Die ATKV se Tienertoneelwerkswinkel is ’n unieke opleidingsgeleentheid

Tienertoneel is tans die pasaangeër en smeltkroes van kreatiwiteit in Suid-Afrika en ’n unieke opleidingsgeleentheid vind binnekort by die Suidoosterfees in Kaapstad plaas. Dié tienertoneelwerkswinkel strek oor drie dae van 27 tot 29 April 2022. In hierdie drie dae sal daar benewens die werkswinkels wat deur Frieda van den Heever en Ricardo Arendse aangebied word, ook die geleentheid wees om tien feesdramas by te woon as deel van die opleidingsmateriaal van die kursus.
JJ van Niekerk, die ATKV se Tienertoneel-projekorganiseerder, is opgewonde oor hierdie fantastiese geleentheid. “Vir die ATKV is opleiding ontsettend belangrik en die duidelike behoefte aan ’n opleidingsgeleentheid wat spesifiek op tienertoneel gemik is, was die inspirasie hieragter. Ons gooi dit wyd oop en tienertoneelregisseurs, spelers en enigiemand wat lief is vir toneel en graag meer wil leer oor die skep van nuwe werk vir die verhoog, is welkom om dit by te woon. Ek weet nie van enige ander opleidingsprogram waarin jy boonop tien produksies as deel van jou kursusmateriaal kan bywoon nie.
“Dit bly nou maar ’n wonderlike ervaring om in ’n teater te sit en te voel hoe die verhoogligte warm word. Daarna kry jy boonop die geleentheid om die ervaring te ontleed in gesprekke met ander kursusgangers. Voorts bied dit ’n kans om by baanbrekers in die industrie te leer hoe om regie te doen en ’n teks te skryf. En dit alles in die loop van drie dae. Die bywoning van die feesdramas as deel van die kursus maak dit ’n heel ander ervaring as om bloot net in ’n klaskamer of lesingslokaal of aanlyn teoreties na opleiding te kyk,” sê hy.
Die twee aanbieders van die ATKV-Tienertoneelpakket het albei diep spore in die bedryf getrap. Frieda van den Heever, wat die regiewerkswinkel aanbied, het verlede jaar ’n Fiësta-toekenning as regisseur ontvang. Sy is ook die samestellerregisseur van Die oerkluts kwyt, ’n produksie met Antoinette Kellerman op vanjaar se Suidoosterfees. Ricardo Arendse, wat die teksskryfwerkswinkel aanbied, het al heelwat draaiboeke vir rolprente, televisie en radio geskryf. Hy is ook die teksskrywer van Die Halwe Huis, wat met groot sukses by die KKNK opgevoer is en ook by die Suidoosterfees te sien sal wees met Marlo Minnaar in die hoofrol.
Benewens Die oerkluts kwyt en Die Halwe Huis, sal kursusgangers ook produksies soos Ek wens, ek wens met Frank Opperman, Mutton Hour met Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse en Dis 20:15 met Waldemar Schultz en Brendon Daniels kan bywoon. Die topdrie-Tienertoneelproduksies van 2021 is ook op die program en as bonus word die produksie van Stellenbosch Universiteit se honneursstudente, New Year’s Eve, by die aanbod ingesluit.
Die koste van die ATKV-Tienertoneelpakket by vanjaar se Suidoosterfees beloop R1 000 vir die drie dae. Daar is ook ’n opsie wat verblyf insluit. Alle besprekings moet by Faren Esau by faren.esau@media24.com gedoen word.
Nie net gaan ’n mens verryk en geïnspireerd daar wegstap nie, maar jy sal ook die waagmoed hê om iets nuuts te skep vir 2023 of die werk van 2022 te verfyn. Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.
Klik hier vir ’n volledige program van die ATKV-Tienertoneelpakket.