Deur die storm se musiekvideo is hier!

Wanneer die lewe en die omstandighede van die wêreld jou wil oorweldig, moet jy nie moed verloor nie. Jy moet net aanhou loop en aanhou glo, want ons sal saam as ’n nasie deur die storm kom.
Dit is die boodskap wat Esté Gross, Hemelbesem en die UP Youth Choir, in samewerking met die ATKV, graag dié Paasfees wil oordra met hul treffende nuwe enkelsnit, Deur die storm, wat verlede week vrygestel is.
Volgens Esté, ’n bekende omroeper, nuusleser en sangeres, gaan dié Christelike kontemporêre popsnit oor eenheid. Sy het dit geskryf as terapie toe sy self deur ’n stormagtige tyd gegaan het.
“Al woed daar soms storms binne ons, moet ons mekaar ondersteun en in vreugde saam die lewenspad aanhou loop,” sê sy. “Ek het die liedjie geskryf met die idee om ’n eg Suid-Afrikaanse liedjie in Afrikaans te skep en ’n wye verskeidenheid van musikale invloede in te sluit. Ek het die gewilde kletsrymer Hemelbesem, die internasionaal bekroonde UP Youth Choir en die puik vervaardiger Gideon Botes betrek om sodoende Afrika-gesange, kletsrym en pop op ’n unieke manier te kombineer. Die aanvanklike snit was heelwat stadiger, maar ek het geweet die wysie is aansteeklik en die finale produk, met almal se insette, nooi jou uit om te dans.”
Om hierdie besonderse projek te laat realiseer, het hulle borge nodig gehad en Esté was bevoorreg genoeg om die ATKV aan boord te kry. “Dit is vir ons almal ’n groot eer om saam met die ATKV te werk. Deur die jare het hulle al so baie gedoen om Afrikaans te bevorder en ek voel bevoorreg dat hulle agter dié projek staan. Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.”
Die musiekvideo, wat deur Common Ground Collective vervaardig is, beklemtoon die boodskap van eenheid deur die gebruik van baie kleur, ritme en beweging.
“Daar is soveel ernstige en negatiewe dinge in ons wêreld, ons wou in sterk kontras daarmee ’n opbeurende, mooi en positiewe boodskap van hoop uitbeeld,” verduidelik Esté.
