Die nuwe gunstelingwerkplek
Al hoe meer werkendes besef hoeveel voordele dit kan inhou om hul lessenaar by die huis (of kantoor) vir ’n tafel in ’n koffiewinkel te verruil. Van die wêreld se bekendste skrywers, skilders, filosowe en liedjieskrywers het al bewys dat koffiewinkels ’n uitstekende plek is om die kreatiwiteit te laat vloei. Midde-in die Covid-19-pandemie het die “kultuur” om van koffiewinkels te werk opnuut geblom en dit lyk of dinge nie vinnig sal verander nie…
Die eerste keer in maande kies ek koers na my gunstelingkoffiewinkel om te werk. Die skuif is noodgedwonge. Ek werk graag tuis en in stilte; koffiewinkels is mos vir kuier.
Maar kragkabels is êrens gebuit en die dorp sit sonder krag. In die koffiewinkeltjie het ek genadiglik alles wat ek nodig het: Elektrisiteit, gratis wi-fi en ’n koppie sawwelyf om my gedagtes van eerste na vyfde rat te skuif.
Om my vloei die gesprekke, maar ek identifiseer ’n dominee, rekenmeester, sosialemediabestuurder en korttermynversekeraar met skootrekenaar oopgevou en gefokus soos ’n spoorsny-hond.
Ernest en Pablo het dit ook gedoen
Literêre reuse soos Ernest Hemingway, Simone de Beauvoir en haar geliefde Jean-Paul Sartre en kunstenaars soos Pablo Picasso het gereeld hul pad na cafés gevind om te werk. Hemingway het die grootste gedeelte van sy Paryse memoir, A Moveable Feast, in La Closerie des Lilas, naby sy woonstel in Montparnasse, geskryf.
Dié koffieplek bestaan vandag nog. Hy sou daar opdaag met sy notaboeke, potlode en ’n skerpmaker en oggende sit en omskryf. Die mense wat hy op dié manier ontmoet het, het dikwels karakters in sy boeke geword. In Edinburg het J.K. Rowling notas vir die eerste Harry Potter-boek in die Elephant House, met sy uitsig oor die Edinburg-kasteel, geskribbel.
Die kultuur om in koffiewinkels te werk het die afgelope twee jaar weer toegeneem, meen dié eienaars. Weens die volgehoue inperking het baie mense aan “kajuitkoors” begin ly en die gesellige atmosfeer van koffiewinkels het aan hulle ’n uitkoms gebied.
John Killas, eienaar van Olivia’s in Northcliff, Johannesburg, sê dit is te danke aan mense wat in grendeltyd sy koffiewinkel hul “kantoor” kom maak het dat sy onderneming kon oorleef. Olivia’s bestaan al 21 jaar en het gereelde kliënte; sommige daag sommer al vroegdag op om “hul” tafel te kry. “Hulle hoef ook nie te vra vir hul drinkding van keuse nie. Ons weet al wat elkeen se gunsteling is,” sê John.
Grysgeraas? Geen probleem nie
Helen Ueckermann, vryskut-mediaskakelbeampte en korporatiewe skrywer, is een van dié regulars. “Dit is vreemd,” sê sy. “Tuis kan ek nie werk as die TV of radio aangeskakel is nie. Kort voor lank sit ek en luister na wat daar aangaan en konsentreer nie op my werk nie.
“Maar in ’n koffiewinkel is al die geluide eerder ’n gedruis in die agtergrond, ’n soort grysgeraas, en ek het geen probleem om te fokus of te konsentreer nie. Die atmosfeer is positief en opgewek en die feit dat ander ook daar sit en werk, skep ’n kantoorgevoel. Die verskil is dat niemand tyd het om op die hoek van jou lessenaar te kom sit en gesels oor die vorige aand se sepies nie.”
Alta Cloete, Bolandse skrywer van Suid-Afrikaanse lekkerleesstories, is ses jaar terug deur haar skryfvriendin Estelle Ryan in Pole geïnspireer om van koffiewinkels te werk.
