Dino-kindertoneel spreek boekdele
Linette Retief vertel hoe ’n toneelstuk vir die jongspan háár ook onlangs uitgeboul het.
Enigiemand wat dink dinosourusse is iets van die oerverlede, het beslis nog nie ATKV-Kinderteater se Dinosourusse kan nie lees nie gesien nie. Van teaters en kunstefeeste tot skole regoor die land betower Dino, die dierbare dinosourus, en haar maats steeds gehore met alles van kammakatastrofes tot leeslesse. Ek het die voorreg gehad om vir Dino by die Centurion-teater te leer ken. Daar het sy, saam met haar medekarakters, Emmie en oupa Bas, my in ’n oogwink meer as vyf dekades teruggevoer na die wonderjare by die Laerskool Totius, toe die destydse Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) ons elke jaar kom vermaak het met toonkrullekker toneelstukkies vol oordrewe karakters en opwindende katastrofes.
Wat my veral van hierdie juweel opgeval en beïndruk het, is die naatlose integrasie van die soort tydlose towerkrag van teater wat ek as kind beleef het en die aanspreek van uitdagings wat in my jeug – toe ons nog nie eens TV gehad het nie! – eenvoudig ondenkbaar was.
Maar kom ons begin by die tydlose towerkrag. Dinosourusse kan nie lees nie is steeds propvol van dieselfde goue-oue antisipasie wanneer die ligte verdoof, die dekor duidelik word en die eerste karakter verskyn. Daar is steeds kleurvolle kreature en lekker loslitliedjies. Daar is spanning wat jou laat vergeet om asem te haal en dieselfde magiese meelewing wat die produksie verhef van ’n blote kinderkonsert tot ’n onvergeetlike verbeeldingsvlug.
En dan is daar die “nuwe” les wat deur elke skaterlag, asemsnak en avontuur geweef word: Lees is baie belangrik en baie lekker. Terwyl my generasie ons in Kruik se kaskenades verkneukel het in ’n era toe ’n tweeweeklikse biblioteekbesoek so standaard was soos huisgodsdiens, is Dinosourusse se doel om vandag se kinders bewus te maak van die waarde van boeke en lees. Dit is ’n toets wat dié dino-drama met vlieënde vaandels slaag.
Dit is nie die enigste pluspunt nie. Linda Hartzell, bestuurder van die Seattle Children’s Theatre, wys daarop dat toneelstukke kinders se verbeelding ’n enorme hupstoot gee en ook hul aandagspan verbeter. “Aanvanklik voel dit dalk nie vir hulle natuurlik om in ’n donker vertrek te sit nie, maar dit is juis hoekom dit belangrik is,” verduidelik Hartzell. Dit is natuurlik ’n voordeel wat nie te versmaai is nie in ’n wêreld waar kinders elke drie tot vier sekondes ’n nuwe beeld op ’n TV, iPad, PlayStation, XBox of rekenaarskerm te siene kan kry. Die doeltreffendheid waarmee Dinosourusse hierdie doelwit bereik het, het duidelik geblyk uit die wydoog-wonder waarmee die gehoor die driestuks se avonture van die eerste oomblik tot die laaste applous meegemaak het.
Toe ek ná die tyd uitstap, het dit my opgeval dat nie ’n enkele mens, groot of klein, se gesig sonder ’n glimlag was nie. Ek hoop die rede vir dié vreugde was nie net die pure pret van die produksie nie, maar die waarde van die onderliggende lesse. Beide, glo ek, is geskenke wat gaan aanhou gee.
Lank lewe kinderteater! Lank lewe Dinosourusse kan nie lees nie! Lank lewe BOEKE! En lank lewe LEES!
Skole of ander organisasies wat graag wil hê Dinosourusse kan nie lees nie moet in 2024 by hulle opgevoer word, kan gerus ’n e-pos aan Christie Swanepoel by christies@atkv.org.za stuur.