Die VVA kyk terug op ’n suksesvolle jaar
Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, kyk met groot dankbaarheid terug op ’n suksesvolle kalenderjaar. Chareldine van der Merwe, die projekbestuurder van die VVA, sê hulle het vanjaar weer regoor die land gewerk om met hulle projekte ’n verskil in kinders se lewens te maak. Met hul vlagskipprojek, die boektrommelprojek, bevorder die VVA die leeskultuur in skole en bied aan kinders wat nog nooit voorheen aan boeke blootgestel was nie die geleentheid om daardie voorreg te beleef.
Die VVA skenk hierdie boektrommels, gevul met boeke ter waarde van R8 500, aan verdienstelike skole en goedbestuurde kleuterskole. Daar is sowat 100 boeke in elke trommel en dikwels is dit die heel eerste boeke wat sommige kinders in hulle hande hou. Chareldine vertel dat daar vanaf Februarie reeds 44 trommels versprei is en dat hulle mikpunt is om teen die einde van die finansiële boekjaar in Februarie 2023 hierdie getal na 60 trommels te vermeerder.
“Vir ons is dit baie belangrik dat kinders so vroeg as moontlik ’n liefde vir lees moet ontwikkel, maar dan moet hulle toegang tot geskikte leesboeke hê. Die kinders moet aanklank by die boeke vind en hulleself met hierdie stories kan identifiseer. Ons boeke word sorgvuldig gekies om aan hierdie behoeftes te voldoen. Kinders moet ook die voorreg geniet dat daar vir hulle voorgelees word. In elke trommel is daar lekker leesstories, maar daar is ook boeke wat aanpas by die kurrikulum. Ons is dankbaar wanneer ’n onderwyser laat weet hoe die boeke in die trommels pas by die temas in die kurrikulum,” sê Chareldine.
’n Uitvloeisel van die boektrommelprojek, wat ook vanjaar met groot sukses landwyd plaasgevind het, is die leeskonferensies wat die VVA aanbied. Die doel hiervan is om inligting te verskaf aan ouers, onderwysers en mense wat met kinders werk, wat sekere uitdagings ten opsigte van lees en die skep van ’n leeskultuur ervaar. Temas soos inklusiwiteit in die klaskamer, hoe om te maak wanneer daar 55 kinders voor jou in die klaskamer sit, die waarde van boeke, leesstatistiek en leesuitdagings word aangeraak. Daar word wenke gegee oor maniere om selflees te bevorder en ook gekyk na die belangrikheid van die kind se holistiese ontwikkeling tot op die ouderdom van 7 jaar.
“Die agterstand van die verlede is tans veel erger, want in die twee jaar sedert die Covid-19-pandemie het daar bitter min onderrig plaasgevind in die skole wat dit juis die nodigste het. Kinders in graad 7 se vlak van ontwikkeling en leesvermoë is dikwels slegs op die vlak vir graad 4. Tydens die leeskonferensies help ons onderwysers ook om sulke uitdagings raak te sien en te oorkom. Ons het ook probeer om hierdie leeskonferensies op ’n Saterdag aan te bied, sodat ons die program lekker vol kon pak. Ons wil hê mense moet huis toe gaan met iets wat hulle kan gaan toepas. Saam met al hierdie inligting wat tydens die leeskonferensies uitgedeel word, is daar ook ’n motiveringsessie, waarin ons probeer om onderwysers en versorgers gemotiveerd te hou. Hierdie leeskonferensies word landwyd in samewerking met die ATKV-takke en ander vennote aangebied, wat dit dus logisties veel makliker vir ons maak,” sê Chareldine.
Sy vertel dat dit ook vanjaar besonder lekker was om vir sommige van die donateurs wat tot die boektrommelprojek bydra, te wys hoe die geld aangewend word. Besoekers uit Nederland wat jaarliks tot die fonds bydra, is byvoorbeeld na die AbbAsorgskooltjie in Cloetesville geneem.