“Ek het oor die jare baie eensaam geword, omdat ek van die huis af werk en op ’n emosionele punt gekom het wat ek besef het ek móét meer uitkom,” sê Alta. Sy het ’n skootrekenaar aangeskaf en die een ná die ander koffiewinkel beproef. ’n Fundamentele probleem was dat sy vir baie jare nie koffie gedrink het nie, maar hoofsaaklik rooibostee.
“Dit voel net ’n bietjie ontoereikend om geld te betaal vir ’n teesakkie in kookwater wat ek by die huis ook maar kan geniet. Ek moes dus ’n plan maak. Vir ’n tydjie het ek ’n espresso gedrink, want ek het die swart koffie meer aanvaarbaar gevind. Dit was darem te min en sterk, dus slaan ek toe oor cappuccino toe – en toe is die gort gaar. In dié stadium leef ek met vreugde saam met ’n ligte cappu-verslawing en die kelners by my gunstelingplekke ken al my versoeke vir een wárm cappuccino en ’n glas water, asseblief!
“’n Ander probleem wat kop uitgesteek het, is dié van my jare lange wortelkoekliefde. Aanvanklik het ek streng by cappuccino gebly, maar in ’n stadium het die versoeking my oorweldig. As ek reg onthou, is my roman Opdrag van oorkant grotendeels op wortelkoek-energie geskryf. Die vervolg, Net ’n mens, het weer op hoofsaaklik cappu’s gebeur.”
Dalene de Vente is ’n deeltydse onderwyseres en skrywer. Jy sal haar dikwels in die Moot, Pretoria, in een of ander koffiewinkel sien werk. Dit is die atmosfeer en geselligheid wat haar lok, sê sy. “As ek sien hoe ander mense besig is, motiveer dit my sommer ook om hard te werk. By die huis is dit heeltemal te stil! Soms neem ek oorfone saam om na my eie, rustige musiek te luister. Saam met die reuk van koffie wat in die lug hang, daai koffie wat langs my staan en die rustige ‘geraas’ om my ontgin ek woorde wat nêrens anders ontgin sou word nie. Die geheim vir inspirasie is eintlik ’n slukkie kwaliteitkoffie.”
Dalk nie vir almal nie
Luidens ’n artikel wat in 2012 in die Journal of Consumer Research gepubliseer is, bevorder die atmosfeer in ’n koffiewinkel kreatiwiteit op maniere wat die kantoor en huis nie kan nie. Die verskeie stimuli in koffiewinkels maak van dit ’n effektiewe werkomgewing.
Die kombinasie van die geraas van koffiemasjiene, gesellige geselsies van dié wat net kom kuier en visuele verskeidenheid verskaf net die regte hoeveelheid afleiding om jou brein op sy skerpste te hou en jou kreatiwiteit te laat blom.
“Mense kom en gaan. Die daglig verander. Aromas van koffie en kos hang in die lug en verander ook gedurig,” sê Korydon Smith, skrywer van dié joernaal-artikel en ’n professor by die Buffalo-universiteit in New York. “Hoewel ons nie kies om as gevolg van dié stimuli in koffiewinkels te werk nie, is dit tog hierdie aktiwiteite wat jou brein aanpor om ánders te werk.”
Dit is natuurlik nie vir almal ewe lekker óf produktief om in koffiewinkels te werk nie. Ronel van der Merwe van Pretoria werk vir die bank-ombudsman. Die inligting waarmee sy te doen het, is uiters sensitief en daarom kan sy nie op ’n openbare netwerk inskakel nie. “Boonop kan ek net sóveel koffie drink,” sê sy. Ander sien die wegbreek na ’n koffiewinkel suiwer as ontvlugting en wil dit allermins met werkverpligtinge vereenselwig.
DEUR MARETHA BOTES
ILLUSTRASIES: LOUIS VAN DEN HEEVER