie van ’n skrywer om haar eie lewe te beskryf. “Ek sal skryf tot die sterre een vir een verdwyn, skryf oor dinge wat my hart laat pyn, want tussen letters lê my siel, ’n skrywer gee, al kos dit veel.”
- “Liefde is soos ’n rivier”, wat sy saam met Riku Lätti sing, beskryf liefde as iets wat vloei deur elke draai en haar oor klippe dra, weg van gevaar. Die blues-aanslag en Riku se invloed het die liedjie ’n unieke diepte gegee.
Edinia vertel sy kan nie wag vir die bekendstellingskonsert op 4 Julie 2025 nie. Nie net gaan haar kinders haar vir die eerste keer lewendig sien optree nie, maar sy kry ook die kans om die verhoog met een van haar gunstelingsangeresse, Nádine, te deel.
“Ek moes vir haar ’n video maak om te vra of sy as gaskunstenaar daardie aand saam met my sal optree. Sy het nie eers lank gevat om in te stem nie. Dit is so spesiaal om hierdie hoogtepunt in my lewe met haar te kan deel.”
Die produksie van Gebore om te wen is deur Jean-Marc Meyer in samewerking met Crescendo Musiek hanteer. Vir meer inligting oor Crescendo, of om kaartjies vir die bekendstellingskonsert te koop, kan www.crescendo.org.za besoek word.