Die hiper-korrektes se huigelary

Ek verkyk my aan hoe twee skatryk eks-koninklikes in ’n asemrowende tuin aan ’n miljardêr-glanspersoonlikheid sit en bieg oor hoe verskriklik die lewe hulle behandel. In sommige plekke loop mense kilometers ver net vir drinkwater. En dis nie naastenby die ergste nie. Wat ’n klug. Was dit maar altyd só?
Redelik onlangs het ek ’n omvattende reeks oor die Tweede Wêreldoorlog (in kleur geredigeer) gekyk.
Wat my nogal erg ontstel het (en glo my, daar was ’n paar sulke episodes), was die Geallieerdes se bomaanvalle op Dresden in Duitsland. Sowat 25 000 mense is net die nag van 13 Februarie 1945 dood. Gewone mense, nie soldate nie.
Die stad is in ’n vuurpoel omgeskep. Mense se bene is vasgesmelt in die strate. Die duisende wat in bomskuilings weggekruip het, het gesmelt tot bene, tande en ’n dik weefselpap.
Dit voel vir my of ons in ’n tyd leef waar reg en verkeerd nie meer saak maak nie. Dis óf regs óf dis links. Die middel bestaan nie meer nie. Ons mag pedofiele en moordenaars nie hul regte ontneem nie.
’n Kollega sê ’n rukkie terug aan my: “Ek het sosiale media aanvanklik gelos oor die righties; nou vermy ek dit oor die lefties.” Deesdae word boeke verbied (of “gesaniteer”) wat honderde jare gelede geskryf is omdat dit rassistiese beskrywings of dialoog bevat. Skrywers word selfs van ererolle geskrap.
Wie vind baat daarby? Behalwe miskien dat die persoon wat dit voorgestel het vlugtig “goed” lyk. En hoe verskil dit van die Nazi’s, wat ook boeke verbrand het? Hoe is dit anders as sensuur? Ons kan nie die verlede herskryf nie. Ons kan wel daaruit leer en nie dieselfde foute maak nie.
In sosiale media, Meneer, moet jy ’n wag voor jou mond hou. Anders is jy ’n rassis, ’n vrouehater of ’n verkrampte (om net ’n paar te noem). Tik een sleuteltjie verkeerd op jou sleutelbord en jy word verbrand. Die woke-maatjies sit slaggereed en wag om ’n aanval te doen soos die Dresden-vuurhel van ouds.
Niemand luister meer na argumente nie, want hul argumente is reeds uitgewerk om hulle slimmer en meer verlig te laat lyk.
En daarmee ontken ek nie daar is rassiste, vrouehaters en verkramptes daarbuite nie. Maar, hel, almal wat nie ultralinks is nie, verdien darem nie die term “verkramp” nie. Inteendeel, dié wat in die middel sit gaan meer regs neig net om nie met die ander lotjie vereenselwig te word nie. Want te ver links is niks anders as te ver regs nie.
Dalk moet ons ’n bietjie meer dankbaar wees. Ons is die mees progressiewe, ontwikkelende, inklusiewe samelewing in die geskiedenis van die mensdom. Gewone, gesonde waardes is nie noodwendig binêr nie. Kom ons ontspan net ’n bietjie.
Verpligte* verskoning: Jammer dat ek my rubriek gebruik om te ontlaai. Maar, magtig, man/vrou/dit**, só kan dit nie aangaan nie. Lekker lees aan die nuutste uitgawe van Taalgenoot. En onthou om hom/haar/dit*** te deel met vriende en familie wat die tydskrif ook sal geniet.
*Nie regtig nie. Ek kan maar ontlaai in dié rubriek, as ek wil.
**Nog ’n bietjie lighartigheid. Alle genders is ewe belangrik. Behalwe die “vloeibares” – hulle is die belangrikste.
***Sien hierbo.
Johan Jack Smith
Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.