‘Die Onsigbare’: Beelde, simboliek kenmerk boek
Toe hierdie boek die dag deur die koerier by my voordeur afgegee is, het dit my drie minute geneem om intuïtief te weet ek het hier ’n besondere boek in my hand. Ek was nie verkeerd nie.
Die eerste vraag wat by my opgekom het, was, wie is PJO Jonker? ’n Vinnige speurtog het gewys op ’n splinternuwe Facebook-profiel wat sê: “PJO Jonker, verbeeldingsvlugteling van Koffiefontein. ‘Broer in fiksie’ van Philip Jonker.”
Sover ek gelees het, was daar heeltyd so ’n Etienne le Roux-rige skaduwee aan die boek, dalk ook met die verwysing na Koffiefontein op sy Facebook-blad. Die verhaal en veral die taal is aangrypend; jy voel ontroer, maar kan nie presies jou vinger lê op wát dit is wat dit so besonders maak nie – presies die gevoel wat ek vroeër jare uit Le Roux se werk gekry het.
Ons ontmoet in hierdie plaasroman die hoofkarakter Jada as skoolseun in die sewentigs. Die plaasopset, die tyd waarin dit afspeel en iets van Jada se persoonlike kwessies word al op bladsy een duidelik, sonder dat dit uitgespel hoef te word.
Dit is egter alles behalwe ’n tradisionele of tipiese plaasroman. Die stilte van die Karoo is hoorbaar tussen woorde, in die ritsel van die gras. Daar is méér aan die roman, maar dis nie dadelik sigbaar nie.
Meisiekind, die rooikat, word deur Jada gevang en grootgemaak, en half mak gemaak. ’n Rooikat in die veld luister fyn, hy beweeg sag en is ’n formidabele jagter, en word deur boere as ’n probleem beskou wat hulle skape vang. ’n Rooikat laat hom nie sommer sien nie, hy is meestal onsigbaar.
Ná ’n gesinstragedie gaan Jada voort met die boerdery. Hy is jonk, maar innoverend en word beloon daarvoor deur ’n groot toekenning. Hy moet vir die geleentheid Kaapstad toe gaan. Tog is hy baie naïef en neem swak besluite met dramatiese gevolge.
Hy boer met skape in die Karoo, aan die voet van die Swartberge. Dit was nogal ’n skok om te besef wat skaapboerdery alles behels, en die inligting is so netjies ingevleg deur die instruksies aan die werkers, veral in ’n tyd waarin Jada noodgedwonge weg van die plaas is.
Jada is ’n sout-van-die-aarde-boer wat sukkel om hom uit te druk. Hy is ’n moeilike prater, maar in sy kop kan hy liries raak. Dit is ’n lekker kontras met die staccato-agtige dagboekinskrywings wat uit enkelwoorde bestaan. Tog vertel sy enkelwoorde ’n hele verhaal; dit gee die leser ’n idee van wat in sy kop aangaan. Byvoorbeeld, wanneer hy die middag met sy bakkie die sinkplaat-grondpad plaas toe ry en die gevolge van sy keuses bedink. Daardie aand skryf hy in sy dagboek die woord: Reperkussies. Dit verwoord sy hele gedagtegang van die middag.
Hy bekeer hom vroeg in sy lewe, wat hom na die mense van Duiwelskamp neem. Daar is ironie in die feit dat Jada redding vir homself daar vind. Hy voel vry, al staan hy soos ’n seer vinger uit. Hy sukkel nie om te praat nie. Daar is hy nie Jan-Dawid Olivier van die plaas Erfdeel wat al vier geslagte daar boer nie, hy is net Jada wat vir hulle kom bid.
Die karakters is uiteenlopend en uniek. Karakters soos die werksku Luckyboy is so lewendig, ek kan my verbeel hoe hy stap met so ’n swenk in die lyf. Deur sy dialoog kry hy lewe. Elke karakter praat met sy eie stem – Anys se “heegden, Jada!” vertel haar storie en skets haar as die moederfiguur in meer as een opsig.
Die taalgebruik is uitmuntend en besondere beelde word met min woorde geskep.
Die tema van onsigbaarheid kom dwarsdeur die boek voor. Op die voorblad is ’n rooikat, maar in silhoeët, asof hy hom nie wil laat sien nie. Oor die meisie van die Kaap kan daar nie veel uitgewei word nie en dit is ’n karakter wat die leser self moet ontdek en ontbloot (as dit moontlik is).
Nog ’n tema wat besonder goed ontgin word, is stilte: Die Groot Afwesigheid, soos die mense in die Karoo dit noem.
Die skrywer maak baie gebruik van simboliek en Jada se drome en vrese. Hy het hoogtevrees en ’n vrees vir val. Die sinjale, rigtingwyser en sinjaalswenke, daardie vurke in ’n mens se pad waar jy keuses moet maak, word deur die spoorverleggings uitgebeeld.
Temas van armoede en ongelykheid word veral duidelik in sy werk by Duiwelskamp. Is Jada ’n soort reddingsfiguur, ’n verlosser? Kan hy die mense daar, die rooikat Meisiekind of die meisiekind van die Kaap red? Of word hy deur hulle gered? Die leser moet self oor baie dinge besluit, te midde van die groot stilte tussen woorde, die groot afwesigheid.
Wat is die verband tussen Meisiekind die rooikat en die rooikop-meisiekind van die Kaap met die baie name? Wie is sy en wat is haar verhouding met Jada? Is alles duidelik en sigbaar vir die leser? Helaas nie.
Hierdie roman smokkel met die leser se kop, en vra vir ’n herlees.
“Sien is nie altyd glo nie, en glo is nie sien nie.”
Die Onsigbare word uitgegee deur NB-Uitgewers. Koop dit hier.
Resensie deur Trisa Hugo.