Crescendo-ster Suné Damons stel enkelsnit bekend

Suné Damons, digter en woordkunstenaar van Worcester, het onlangs haar enkelsnit, “Crescendo”, op alle groot digitale platforms bekendgestel.
Damons (24) was ’n finalis in vanjaar se ATKV-Crescendo Mentorskapprogram, ’n ervaring wat haar die kans gegee het om haar eerste enkelsnit op te neem.
“Hierdie liedjie is ’n uitroep vir my stem om aanvaar te word soos dit is. ’n Crescendo beteken ’n hoogtepunt, ek sê in hierdie liedjie dat dit die hoogtepunt van my stem (in volume) is en ek hoop jy kan dit steeds hoor. Vir 14 jaar lank het ek nie gesing nie, want my stem was te sag toe ek ’n oudisie vir die seniorkoor by die skool gedoen het. My droom, my geskenk, my stem het op die ouderdom van 9 gesterf en ek het eers weer in 2019 begin sing, toe ek 22 was. ‘Crescendo’ som elke boeliedaad, elke kommentaar oor die klank wat vir my pasgemaak is, op,” sê Damons, wat glo dat die lirieke van die liedjie deur geestelike ingryping aan haar verskyn het.
Die liedjie is vanjaar in Maart geskryf en vir die eerste keer tydens die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram se werkswinkelfase opgevoer.
"Ek het nie ’n finale liedjie vir die optrede gehad nie en die sperdatum was die volgende dag, minstens ’n vers en ’n koor, maar ek het op God vertrou om my iets te gee. Soos ek na musiek geluister het, het ek net engele gesien wat sing en die woord ‘crescendo’ herhaaldelik gehoor. Ek was so oorweldig deur die gebeure dat ek op daardie oomblik in my stoel begin bewe het. Toe begin ek alles wat ek sien, neerskryf, want ek sien my musiek gewoonlik in prentjies en vertaal dit ná die tyd na woorde. Dit neem my minder as 10 minute ná ons sessie vir die dag om die liedjie klaar te maak. Alles was so maklik – die wysie, die woorde en alles het net bonatuurlik gebeur,” sê die 24-jarige.
ATKV-Crescendo is ’n ontwikkelingsprogram wat ontwerp is om liedjieskrywers kennis, ervaring en leiding te gee en deelnemers word aangemoedig om te sing en in hul eie dialek te skryf. Damons is ’n trotse produk van hierdie program.
“Om deel van die ATKV-Crescendo te wees, het my as individu gehelp. Hierdie program het my selfvertroue ontwikkel deur my te vertrou om op dieselfde verhoë te staan waarop legendes in die Afrikaanse musiekbedryf gestaan het. Dit het my uit my kokon uit gebring. Die mikrobenadering tot elke individu het verseker dat ek gevorm en voorberei word om die kunstenaar te wees wat ek vandag is en waarnatoe ek steeds beweeg. Hierdie program het my nooit toegelaat om alleen te wees nie. Daar was altyd iemand om mee te praat en my hand vas te hou. En die manier waarop ATKV-Crescendo my deur die jaar vertrou het, het my selfs meer in myself laat glo. Ek bedoel, uit nêrens begin mense in jou glo en vertrou, meer as wat jy al ooit beleef het. Een ding wat ek van hierdie program waardeer, is dat dit my raakgesien het vir wat ek kan wees en daardie persoon in bestaan ingebring het. ATKV-Crescendo het ’n beter Suné ontwikkel – hulle het die skoenlapper wat julle nou sien, help ontwikkel,” spog sy en voeg by dat dit onwerklik was om na haar enkelsnit te luister.
“Om eerlik te wees, moet ek myself steeds knyp dat die hele wêreld nou hierdie klein, stil stemmetjie sal hoor. Om hierdie liedjie of storie deur die hele wêreld te versprei, is vir my so ’n eer. Vir my is die onwerklike deel om te weet dat my storie vertel word en dat almal toegang daartoe gaan hê. As ’n klein dogtertjie het ek geweet my pyn het ’n doel, ek weet my pyn was ’n reaktor en sodra dit die regte doepa bygekry het, was dit bestem om ’n chemiese reaksie te skep wat gaan verander en herskep, selfs al was dit net een persoon. So, daar's opwinding, trane van vreugde, maar ook ’n gevoel van vernuwing. ’n Gevoel van verlossing en nuanse dat nie eers die oorblyfsels gemors word nie. Dit beteken ook vir my dat baie gevangenes vrygelaat gaan word, aangesien my musiek my storie en wie ek is, vergestalt, maar dis ’n sleutel vir sommige mense om uit hul tronke uit te kom.”
TEMALIEDJIE VIR ATKV-CRESCENDO
Suné se liedjie, die storie van hoe sy geïnspireer is om die lirieke te skryf en haar motivering vir die liedjie het in die algemeen só ’n indruk op die mentors en Crescendo-span gemaak dat daar besluit is om die liedjie as die amptelike temalied vir ATKV-Crescendo vir 2023 aan te neem. “Ek glo ferm dat hierdie liedjie liedjieskrywers van regoor Suid-Afrika sal inspireer en ook as ’n genesende mantra vir baie sal dien,” sê Morné van Staden, projekkoördineerder vir ATKV-Crescendo.
Die liedjie kan op alle digitale platforms, soos iTunes, Deezer, Spotify, ensovoorts afgelaai of geluister word.
http://itunes.apple.com/album/id1658820229?ls=1&app=itunes
http://itunes.apple.com/album/id/1658820229
https://youtu.be/2gum0qt6oP4
Terwyl Damons se enkelsnit reeds bekendgestel is, sal haar mede- ATKV-Crescendo Mentorskapprogram-finaliste binnekort volg. Selby Williams stel sy enkelsnit op Versoeningsdag (16 Desember) bekend, terwyl Athina Jansen haar liedjie volgende jaar op 13 Januarie 2023 bekendstel, en Marsha Bothma haar snit op 20 Januarie 2023.
OOR ATKV-CRESCENDO
Een van SA se oudste ontwikkelingsprogramme, ATKV-Crescendo, wat daarop gemik is om liedjieskrywers met kundigheid toe te rus, kies sommige van ons land se onontdekte musiektalent. Hierdie program het die behoefte om talentvolle musikante sedert 2014 op te lei en te ontwikkel, aangespreek. Deelnemers moet ’n liedjie wat hulle self geskryf het, inskryf. Hulle word aangemoedig om in hul eie dialek te skryf en sing, wat ’n voortdurende vloei van nuwe talent, liedjies, stemme en klanke na die Afrikaanse musiekbedryf verseker.
Oudisies is landswyd gehou, maar digitale indienings word ook aanvaar. Uit honderde inskrywings is finaliste gekies om die ATKV-Crescendo Mentorskapprogram by te woon.
Digitale inskrywings vir 2023 kan steeds tot 31 Januarie 2023 op https://form.jotform.com/cognative/inskrywingsvorm-vir-atkv-crescendo- ingedien word. Volg gerus ook ATKV-Crescendo op Facebook en Instagram om op die hoogte te bly van die jongste nuus.