‘Die dood van Rachel April’: Meer as ’n krimi
Soms moet ’n mens duiwelsadvokaat speel en die vraag vra; is ons nie al versadig en verveeld met die krimi-genre nie?
Dit is ’n resep so oud soos die berge. ’n Deurwinterde speurder wroeg met die drankduiwel en kom op ’n kruispad. Sy loopbaan is in die weegskaal. In die skadu’s sluip ’n meedoënlose reeksmoordenaar en die lyke begin ophoop…
Jy sal heel moontlik meer opwinding en oorspronklikheid uit ’n geel telefoonboek of Sarie se nuutste breipatrone kry.
Maar dan slaan jy ’n boek oop soos Die Dood van Rachel April deur P.P. Fourie, waar ’n doodgewone bruin vrou haar lyf speurder hou. Gooi ’n raaisel uit die boereoorlog en ’n paar Nazi-fanatici in die pot en jy sit met ’n naelbyter.
Die joernalis en meestersgraadstudent, Rachel April, se lyk word gevind met ’n steekwond in die hart. Boonop is haar een duim verwyder en word haar lyk maande ná haar verdwyning gevind.
Lesea du Plessis, ’n medestudent, begin ondersoek instel en kom gou agter daar is kragte wat haar probeer verhoed om die waarheid te ontbloot.
Wat het die ongemerkte graf in Brandfort van die kunstenaar Vincent van Gogh se broer Cornelis met die raaiselmoord te doen? Wat het Rachel by die Oorlogmuseum in Bloemfontein ontdek wat haar dood tot gevolg gehad het? En wat het ’n herehuis in die Rosestad met alles te make?
Fourie, wat intensiewe navorsing vir sy derde roman gedoen het, kry dit reg om meesterlik die geskiedenis met fiksie te verweef. Dit is egter sy fyn waarneming, oortuigende dialoog en sy beskrywing van Bloemfontein en die Universiteit van die Vrystaat wat van hom ’n bobaas-storieverteller maak.
Die boek is veel meer as net ’n krimi en plaas die soeklig op identiteit, veral Lesea se eie herkoms.
Soos die ontslape Rachel voor haar dood aan Lesea gesê het: “Jy’s dalk bruin, liefie, maar jy’s nie kallit nie. Jy’s ’n insider wat dink jy’s ’n outsider, Lesea.”
Selfs tuis voel Lesea nooit of sy werklik inpas nie en deur die loop van die boek probeer sy nie net ’n moord oplos nie, maar ook om haar eie tuiskoms te vind. Haar wêreld word egter op sy kop gedraai wanneer haar ware herkoms aan haar blootgelê word.
“Word daar van haar verwag om die naweek huis toe te gaan en te maak of sy niks weet nie? Of moet sy die kleindogter speel? Of dalk die kleinmies? Niks is gedefinieer nie. Alles is onklaar. Alles is tussenin.”
Lesea se motiewe om haar eie lewe op die spel te sit om ’n medestudent se moord op te los, is egter twyfelagtig.
“Ek belowe jou ons gaan uitvind – haar woorde aan klein Kylie April. Sy onthou haar eie ontmagtiging as kind, die emosionele chaos wat volg op vieslike gerugte en ’n geskinder, haar eie vrae oor dinge wat niemand aan haar kon verduidelik nie. Sy dink aan die impak daarvan in haar eie lewe.”
Alhoewel sy die belofte aan Rachel se dogtertjie gemaak het, was Lesea en Rachel slegs kennisse en sou enige regdenkende mens die ondersoek eerder aan die owerhede oorlaat.
Die roman neem egter ’n heel ander dinamika aan wanneer ’n soortgelyke moord wat die leser sal laat aanhou blaai derduisende kilometer van Bloemfontein plaasvind.
“Rachel April en Hesbon Vis is op presies dieselfde manier vermoor. Binne een week uitmekaar, op twee verskillende vastelande. Of is daar ’n medepligtige in Amsterdam? Die toeval is tog te erg.”
Gou besef Lesea en haar halfbroer “hulle is te diep in hierdie ding in en blykbaar weet hulle al klaar te veel.”
Fourie kry dit reg om die spanningslyn snaarstyf te span. Hierdie krimi met sy skattejag-element gaan jou boei. Dit is soveel meer as net ’n doodgewone misdaadroman – dit is prosa met diepte en intrige.
Resensent: Jacques Myburgh