Die ATKV-tak Rhenosterberg se ekstra wiskundeklasse maak ’n groot verskil

Vir baie leerders is wiskunde en die aanleer van wiskundige bewerkings en redenasies ’n groot uitdaging en oor die afgelope paar jaar het net meer as 50% van matrikulante wat wiskunde as ’n vak gehad het, die vak in die eindeksamen geslaag. Al hoe minder kinders neem ook wiskunde as ’n vak en tog vereis soveel studierigtings wiskunde op matriekvlak.
Die gemeenskap van Middelburg in die Oos-Kaap het hulp vanuit eie geledere gekry om die leerders van die omgewing te help om hul wiskundepunte te verbeter. Donald Smiles, die voorsitter van die ATKV-tak Rhenosterberg op dié dorp, was sy lewe lank betrokke by die onderrig van wiskunde. Hy het ’n paar jaar gelede afgetree, maar beskik steeds oor die kennis en vaardighede om leerders met wiskundige probleme te help. Donald vertel dit was Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder van die ATKV se #weesdieverskil-veldtog van 2019, wat die idee vir die projek om ekstra wiskundeklasse aan graad 12-leerders te bied geplant het.
“Gertjan is ons streeksbestuurder en hy het ons aangemoedig om ’n projek aan te pak wat ’n verskil sal maak. Een van die projekte waarop ons tak besluit het, het my baie na aan die hart gelê. Ons het in 2019 weggespring met ekstra wiskundeklasse vir matrieks en sekere van die jonger grade, maar toe het die Covid-pandemie in 2020 ’n stokkie daarvoor gesteek. Ons het egter besluit om in 2022 weer hiermee te begin, en vir die afgelope paar Saterdae bied ek elke Saterdagoggend ekstra wiskundeklasse aan vir die graad 12-groep van die Middellande Senior Sekondêre Skool op Middelburg.”
Donald sê daar is 14 leerders wat getrou opdaag vir die klasse. Die feit dat hulle week ná week aanmeld en die soort vrae wat in die klas gevra word, is vir hom ’n positiewe aanduiding dat die kinders leergierig en vasbeslote is om hul punte te verbeter.
“Hierdie klompie het aan hulself die doelwit gestel om wiskunde met 60% of meer te slaag en ek gaan alles in my vermoë doen om hulle te help om hierdie doelwit te bereik,” sê Donald.
Hy droom daarvan om ’n WhatsApp-groepie vir dié klompie leerders te begin sodat hulle hom enige tyd kan vra as hulle vashaak met die wiskunde, maar nie almal het slimfone nie.
“Die klasse is die ideale geleentheid om ’n verskil te kan maak en dit is boonop besonder lekker om weer met jongmense te kan werk. Dit gee my beslis weer ’n huppel in die stap!
“Ek is ook besonder dankbaar dat ek die klasse onder die vaandel van die ATKV kan aanbied,” sê Donald. “Die ATKV bevorder Afrikaans op soveel vlakke en hierdie is ook vir my ’n manier om die Afrikaanse taal uit te bou, want my onderrig is in Afrikaans.”
Klik hier as jy betrokke wil raak of by ’n ATKV-tak wil aansluit.