Die Afrikaanse woord seëvier
Die ATKV-Woordveertjies word aangebied om uitsonderlike bydraes rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Van Suid-Afrika se voorste Afrikaanse skrywers en illustreerders het al met hierdie veer in hul hoed weggestap.
Poësie is die perfekte vertoonkas vir die skoonheid van Afrikaans. Verskeie digbundels het meegeding om die Prys vir Poësie. Die beoordelaars in hierdie kategorie was Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen. Die wenner in hierdie kategorie is Plunder – Antjie Krog (Human & Rousseau).
Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenbundel: Met Plunder bou Krog tematies voort op haar vorige digkuns. Motiewe soos familie, liggaam en omgewing word hierdie keer egter in die lig van “plundering” betrag. Die titel van die digbundel is ’n soort sosiale kontrak met die leser en bied ’n belangrike riglyn oor die inhoud of tematiek. Meer nog, “plunder” is die bestek van hierdie digbundel in ’n enkele woord opgesom. “Plunder” is ’n onthutsende woord wat allermins mooiskrywery belowe. Dit is ’n geweldige woord, ’n geweldige titel, en in hierdie geval onderlê dit die geweld van aftakeling in elke moontlike vorm, ook die verlies aan drang, begeerte, naïwiteit en enige vorm van ydelheid by die digter self. Besinnings oor taal, die aard van digkuns en die rol van digterskap is ander belangrike motiewe in die bundel, wat kenmerkend van Krog se oeuvre is.
Drama gee lewe aan die letterkunde, en vanjaar se dramatekste is beoordeel deur Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Wim Vorster. Die wenner van die Prys vir Dramateks is vanjaar Die halwe huis – Ricardo Arendse.
Die beoordelaars het die volgende kommentaar op hierdie drama gelewer:
Die storielyn is sterk biografies van aard en word sonder skroom of verskoning voorgehou. Dis rou, eerlik, boeiend, skrikwekkend, meesleurend, en bied ’n ongenaakbare blik op die verwoeste lewe van ene Bumper Jansen. Temas soos die genadelose invloed van die patriargie, oftewel die sondes van die vaders, die verwoesting wat verslawing meebring, asook depressie wat dikwels die hoogste tol eis, word ondersoek. Arendse se taal is digterlik en soepel. Hy oorrompel met slimmighede en humor, desondanks die donker temas en Bumper Jansen se prekêre situasie. Die teks het werklik gravitas en is deurgaans verweef met gedigte en musiek, dikwels in Kaaps, wat die temas steun en nuanse skep.
Die ATKV-Woordwystoekenning word toegeken aan ’n verdienstelike woordeboek of taalgids waarin Afrikaans verteenwoordig word.
Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse was Rufus Gouws, Ernst Kotzé en Gerhard van Huyssteen.
Die beoordelaars het eenparig besluit dat die woordeboek, N|uuki Namagowab, Afrikaans, English Woordeboek / Dictionary (2022), met Bonny Sands en Kerry Jones as hoofredakteurs, vanjaar met die ATKV-Woordwystoekenning bekroon word. Hierdie woordeboek is saamgestel deur African Tongue en geproduseer deur African Sun Media.
As minderheidstale word Namagowab en N|uu in hierdie woordeboek gedokumenteer en dus bewaar. Daarby word hierdie vreemde tale toeganklik vir ander taalgebruikers gemaak deurdat ekwivalente van die woordeskat ook in Afrikaans en in Engels aangegee word.
Die beoordelaars het die innovasie, omvang en gemeenskapsgerigtheid van die woordeboek uitgesonder as kenmerke wat van hierdie naslaanbron ’n wenner maak.
Wat innovasie betref, is dit die eerste woordeboek vir Namagowab en N|uu van dié aard. Die woordeboek is ook digitaal beskikbaar en klanklêers word vir baie woorde ingesluit. Dit maak die woordeboek toeganklik en baie innoverend met ’n eietydse digitale voetspoor vir twee tale wat die gevaar loop om te kan verdwyn. Nog ’n eerste is die insluit van ’n variëteit van Afrikaans wat naas Standaardafrikaans bekendstaan as “Onse Afrikaans” en veral in die Noord-Kaap gepraat word. Onse Afrikaans is waarskynlik die eerste variëteit van Afrikaans wat te boek gestel is.
Die omvang van die gedrukte woordeboek is op sigself opvallend. Saam met die aanlyn woordeboek, die klanklêers en die addisionele materiaal in die voorwerk van die woordeboek oor onder meer die grammatika, is dit in geheel nie net ’n woordeboek nie, maar ’n uitgebreide naslaanbron wat ’n minderheidstaal dokumenteer. Belangrik hier is ook die brugfunksie wat Afrikaans tussen die tale speel. Die skakel wat met Nama as een van die oerbronne van Afrikaans gemaak word, is ook belangwekkend. Hierdeur word die aard en omvang van die Afrikaanse leksikografie verryk.
Dié uitsonderlike woordeboek is ’n baie goeie voorbeeld van ’n verantwoordelike gemeenskapsgerigte woordeboekprojek, wat ook as model vir ander soortgelyke woordeboeke kan dien. Bowenal gee dit aan die sprekers van Namagowab en N|uu die geleentheid om meer van hul eie tale te wete te kom, en ook om hul tale naas Afrikaans en Engels te sien ontwikkel. Via Afrikaans as brontaal kan Afrikaanssprekendes ook die rykdom van ánder moedertale ontdek.
Die redaksiespan bestaan uit verskeie linguiste, taalkundiges, vertalers en ander kundiges.
Gemeenskapslede en sprekers wat die tale magtig is en wat meegewerk het aan hierdie unieke taalbron is onder andere Anna Kassie, Griet Seekoei, Katrina Esau, Hannie Koerant, Andries Olyn, Hanna Koper, Vytjie Koper, Simon Sauls, |Una Rooi, Kheis Brou, Elsie Vaalbooi, Claudia Snyman, David van Wyk, Mietjie Sussie Bok, Willem Damarah, Lys Kruiper Pietersen, Izak Kruiper, Lydia Kruiper en Leonard Gewersk.
Ouma |Una Rooi verduidelik dat hulle lank terug hul taal toegemaak het in ’n sloot en gesê het: “Eens op ’n tyd, dan sal ons weer vir jou uithaal as daar ’n opening vir ons is op die tafel.” Met dié woordeboek sit N|uuki, Namagowab en Onse Afrikaans ook nou aan die tafel.
Op 22 September word die wenners van die Prys vir Spanningslektuur, die Prys vir Niefiksie en die ATKV-Prosaprys aangekondig.
Vir meer inligting, kontak Jeanné Naudé by 011 919 9088, of stuur ’n e-pos na jeannen@atkv.org.za.