Die ATKV vier Vrouedag

Dis die jaar 1925, jy praat Afrikaans en is ’n vrou. Hoe het jy gelyk en wat het jy gedoen? Wel, een ding is seker – die Afrikaanssprekende vrou van vandag is baie anders as 100 jaar gelede.
Vandag kan ’n vrou stem, sy kan studeer wat sy wil, word wat sy wil, self besluit of sy wil trou of kinders hê en haarself ten volle uitleef. Sy hoef nie ’n knoop aan te werk as sy nie wil nie en sy hoef nie in enige tradisionele boksie te pas nie. Sy kan inderdaad in enige boks klim of uitklim.
Maar hoe sien ons ATKV-taklede die moderne Afrikaanssprekende vrou? Ons het by ’n paar van hulle gaan aanklop en sommer deur hulle met die moderne vrou kennis gemaak.
Jané de Wet, voorsitter van die ATKV-tak VIA (Voluit in Afrikaans), sê dat sy moderne Afrikaanssprekende vroue as ongelooflik divers, veerkragtig en invloedryk sien.
“Wat ek die meeste van die moderne vrou bewonder, is die manier waarop hulle tradisionele norme uitdaag en struikelblokke in wegspringblokke verander. Ons sien al meer vroue in leierskapsrolle, in STEM-velde, in entrepreneurskap en wat waagmoed in die kunste wys. Moderne Afrikaanssprekende vroue is nie net kragtige rolmodelle nie, maar ook voorlopers in vooruitgang,” sê sy.
“Dit is baie kompleks om so ’n vrou te wees, maar watter voorreg en fees is dit nie? Mag ons aanhou om ons stemme te laat eggo, met glimlagte en geduld die wêreld op horings neem en natuurlik die verskil wees wat ons wil sien!”
Annie Cruywagen, voorsitter van die ATKV-tak Atlantis, sê dat die Afrikaanssprekende vrou van vandag trots is op vrouwees en aktief betrokke is by die bemagtiging en die ontwikkeling van haar taal en kultuur. Sy staan onbeweeglik vir dit waarin sy glo en is ’n inspirasie vir ander.
Mariné Botha, sekretaresse van die ATKV-tak PEAAT, vertel dat die moderne Afrikaanssprekende vrou sommer ’n klomp balle in die lug moet hou.
“Sy is selfstandig, opvoedkundig en speel ’n aktiewe rol in die beroepswêreld. Sy balanseer haar kultuurerfenis met moderne waardes en dra kragtig by tot die gesin, gemeenskap en samelewing. Sy ís die verskil in haar omgewing.”
Vir Celésti van Zyl, voorsitter van die ATKV-tak Kuilsrivier, is die moderne vrou iemand wat nie perfek hoef te wees in haar woorde of dade nie, maar wat daarna streef om in die oomblik te leef. Haar moedertaal is vir haar ’n erfdeel wat geslagte verbind.
“Die moderne vrou van vandag hoef nie terug te staan om haar plek in ’n leiersposisie in te neem nie. Sy moet weet sy speel ’n onvervangbare rol in die lewe van haar mense en haar gemeenskap,” sê sy.
Nadine Appies, sekretaresse van die ATKV-tak Kliprosie, sien die moderne Afrikaanssprekende vrou as iemand wat probeer om ’n balans tussen haar persoonlike, professionele en sosiale lewe te vind.
“Sy erken waarvandaan sy kom, maar strewe dat haar professionele lewe haar help om aan haar familie en geliefdes nuwe geleenthede te gee om te groei en te ontwikkel. Sy gee daagliks eer aan haar Skepper wat haar in staat stel om deel van die nou en hier te wees,” vertel sy.
Sandra Taljaard, voorsitter van die ATKV-tak Heidelberg, sê die moderne vrou is “opgevoed, staan vas in haar waardes en is kreatief en veelsydig in die huis. Haar gesin is haar tweede prioriteit ná haar geloof. Sy is trots op haar taal en kultuur, gedrewe in haar loopbaan, laat haar stem hoor en streef na groei vir haar en haar gesin.”
Theresa Neethling, ondervoorsitter van die ATKV-tak Atlantis, sê dat Engels in Suid-Afrika op alle platforms as die taal van kommunikasie aanvaar word, en as die moderne Afrikaanssprekende vrou dus in Afrikaans kommunikeer, word dit as volksvreemd beskou.
“Die moderne, Afrikaanssprekende vrou is egter ’n sterk vrou wat haar taal praat en trots is daarop. Vroue was nog altyd reuse in die ontwikkeling van Afrikaans as taal,” sê sy.
Ingrid van der Westhuizen, ondervoorsitter van die ATKV-tak Blinkers en ook die voogonderwyser van die ATKV-jeugtak Besige Bytjies, sien die moderne Afrikaanse vrou as sterk, onafhanklik, kragtig en een wat skrik vir niks.
“Sy kan enigiets bereik waarop sy haar hart sit. Sy hoef glad nie terug te staan vir enige man nie. Sy neem haar eie besluite en lei haar eie lewe. Sy het haar eie identiteit en word nie meer beperk deur die tradisionele rolle wat van ’n vrou verwag word nie. Sy laat haarself in die samelewing geld, het ’n stem en het haar eie identiteit en waardes.”
Vir Linda Brink, lid van die ATKV-tak Senekal, is die ATKV-vrou soos ’n boom in vrugbare grond.
“Lentetyd is skugtergroen, nuuskierig en vindingryk. Somer dra die volheid van deernis en vrug. Goud en koper is die herfs – rustig en vrygewig in optrede. Die winter-ATKV-vrou is gestroop van pretensie. Haar optrede getuig van rustige beplanning en in haar sorg bêre sy, baie behoedsaam, die sade van kultuurskatte vir ’n nuwe geslag.”
Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-gesinstak Wellington, sê dat die moderne vrou superkragte het, want sy moet ekonomies bydra en haar plek in haar gemeenskap, kerk en gesin volstaan.
“Sy moet die klimaat in haar huis bepaal as versorger, soos God bedoel het dit moet wees. Sy is die gom in haar huis en moet uit liefde bemoedig en dien. Deur dit alles moet sy haarself behou.”
Incke van Wyk, voorsitter van die ATKV-tak Zastron, sluit af met die gedagte dat ’n Afrikaanse vrou soos ’n tuisgebakte broodjie is – sy laat jou binneste tuis voel en is lieflik deur haar Skepper gegeur en versigtig geknie.