Deelnemers skitter op Sprankeltyd-eisteddfod
’n Unieke en besonderse geleentheid het onlangs in Bloemfontein plaasgevind. Die ATKV-tak Gemeenskapsteater het die Sprankeltyd-eisteddfod spesiaal vir persone met gestremdhede aangebied. Dit het plaasgevind in die skoolsaal van die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein. Ebeth Wilson, die voorsitter van ATKV-tak Gemeenskapsteater, sê die moontlikheid van ’n eisteddfod waaraan gestremde leerders en volwassenes kan deelneem, het verlede jaar by haar posgevat.
“Verlede jaar, terwyl ons tak besig was om die jaarlikse #weesdieverskil-fees te reël, het een van die onderwyseresse betrokke by Lettie Fouché, ’n skool vir gestremdes, by ’n bekendstellingseremonie met my gesels oor die moontlikheid van so ’n eisteddfod. Ons het gaan dink oor die saak en hierdie jaar besluit om dit aan te pak,” vertel Ebeth.
Aanvanklik is haar idee vir die eisteddfod met groot huiwering benader. Die meeste van die skole en instansies in Bloemfontein wat sy genader het met ’n uitnodiging vir die leerders en inwoners om hieraan deel te neem, het hulle twyfel uitgespreek. “Ons weet nie of die kinders of inwoners so iets sal kan doen nie,” het sy menigmaal gehoor. Dit het haar planne egter nie gestuit nie en alles het voortgegaan. Aanvanklik het sy gedink om die eisteddfod oor drie dae te laat verloop met voorgeskrewe drama op die eerste dag, dansitems op die tweede dag en sangitems op die laaste dag.
Ebeth vertel dat daar drie spesialisbeoordelaars aangestel is, elk vir een van die verskillende genres, maar al drie was van die begin af daar en het getrou enduit saam beoordeel.
“Dit het ons stoutste verwagtinge oortref en uiteindelik was daar byna 30 inskrywings. Daar was ’n stuk of vyf voordragte en ’n hele klomp dansitems, met gumboots en ritmegroepies wat deelgeneem het. Ons het ook ’n hele klomp sangers gehad wat vir ons hulle talent kom wys het, sommiges individueel en ander in duette of groepies. Dit was regtig net een groot lekkerte,” sê Ebeth.
Die geleentheid wat daar was vir volwassenes om deel te neem, het dit ook spesiaal gemaak, sê sy. Wanneer ’n kind ’n gestremdheid het en nog op skool is, kry hy of sy nog heelwat aandag, maar wanneer hulle ouer word en in tehuise vir gestremdes gaan bly, vergeet die wêreld meestal van hulle. Met die eisteddfod het hulle weer ’n kans gekry om te wys dat hulle ook oor pragtige talent beskik.
“My oë was op een van die beoordelaars gerig en ek kon elke keer sien hoe sy oë vol trane word wanneer hy na die toewyding en entoesiasme van die deelnemers kyk. Dit was net ongelooflik om te sien hoe hierdie mense, wat dikwels nie deur die samelewing raakgesien word nie, meteens die geleentheid kry om in die kollig te wees. Hulle stap met soveel selfvertroue op die verhoog – iets wat ons nie-gestremdes nie altyd kan regkry nie. Dan lewer hulle die item en ’n mens kan glad nie glo wat jy sien nie,” sê Ebeth.
Sy sê al die terugvoer wat hulle gekry het, was besonder positief. Hulle wou baie graag aan mense met gestremdhede ’n geleentheid bied om hul talente in ’n veilige spasie ten toon te kon stel en die klompie wat gebruik gemaak het van die geleentheid, spog nou almal baie hard met die pragtige sertifikate waarmee hulle beloon is. Ook al die onderwysers en versorgers wat gehelp het, is dit eens dat hierdie ’n unieke, maar broodnodige geleentheid is wat in die toekoms net nog groter kan word.
“Dis regtig ’n konsep wat ons glo en hoop volgende jaar baie groter gaan wees en selfs landwyd gaan uitrol,” sê Ebeth. “Mense met gestremdhede kry so min die geleentheid en ’n mens moet vir hulle daardie spasie skep waar hulle ook kan uiting gee aan hul talente en kreatiwiteit. Terselfdertyd moet hulle net hulleself kan wees, maar binne ’n beskermende omgewing waar dit nie noodwendig oor die kritiek gaan, soos met ’n gewone eisteddfod nie. Dit moet net gaan oor die geleentheid om te kan deelneem en hul vaardighede te wys. Uiteindelik smag almal maar net daarna om raakgesien te word.”