Die ‘boekjuffrou’ wat van kinders lesers maak
Sy het van kleins af alles wat sy in die hande kon kry om te lees, verslind, vertel Christina Simelane (53) van KaNyamazane naby Mbombela, Mpumalanga.
“My ma was ’n huiswerker en ek onthou nog hoe sy haar werkgewer se ou tydskrifte, soos Huisgenoot en Sarie, vir my huis toe gebring het. Ek het alles wat ek kon kry, gelees, of dit nou brosjures of gebruikerhandleidings was! Ek het ook altyd boeke vir my verjaardag gevra en ek onthou nog hoe ek vir my ma gesit en voorlees het.”
Daardie liefde vir lees het nooit verflou nie. Christina het dit ook aan haar eie vyf seuns oorgedra en as onderwyseres het sy nog altyd haar klasse geïnspireer om te lees. Dis ook daarom dat sy en haar oorlede man in 2013 Raise a Reader begin het en dit as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer het.
“Ons het ’n leemte in ons gemeenskappe raakgesien en besef dat kinders nie genoeg blootstelling aan boeke kry nie. Daar is internasionaal bevind dat Suid-Afrikaanse graadvierkinders nie met begrip kan lees nie. Ons het daarom die platform begin om lees te bevorder en kinders met boeke te bemagtig. Ons wil hê dat gemeenskappe in afgeleë gebiede ook toegang tot veilige leesruimtes, volhoubare programme en geleenthede moet hê. Daar moet standhoudende oplossings vir geletterdheidsuitdagings wees. Kinders moet hier ook veilig kan studeer en gratis WiFi kan gebruik.”
Christina en haar man was 28 jaar lank getroud, maar hy het in 2021 aan Covid-komplikasies gesterf. Christina hou egter hul droom lewend en is steeds aktief besig om Raise a Reader te bevorder.
Sy is dankbaar vir die ATKV se toekenning en hoop dat dit tot groter bewustheid van haar groot droom sal lei. Wat is haar droom? ’n Biblioteek in die Daantjie-nedersetting.
’n Veilige hawe vir lesers
Daantjie is so 42 km van Mbombela af en armoede en ongeletterdheid is groot uitdagings in die omgewing.
“Daar is geen ontwikkelingsinisiatiewe of geleenthede vir jongmense nie. Die werkloosheidsyfer is baie hoog, veral onder die jeug, en daar is baie gesinne met min of geen inkomste nie. Daar is talle huishoudings waar die kinders by enkelouers of grootouers grootword en vele huishoudings waar weeskinders hul sibbe grootmaak. Waar mense sukkel om te oorleef, is daar beslis nie geld vir storieboeke nie. Daar is geen biblioteek, sportveld of selfs ’n parkie vir kinders nie. Mense wat ’n biblioteek soek, moet ’n ent ry en die meeste gesinne het eenvoudig nie die geld vir vervoer nie. Dis ook nie veilig vir kinders om te reis nie, veral nie met misdaad, soos mensehandel, wat so ’n groot probleem is nie.”
Christina vertel die plan vir ’n biblioteek het verdere momentum gekry met die afsterwe van die
16-jarige Nomthandazo Mbatha. Nomthandazo was baie begaafd en het groot planne vir haar toekoms gehad. Sy is egter in 2019 tragies vermoor toe sy op pad na ’n vriend vir ’n studiesessie was.
“Waarom moet ons kinders sterf in hul soeke na kennis?” vra Christina. “Ons besef die regering het nie genoeg hulpbronne om dit te doen wat hulle veronderstel is om te doen nie en daarom moet gemeenskappe self hul hand opsteek en ’n verskil maak. Ons het reeds die grond gekoop om ’n biblioteek in Daantjie te bou. Die erf is baie sentraal geleë en is net agter die laerskool waar ek klasgee. Dis ook binne loopafstand van hoërskole en dagsorgsentrums.”
Christina sê die Daantjie-gemeenskap is baie opgewonde oor die idee en ondersteun hulle om fondsinsamelings te hou, maar hulle het ongelukkig nog nie naastenby genoeg om die biblioteek te bou nie. “Ons is op soek na vraghouers wat ons kan inrig en wil graag ’n beroep doen vir skenkings van boumateriaal, boekrakke, meubels, rekenaars en boeke. ’n Mens kan nooit genoeg boeke hê nie! Die materiaal om omheining op te rig, is baie belangrik, want sodra ons dit het, kan ons solank ’n mobiele biblioteek op die terrein inrig.”
Christina vertel dat die idee is om ’n ware 21ste eeuse biblioteek te vestig.
“Ek sien ’n plek in my geestesoog waar kinders ná skool by rekenaars kan sit en take doen. Ek sien ’n plek waar Ma en Pa ná werk saam met hul kinders kan inloer en boeke uitneem. Ek sien toestelle wat kinders met leerprobleme kan help. Ons het baie afgetrede onderwysers in die gemeenskap en sal hulle graag as vrywilligers wil inspan om kinders met hul take en huiswerk te help.”