“Ons wou graag aan hulle wys hoe die omgewing lyk waarin die kinders moet skoolgaan. Hulle kon ook sien hoe die trommels benut word en die kinders het versies opgesê en liedjies gesing. Ons hoop om op hierdie wyse die donateurs te wys watter groot verskil hulle bydrae aan hierdie kinders se lewens maak. Hopelik lei dit dan uiteindelik tot meer mense wat sal bydra tot die boektrommelprojek,” sê Chareldine.
Die leesondersteuningsprojek van die VVA het ook vanjaar ’n groot verskil gemaak. Met hierdie projek lei die VVA mense in die gemeenskap op om kinders wat nie lees nie, te help. Dit word gedoen in samewerking met die Doen-en-Leerprogram van Dokka Swart, Nicolette van den Heever en Hannelize Upsher. Die leesondersteuningsprogram kyk op ’n holistiese wyse na vroeëkinderontwikkeling. Met hierdie projek word die kinders geëvalueer om te sien op watter vlak hulle is ten opsigte van hulle leesvermoë, maar daar word ook gefokus op dinge soos spiertonus, balans, ritme, begrip- en syfervaardighede. Enige probleme, soos gehoor- en leesprobleme, word ook op hierdie manier raakgesien en hanteer.
“Met die leesvlakprogram word kinders se begrip en spoed bepaal en dan word leestegnieke toegepas om dit te verbeter. Dit word op ’n grafiek geplaas sodat die kinders self kan sien hoe hulle vorder. In Ceres was daar byvoorbeeld ’n graad 7-seun met ’n hele paar leesuitdagings. Ons het met hom begin werk en toe ons sy leesvlak moes bepaal, was hy geweldig bang en senuagtig, maar ons het hom gerusgestel en aan hom gesê ons is net daar om hom te ondersteun. Die oomblik toe hy die paragraaf klaar gelees het, het hy letterlik in trane uitgebars in dankbaarheid oor hy dit kon regkry. Dit is hoendervleisoomblikke soos daardie wat vir ons sê dat dit wat ons doen, wel ’n verskil maak,” sê Chareldine.
’n Ander baie suksesvolle projek van die VVA is die jaarlikse Koop-’n-Afrikaanse-boekdag op 14 Augustus. Hierdie dag bied ’n wonderlike inspuiting vir die Afrikaanse boekemark, want sekere uitgewers en boekwinkels bied dan afslag aan op sekere Afrikaanse boeke. Omdat dit vanjaar op ’n Sondag geval het, was daar winkels en uitgewers wat die afslag oor ’n paar dae versprei het – op hierdie manier kon mense nog ’n groter winskoop kry. Die terugvoer wat die VVA oor die Koop-’n-Afrikaanse-boekdag gekry het, was besonder positief, ten spyte van die uitdagende ekonomiese tye waarin ons leef.
Chareldine sê dat die VVA aan die einde van 2022 terugkyk op ’n besonder geseënde jaar. “Ons grootste uitdaging vanjaar was om by almal wat ons gekontak het, uit te kom. Die behoefte is enorm groot. Daar was ’n tyd toe ons omtrent ’n volle maand op die pad was. Met meer hande en meer geld sal ons soveel meer kan doen, maar intussen probeer ons om almal wat ons gekontak het, te help. Die VVA het ook in hierdie jaar bewus geword van die groterwordende behoefte aan hulp vanuit die ouergemeenskap. Daar moet beslis in die toekoms meer aandag hieraan geskenk word. Ons sluit hierdie finansiële boekjaar in Februariemaand af met die Johan Combrink-gedenklesing. Dit is altyd ’n hoogtepunt. Dan begin ons reeds ons planne in plek kry vir die 30-jarige feesvieringe wat in Februarie 2024 voorlê. Eindelik bly ons grootste doelwit beslis maar om ’n verskil in kinders se lewens te maak. Jy kan immers nie ’n kind in die wêreld instuur wat nie kan lees nie.”