Crescendo-werkswinkels ook in Namibië

ATKV-Crescendo, een van die voorste Afrikaanse musiekontwikkelingsprojekte van die afgelope vyftig jaar, hou tot 14 Junie gratis liedjieskryfwerkswinkels regoor Namibië.
Vir die eerste keer ooit word ATKV-Crescendo se gesogte musikale mentorskapprogram buite Suid-Afrika se grense tot in die hartjie van Namibië geneem. Enigiemand bo 18 wat al liedjies geskryf het of wil leer om liedjies te skryf, is welkom. Alhoewel die werkswinkel gemik is op die skep van nuwe Afrikaanse musiek, kan diegene wat nog net in Engels geskryf het die werkswinkel ook bywoon.
Tydens hierdie werkswinkels gaan deelnemers deur kundiges en kunstenaars soos Ixa Adonis, Gracia Louw, Selby Williams en Morné van Staden nie net touwys gemaak word in basiese liedjieskryfvaardighede nie, maar ook bemagtig word in aspekte soos projekbestuur.
Hierdie werkswinkels is deel van ATKV-Crescendo se groter visie om die Afrikaanse musiekbedryf van nuwe liedjies, stemme en genres te voorsien. “Ons moedig kunstenaars aan om in hulle eie dialekte te sing,” verduidelik projekorganiseerder Morné van Staden hierdie benadering. “Dit was net ’n logiese stap om ATKV-Crescendo ook na Namibië uit te brei, want sonder die pragtige variëteite van Afrikaans wat in Namibië gepraat word, is daar ’n groot leemte in die Afrikaanse musiekbedryf.”
Alhoewel dit die eerste keer is dat liedjieskryfwerkswinkels in Namibië gehou word, het Crescendo reeds in 2024 na Namibië uitgebrei toe Ixa van Masekinnez-faam in-persoon-oudisies gehou het om moontlike finaliste vir ATKV-Crescendo se omvattende mentorskapprogram in April 2025 te identifiseer. Twee finaliste van Namibië is deur ’n diverse groep musikante en rolspelers in die musiekbedryf met genoegsame kennis en kundigheid om hulle musikale loopbaan volhoubaar af te skop, toegerus. Dit is dan ook met trots dat ons kan aankondig dat Salvador Mouers van Walvisbaai as Namibië se eerste Crescendo-opnamekunstenaar gekies is. Hy gaan nie net ’n draai by die werkswinkel in Walvisbaai maak nie, maar tree in Oktober vanjaar in sy eerste amptelike Crescendo-produksie op.
Vir meer inligting kan Selby Williams by 081 810 2750 gekontak word.
Besonderhede oor werkswinkels
- Rehoboth: 10 Junie vanaf 15:00 tot 18:00 by die Rehoboth Arts Centre in die TRC-gebou, Rehoboth.
- Walvisbaai: 14 Junie vanaf 10:00 tot 15:00 by die Rooms-Katolieke kerk in Kruisstraat, Narraville, Walvisbaai.