Christina noem dat daar net een matriekeksamen vir alle kinders is, maar kinders van gemeenskappe soos Daantjie het ’n groot agterstand, want hulle het nie eens toegang tot alle materiaal wat hulle in hul matriekjaar benodig nie.
“Ons kinders het nie gelyke toegang tot inligting nie. Hoe kan ouers slimfone met internet bekostig as hulle nie kos kan koop nie? As ons wil hê dat hierdie kinders op internasionale vlak moet meeding, moet ons vir hulle boeke en gratis internet gee om te studeer en meer oor die wêreld uit te vind. Ons wil ’n gemeenskap met innoverende lesers bou, wat die kennis wat hulle in boeke en op die internet kry, kan benut en weer in die gemeenskap kan terugploeg. Hulle moet hul vaardighede kan ontwikkel en selfs ondernemings begin.”
Die pad na kennis
Christina kan nie uitgepraat raak oor hoe belangrik lees is nie. “Boeke vat ons saam op avonture en stel ons aan opwindende wêrelde bekend. Lees maak ’n mens slim. Dit verbreed jou kennis, laat jou aan nuwe idees dink, slyp jou kritiese denke en verruim jou woordeskat. Dit help jou ook om beter te kommunikeer. Ek het in my eie lewe gesien hoe my leesliefde vir my ’n toekoms gegee het. Ek het op 17 gematrikuleer en was die jongste student in die onderwyskollege. Hoewel ek van die platteland af kom waar mense nie Engels praat nie, het my leesagtergrond my die vermoë gegee om daar vlot in Engels voorleggings te doen. Ek het my Engels self opgeskerp met boeke soos Common mistakes in English en het alles wat ek moontlik kon, gelees om myself te verbeter.”
Vandag is dit vir Christina ’n groot vreugde om te sien hoe kinders boeke geniet.
“Ek is ’n groot voorstander daarvan om kinders so vroeg as moontlik aan boeke bekend te stel. Kleintjies kan deur boeke blaai, na prentjies kyk en hul eie stories opmaak. Dit plant die saadjie vir lees en dit is hoekom ek so geroepe voel om boeke na kinders te vat.”
Daar is weliswaar nog nie ’n baksteengebou met boeke in Daantjie nie, maar Christina vat boeke na kinders toe.
“Deur Raise a Reader maak ek boeke en tydskrifte bymekaar en het ook kantoorruimte gehuur om boeke daar aan te hou. Ons het gemeenskapsleeskringe gestig waar ons oor boeke gesels en boeke uitleen. Ek besoeke ook skole in die omgewing en leen boeke aan kinders uit. Ons het ook WhatsApp-groepe waar kinders boeke kan aanvra. Daar is ook ’n veldjie waar ek gereeld ’n gazebo opslaan om stories voor te lees en waar kinders boeke kan uitleen. Die weer maak dit wel nie altyd moontlik nie, maar ek probeer my bes om oral uit te kom.”
Sy laat haar nie maklik onderkry nie en glo waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
“Daar is van ons kinders in die omgewing wat na skole in die groot dorpe gaan waar hulle Afrikaans moet leer. Ek help hulle om Afrikaanse boeke te lees en help hulle om dit te ontleed en waarlik te begryp. Ek gaan kuier ook graag by klasse in die vroeë grade en leer vir hulle fonetiese klanke. Dis so ’n opwindende belewenis om kinders aan boeke bekend te stel. Ek staan bekend as die boekjuffrou en kinders kom dikwels by my aan en sê: ‘My juffrou het gesê ek moet gou vir juffrou kom lees!’ of ‘my ma het vir my gesê ek moet vir juffrou lees’.”
Christina sê ouers moet besef dat hulle ’n groot rol in hul kinders se lewe speel en hul leeslus moet prikkel. “Laat kinders hul boeke voorlees en blaai saam met kleiner kinders deur boeke. Skole speel ook ’n rol om ’n leeskultuur te bevorder. Ons skool het ’n ‘drop all and read’-klas en ek vat graag boeke vir kinders saam om te lees. Ek geniet dit om die boeke met hulle te bespreek. Hulle moet boekresensies skryf en ek vra vrae, soos: Wat was die titel, wie het dit geskryf, wie was die karakters, waar speel dit af, hoe het dit geëindig, hoe kon dit eindig, en laat hulle ook hul eie hoofstukke vir boeke skryf. Dis ’n groot lekkerte.”
Christina hoef nie lank te wonder voor sy haar eie groot lekkerte eien nie. “Dis vir my heerlik om in ’n hoekie te sit en te lees. Dis net ’n gesukkel om op te hou, want daar is altyd nog ’n hoofstuk wat wag...”
Vind meer uit oor Christina se program by 073 761 5582 of stuur ’n e-pos na raiseareaderplatform@gmail.com.