DigiPraat rus leerders toe met selfvertroue, kritiese denke
Om vlugtig op jou voete te kan dink, met sekerheid en selfvertroue jou sê te kan sê en enige konflik situasie met kalmte te kan ontlont, is ’n waardevolle vaardigheid wat jou ver in die lewe sal bring.
ATKV-DigiPraat is die ideale platform vir leerders om dié talent van hulle te ontwikkel en om die vermoë aan te leer om krities te kan dink.
“Redevoering verg van kinders om op ’n hoër kognitiewe vlak waar te neem en te redeneer. Redenering verg kreatiewe strukturering en organisering. ATKV-DigiPraat is dus die ideale geleentheid vir kinders om nuwe vaardighede aan te leer wat hulle ’n voorsprong bo ander kinders sal gee,” sê Melanie Marais, projekorganiseerder.
Melanie sê dié projek sal ook vir leerders die nodige gereedskap gee om hulle kritieke denkvermoëns te verbeter.
“Leerders sal uitgedaag word om analitiese navorsing te doen, gebalanseerd te argumenteer, ondersoekend te wees en op hulle voete te dink.
“Kommunikasievermoë word ook verbeter. Dít is op ’n persoonlike en professionele vlak van kardinale belang.”
ATKV-DigiPraat kan ook help om leerders se selfvertroue die hoogte te laat inskiet.
“Redenering en kritiese denke help leerders met konflikhantering. Dit help hulle om op ’n kalm en positiewe manier ’n konfliksituasie te hanteer wat weer hulle selfvertroue en selfbeeld versterk.”
Die beste van als? Jy kan vanuit die gemak van jou eie huis aan dié kompetisie deelneem.
ATKV-DigiPraat vereis van leerders om met ’n video-opname ’n toespraak waarin hulle inlig, motiveer, vermaak of redeneer op te neem en aan die ATKV te stuur.
Volgens Melanie is daar geen tema nie en deelnemers kan hul eie onderwerpe kies.
“Leerders kry die geleentheid om kreatief te kan besluit waaroor hulle passievol is en aan die hand van dit ’n toespraak aanmekaar te slaan en te lewer.”
Daar is vier soorte toesprake wat leerders kan lewer, naamlik ’n inligtingstoespraak, oorredingstoespraak, motiveringstoespraak en ’n vermaaklikheidstoespraak.
ATKV-Redenaars vereis ’n inskrywing van die skool waarin deelnemende leerders is. Met ATKV-DigiPraat is almal (Afrikaans Huistaal- en Afrikaans Addisionele Taal-leerders) welkom om deel te neem en sommer self in te skryf.
Alle inskrywings sluit op 30 Augustus 2024. Vir meer inligting, kontak Melanie Marais by 011 919 9015 of per e-pos by melaniem@atkv.org.za.
Die ATKV-DigiPraat-deelnemersgids is hier beskikbaar.