Die Bom en die Ster laat die vonke spat
Cudwill “C4” Kampher en Bryson “Five Star” Appel is saam Die Bom en die Ster, ’n duo wat tydens die onlangse Taalgenoot-RUK EN RYM-kompetisie ’n vierde plek behaal het.
Dié kletsrym-duo van die Alabama-woonbuurt by Klerksdorp in die Noordwes se slagspreuk is “Van die straat, vir die straat”.
“Dit is ons klank,” sê Cudwill. “Ons is gebore in die straat, ek is streetwise, ek is n qualified straatkind.
“Ons bly nie op straat nie, maar ons ken die straat baie goed en nou maak ons musiek vir die straat. Met ander woorde, ons praat met die ander laaities wat dieselfde agtergrond as ons het, ons praat direk met hulle, ons musiek is vir hulle. Van die straat, vir die straat.”
Cudwill sê sy en Bryson se musikale reis saam het 15 jaar gelede begin.
“Five Star het destyds saam met ’n kunstenaar genaamd MCD musiek gemaak en ek was ’n lid van die Kavukyside-groep gewees. Five Star het hom op ’n stadium by Kavukyside aangesluit en ek en hy het besef die Bom en die Ster maak ’n goeie kombinasie.
“Ons het so hier en daar collaborate saam met verskillende mense binne en buite Kavukyside, maar elke keer wat die Bom en die Ster saam aan ’n liedjie deelgeneem het, kon jy hoor hierdie twee mense se fusion is so powerful. Hulle liedjies dra so baie krag as hulle dit saam uitvoer, en daar het ons besef die Bom en die Ster is onstuitbaar, die Bom en die Ster is die volgende groot ding, die Bom en die Ster is een van die beste duo’s in Suid-Afrika. En dit was dit.
“Die Bom en die Ster se paaie het egter vyf jaar gelede vir vyf jaar geskei. Ons het oor baie dinge verskil, selfs musiek, en ons het skaars met mekaar gepraat. Ons het albei afsonderlik met musiek aangegaan, hoewel die Ster meer aktief as die Bom was.
“Ons kon uiteindelik ons verskille tersyde stel en weer begin saamwerk en nuwe musiek opneem. Ons werk op die oomblik aan ’n album en ek kan eerlikwaar sê ons is sterker as ooit vantevore.”
Cudwill sê hulle grootste musikale invloede strek wyd.
“Early B en Agemi, oftewel EARLandAGEMI, was destyds ook ’n baie sterk duo gewees. Dan ook die Terrible Twins, G5 Productions, Jack Parow, Hemelbesem, Isaac Mutant, daai manne. Ouens wat in die vroeë 2000’s geskyn het.”
Cudwill is vol lof vir die RUK EN RYM-konsep.
“RUK EN RYM is ’n wonderlike inisiatief. Ons was ook in 2018 ATKV-Crescendo-finaliste, maar dit was kort voor die Bom en die Ster se paaie geskei het.
“Nietemin, dit is altyd goed as daar iets vir Afrikaanse musiek en alternatiewe musiek aan die gang is, want Afrikaanse musiek is besig om so groot te groei, veral kletsrym in Afrikaans. Ons het nie baie platforms om Afrikaanse rymklets met die wêreld te deel nie, dus is RUK EN RYM op die regte pad, dis ’n goeie ding. Ons glo en ons hoop dat RUK EN RYM net verder sal groei en net groter dinge as ’n Afrikaanse alternatiewe platform sal vermag.”
Cudwill sê die Bom en die Ster wil soveel as moontlik lewendig optree.
“Ons doelwit in die korttermyn is basies net om vir gigs te kyk. Ons wil by al die feeste vir Afrikaanse kletsrym-musiek optree. Ons wil op elke verhoog wees om ’n inkomste te verdien sodat ons ’n lewe uit musiek kan maak.
“Ons wil in die langtermyn ons eie platemaatskappy stig en ook Afrikaanse kletsrym-musiek die platform bied sodat die wêreld kan sien dat Afrikaanse kletsrym-musiek van topgehalte is en vinnig groei.
“Ons wil uiteindelik glad nie afhanklik wees van enige platemaatskappy nie omdat ons so baie slegte dinge in die musiekbedryf sien gebeur. Kunstenaars word ingedoen en ’n paar jaar later sien jy die persoon is down and out. So ons wil in die langtermyn regtig ons eie ding doen en kunstenaars bestuur en vir hulle die regte ding doen, want ons glo in die regte ding.”
Die Bom en die Ster is hard aan die werk aan hul eerste vollengte-album en gaan in Desember by ’n musiekfees op Beaufort-Wes optree.