‘Die katartiese metode’ ’n psigologiese reis
Jaco Fouché se skryfwerk word gekenmerk deur gewone mense, randfigure, wat op reis is. Wat gemaak as die reis binne ’n karakter self is, met geen eindbestemming nie?
In 1986 het Splinterspel van Eleanor Baker (1973) ’n groot indruk op my gemaak, en het ek daarna verwys in ’n Psigopatologie-werkstuk wat ek moes skryf vir my honneursgraad in Sielkunde.
Die katartiese metode vertel die verhaal van Tronelle, wat vasgevang is in haarself en die stelsel waarbinne sy funksioneer en veilig voel, baie soos Johanna in Baker se Splinterspel.
Net soos in Fouché se Aanspreeklikheid is die ek-verteller van hierdie roman ’n briljante, maar neurotiese en selfs onbetroubare verteller. Haar neuroses en psigotiese episodes het haar in ’n psigiatriese inrigting laat beland. Van daardie “kamer in haar kop” hou sy die “wêreld en ander pasiënte dop”. Sy luister selfs hulle gesprekke met doktor Ames af. Die idee van voyeurisme word versterk deur die ek-verteller en interne dialoog.
Tronelle se verhouding met doktor Ames, soos gesien uit Tronelle se perspektief, is gebou op wedersydse respek en amper ’n vriendskap. Helaas is so iets skaars in ’n terapeutiese verhouding, wat maak dat ’n mens die betroubaarheid van die verteller bevraagteken, aangesien sielkundiges se etiese kode nie die sluit van vriendskappe met pasiënte aanmoedig nie. Hulle verhouding is op ’n vlak waar hulle saamstem en saamlag oor hul leuse: “Kognitiewe distorsie is ’n bliksem” (p. 85).
Die titel moes ek google, maar dit word op p.78 verklaar: “‘’n Mens kan nie genoeg oor jou probleme gesels nie. Jy hoor dalk net die bemoedigende woordjie wat jy vandag nodig het. Het ons gehoor van die talking cure? Dis wat dit in die ou dae genoem is, al die gepraat.’ ‘Die katartiese metode,’ sê die suster en druk elke klankgreep stadig uit. ‘Dis wat dit is. Dan praat jy dit uit, al daai dinge.’”
Só verduidelik die verpleegsuster die waarde daarvan aan die pasiënte in die psigiatriese inrigting. Ek het self die waarde daarvan die afgelope tydjie gesien; hoe praat trauma verlig en emosies vrylaat.
Tog is Tronelle slim genoeg om te besef sy kan nie enigiets met haar sielkundige bespreek nie. Sy gebruik woorde soos “pareidolie”, “affliksie” en “mikturisie”.
Die stemme wat Tronelle hoor, rig haar gedrag, maar haar insig daarin is verstommend.
“Die ontnugtering kom met behandeling. Dan besef jy hoeveel dinge aan die lewe, insluitend geestelike belewenis, eintlik maar die werking van die verstand is. Die hartseer waarheid is daar is nie sameswerings of hemele nie. Daar is net ooraktiewe verstande. As die gekkes iets kan verklaar, is dit: Die mistieke is fiksie, maar fiksie kan merkwaardig wees.” (p. 19)
Tronelle se insig in doktor Ames herinner aan Johann Rossouw se boek Sluitstuk, wanneer sy byvoorbeeld dink aan hoe Ames redeneer oor die verskil tussen verligting en die verlossing waarop elke mens geregtig is.
’n Gunstelingskrywer skryf oor ’n gunstelingonderwerp – menswees. Die boek laat die leser vrae vra waarop daar nie antwoorde is nie. Wat en wie is normaal? Wie is in beheer van die terapeutiese proses? Hoe werk alter ego’s? Is daar ’n duidelike verskil tussen dimensies? Waar en wat is die Maeware-wegstasie en wat is die bestemming as iemand daarvandaan vertrek?
As literêre werk is dit ’n boek met verskillende interpretasies. Tog wys dit dat ons almal uitdagings het en deur krisisse gaan. Wanneer die lewe oorweldigend raak, kan dit help om jou emosies op ’n gesonde manier uit te druk. Die katartiese metode – waar jy jou gevoelens vrylaat deur aktiwiteite soos skryf, teken, praat of selfs net huil – is ’n kragtige hulpmiddel om deur moeilike tye te werk en heling te vind.
Dit gaan nie net oor ontlaai nie, maar ook oor selfontdekking en heling. Die leser moet self besluit of Tronelle wel vrede vind, en hoe. Deur jou emosies te erken en uit te druk, gee jy jouself toestemming om vorentoe te beweeg met groter duidelikheid en innerlike vrede. Dit is ’n boek oor veel meer as die dinamika van die pasiënt-terapeut-verhouding, dit is ’n boek wat jy op die rak terugsit om weer te lees.
Die katartiese metode word uitgegee deur Protea Boekhuis. Koop dit hier.
Resensent: Trisa Hugo