Dieretuin-besoek ‘lekkerste ervaring nóg’

Tracey van Wyk van die ATKV-tak Kosmosrand in Secunda se besoeke aan die Johannesburg-dieretuin as kind het so ’n blywende indruk gelaat dat sy nou seker maak dié voorreg is ook ander kinders beskore.
“Ek het die begeerte om kinders bloot te stel aan die dinge in die lewe wat hulle andersins nooit sal beleef nie en daarom het ons besluit om die kinders van die Janelle Huis, ’n plek van veilige bewaring vir kinders in Evander, en die Secunda Kinder- en Jeugsorgsentrum dieretuin toe te vat,” vertel Tracey, voorsitter van dié besige tak in Mpumalanga.
“Te danke aan ’n borgskap kon ons ’n bussie vol opgewonde kinders na die Emerald Casino in Vanderbijlpark se dieretuin neem en hul wêreld verbreed.”
Die besoek was een vir die boeke.
“Die kinders was so opgewonde en om hul reaksie te sien toe hulle die wilde diere gewaar, was vir ons die grootste beloning.
“Hulle het gegil, gelag, gespring en hande geklap van opgewondenheid. Die kleiner maats het eers agter die grootmense weggekruip om seker te maak die diere is wel in hokke en dat hulle nie leeukos sal word nie.”
Dis nou al twee maande sedert die besoek, maar Tracey sê die kinders kan steeds nie uitgepraat raak oor die dieretuin nie.
“Party sê dis die lekkerste ervaring wat hulle nóg gehad het. Van die kinders kon die eerste keer diere beleef wat hulle nog net in boeke en op televisie gesien het.”
Die ATKV-tak Kosmosrand se uitreik na die kinders het nie net by ’n besoek aan die dieretuin gebly nie.
“Ons het sulke spesiale foto’s geneem met die uitstappie na die dieretuin. Die foto’s het daartoe gelei dat een van die meisietjies gevra het of sy ’n foto kan kry van haar oorlede mamma. Ons het toe besluit om vir elke kind vir Kersfees ’n foto-album te gee.
“Daar is ’n fotosessie saam met die kinders gedoen. Ons het byvoorbeeld boeties en sussies saam afgeneem. Ons wil hê die kinders moet tasbare herinneringe hê. Hul reaksie was oorweldigend en ons sal die foto’s met tyd aanvul.”
Van die kinders het ook nog nooit fietsgery nie. Tracey en die taklede het uit die gemeenskap ’n paar fietse gekry en toe vir hulle ’n fietswedren gehou.
“Vir 20 minute kon elke kind met die hulp van ’n helper ’n bietjie fietsry. Ons het vir elkeen ook ’n medalje gegee – dít was natuurlik vir hulle ’n hoogtepunt.”
Die tak gee ook deurlopend vir die kinders van die tehuis ’n trooskombersie waarop die kind se naam geborduur is. “Iets wat net aan hulle behoort.
“Ons is opgewonde op die jaar wat wag, ons wil ’n verskil maak.”