Die ATKV en JA span saam

Die ATKV en een van Suid-Afrika se voorste plaaslike stromingsdienste het nou kragte saamgesnoer om Afrikaans die wye wêreld in te stuur.
Jou Afrikaans (JA) gaan voortaan van die ATKV se inhoud, soos ATKV-Skatkis en Gekies vir die Kollig, op hul platform aanbied. ATKV-lede kry ook die geleentheid om teen ’n verminderde intekeningsfooi by JA aan te sluit.
“Die ATKV se visie is in lyn met JA s’n en ons fokus op dieselfde teikenmark. Dit was net logies vir ons om ’n vennootskap met die ATKV te sluit,” sê André Frauenstein, mededirekteur van JA.
JA het ongeveer 300 000 lede, wat kykers van regoor die wêreld, soos Kanada, Australië, Amerika en Viëtnam insluit.
“Van hierdie lede is Afrikaanssprekendes wat hulself elders in die wêreld bevind en terugverlang na hul tuisland. Dit bied die ATKV die geleentheid om ook hierdie gehoor te bereik.”
André en sy seun, Samuel, albei rolprentvervaardigers, het in 2021 die stromingsdiens begin weens hul gedeelde liefde vir rolprente en die groot aanvraag vir Afrikaanse vermaak.
Die pa-en-seun-span is veral bekend vir rolprente soos Treurgrond (2015), Trouvoete (2015) en Mignon Mossie van Wyk (2016).
“Rolprente was nog altyd een van ons groot liefdes en met platforms soos Netflix het vermaak by die huis die nuwe norm geword. JA bring ’n egte Suid-Afrikaanse geur na die tafel toe.”
Die stromingsdiens bied vir kykers ’n magdom kykgenot – van ou gunstelinge tot nuwe Afrikaanse reekse, rolprente, dokumentêre, kinderprogramme, verhoogproduksies en opvoedkundige programme.
“Ons doel is om ’n ruimte te skep waar ou en nuwe programme kan saamleef, ’n platform wat sorg dat Afrikaans soos ons dit ken, sonder hoegenaamd enige inmenging, beskerm en uitgeleef kan word. Dit is belangrik om ’n waarlik vrye taal en kultuur te hê.”
JA kos vir ATKV-lede slegs R60 per maand en daar is ook ’n kinderpakket van R35 per maand beskikbaar.
“Ouers is huiwerig om hul kinders aan YouTube bloot te stel. Die een oomblik kan hulle nog ’n kinderprogram kyk en die volgende oomblik kyk hulle iets wat totaal nie vir kinders gepas is nie. Ons pakket verseker dat kinders ten alle tye veilig is.”
Volgens André is hulle ook tans besig om vennootskappe met Suid-Afrika se grootste selfoonnetwerke te sluit.
“Dit gaan beteken dat ons amper almal in Suid-Afrika wat ’n foon het, kan bereik en die ATKV se boodskap kan versprei.”