Skip to main content

Daar kom (en gaan) die Alabama

Johan en Louis Drummond van Rensburg agter die klawers.
Komediante Danie Niehaus en Frans Kruger.
Die geselskap maak gereed vir die Boatrace by die dinee.
Gerrit Schoonhoven regs.

Skeptici word aanhangers

Daar was van die begin ’n ongeëwenaarde geesdrif oor die projek, sê Horst Bütow, Alabama-voorsitter in 1973 en 1974.

Horst het in 1980 die departement kultuur op die destydse Puk-kampus begin en 30 jaar as direkteur gedien. In 2010 is die departement herdoop na NWU-Puk Kunste.

“Dalk het dit iets te doen met die tikkie rebelsheid waarmee die groep die lewe ingeroep is. Dit was oorlogsjare en vele studenteleiers het gevoel dis nie gepas om ’n groep jolige studente op ’n toer te stuur nie,” sê hy.

Boonop was van die groeplede voormalige inwoners van die “pêrevel”-koshuise.

Dit het ook gegons oor Walta Viljoen, rugbykaptein, wat as studenteraadslid die aansoek vir ’n lening van honderd pond by die studenteraad hanteer het.

In 1943 was hy boonop voorsitter van die “X-klub”, wat dansgeleenthede vir die studente in die dorp gereël het. Dit het nie gehelp dat die X-klub sy tromstel aan die Alibama-orkes geskenk het nie.

Ondanks die teenkanting is goedkeuring vir die toer mettertyd verleen en, ná optredes in die destydse Wes-Transvaal, Noord-Kaap en die Vrystaat, het die orkes met ’n bruto inkomste van byna 500 pond gespog.

Dié sukses het die mening op kampus geswaai en in 1944 is die rektor as die orkes se beskermheer benoem.

Van orkes tot revue

Met die selfstandigwording van die universiteit in 1951 is die orkes se naam na die PU-Alabama Studente-Orkes verander. Die konsertprogram is in dié jaar die eerste keer in Engels vertaal en dit was een van die hoofredes hoekom “boere” in die titel vervang is.

In 1961 is die konsert se formaat van orkes tot operette verander en ’n jaar later staan die orkes as die Alabama-studentegeselskap bekend. Lennie meen Alabama, soos die groep in die volksmond bekend gestaan het, was teen daardie tyd een van die Puk se belangrikste ambassadeurs. Nog ’n groot verandering het in 1967 gekom toe die geselskap se revue-styl program ontwerp en deur Johan van Rensburg (van Noot vir noot-faam) in werking gestel is.

Dit was ’n waagskoot, skryf Lennie, omdat gehore destyds nog nie só iets op die planke gesien het nie. Aanvanklik was die konsertsale bra leeg, maar die oorgang van 1968 tot 1969 was “verstommend”. Een van die redes, voer Lennie aan, is dat die eerste Alabama-plaat die lig gesien het en oor die radio gehoor is. ’n Snit op dié plaat was vir tien weke onoorwonne op die Suid-Afrikaanse treffersparade. ’n Rits pryse en borgskappe het gevolg, asook ’n toer in Taiwan in 1985 en optredes in die room van Suid-Afrika se teaters.

Die skemervaart

Teen 2004 het dit duidelik geword Alabama se revueprogram is by ’n kruispad. ’n Nuwe konsep is in 2006 bekend gestel en die geselskap van 30 tot 12 sangers verklein. ’n Vierstuks-ritme-orkes het deel van die opvoering geword en die keuring- en bestuursprosesse het ook ’n nuwe baadjie aangetrek.

“Baie soortgelyke groepe het hul bes gedoen, maar nie een kon by Alabama kers vashou nie,” sê Horst. “Dit was ure en ure se oefening en opoffering. Alabama het ongeëwenaarde professionaliteit vir ’n studentegeselskap getoon. Elke lid het daai dryf gehad.”

Horst meen soos die jare aangestap het was die studente se toewyding nie meer op dieselfde vlak nie. “Dis byna of, soos studente se luukshede toegeneem het, hul toewyding ook minder geraak het.”

Nog onoorkombare struikelblokke was stygende produksiekoste en mededingende produksies, wat ook internasionale aanbiedings ingesluit het. Nie net het gehore se verwagtings verander nie, maar die studente kon nie meer die moordende pas van repetisies en vertonings – sáám met die akademiese druk – volhou nie.

Wat hy die meeste mis, sê Horst, is om te sien hoe groentjies ontwikkel tot selfstandige volwassenes en hulself kan uitleef. Chris voeg by: “By die 1993-reünie, toe Alabama 50 jaar bestaan het, was sewe geslagte De Bruyns op die verhoog.” Hy, twee van sy ma se broers, albei sy ouers, sy suster, sy een tante en een van sy niggies is almal oudlede.

“Alabama sit in my elke oomblik van die dag; al my keuses in terme van beroep, my werk, my lewensvaardighede. Ek is wie ek is omdat ek in Alabama was.”

Interessante feite

  • Alabama het jaarliks sowat 60 vertonings aangebied.
  • Ongeveer 80 000 mense het dié vertonings in 2006 en 2007 bygewoon.
  • Sedert 1976 is Alabama 23 keer op televisie gesien. Die laaste keer was in 2002 en 2004 in onderskeidelik Geraas en Pasella.
  • Alabama het 31 plate en 17 CD’s uitgereik.
  • Johan van Rensburg was in matriek toe hy die eerste keer saam met Alabama getoer het. Die gereelde trompetspeler het twee dae voor die toer skielik siek geword.
  • Nog suksesvolle oudlede sluit in Rina Hugo, Karin Hougaard, Chanté Hinds, Helenè Bester, Anna Davel, Christa Steyn en Danie Niehaus. Pieter Mulder en Dirk Hermann was ook lede.

Deur Anja van den Berg

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of 
https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn
of laai die PDF-weergawe af.