Dino-verhoogstuk bevorder leesliefde deur teater
Wat het dinosourusse, ’n ouma en jou kind se leesvermoë met mekaar uit te waai? Alles! Emmie en haar vreemde Ouma Bassie het ’n reuseprobleem! Wat maak ’n mens met ’n dinosourus in jou slaapkamer? En hoe kry jy daardie dinosourus weer terug by sy huis?
Dinosourusse kan nie lees nie is ’n prettige verhoogstuk wat ontwikkel is met die doel om leesbevordering deur middel van kinderteater aan te help. Die teks en lirieke is geskryf deur die bekende teatermaker en aktrise, Ilne Fourie, en word in samewerking met die ATKV aangebied. Met kleurvolle karakters en lekker loslitliedjies neem die stuk oud en jonk op ’n verbeeldingsvlug. Boonop is dit interaktief en kreatief.
Jané de Wet, voorsitter van die ATKV-tak Voluit in Afrikaans, sê, “Ons het besluit om die projek aan te pak nadat ons Suid-Oos-Kaapse streeksbestuurder my vertel het van die nuwe landswye leesprojek wat hulle wil loods. Lees was nog altyd vir my een van die belangrikste boustene van ontwikkeling en onderrig en ek was op kleiner skaal betrokke by leesprojekte in my gemeenskap. So, toe die geleentheid om meer direk betrokke te wees by leesontwikkelingsprojekte opduik, moes ek eenvoudig net inspring – die ATKV se leuse is immers #weesdieverskil.” Jané dra sommer vele hoede vir hierdie spesifieke projek en is onder meer die projekbestuurder, stelbouer, regisseur én een van die akteurs.
Leesmotivering is die sleutel
Volgens navorsing wat gedoen is deur Nandi Lessing-Venter van die departement Kommunikasiekunde aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie en Maritha Snyman, navorsingsgenoot in die departement Inligtingkunde aan Unisa, bestaan daar in Suid-Afrika die behoefte om ’n omgewing te skep waar kinders voortdurend gemotiveer word om te lees. Daar is vasgestel dat lees vir genot dikwels die vermiste element in geletterdheidsontwikkeling is. Daarbenewens is lees met begrip en vlotheid ’n ernstige probleem by Suid-Afrikaanse leerders. Volgens Nandi en Maritha geniet kinders die leesproses en versterk dit hulle vertroue in hul vermoëns om te lees wanneer hulle gemotiveerd is om te lees. Só ontwikkel kinders intrinsieke leesmotivering en lees hulle met geesdrif en nuuskierigheid. Nandi en Maritha sê lees is veel meer as bloot net ’n kognitiewe proses. Die affektiewe komponent van leesmotivering is ewe belangrik.
Volgens Jané is die hoofdoel van Dinosourusse kan nie lees nie juis dít: om leesbevordering en -ontwikkeling by kinders te kweek. “Kinders is grotendeels visuele leerders en met kinderteater word die wonderwêreld van woorde gekombineer met sang, dans en teater. Die idee hieragter is om op ’n informele wyse die voordele en lekker van lees aan kinders ten toon te stel – soos een van die lirieke in die stuk lui, ‘as jy lees, kan jy enige plek in die wêreld wees’.
“Die stuk leer kinders verder dat hulle hul boeke moet oppas en byvoorbeeld nooit die blaaie moet omvou, met nat hande aan boeke vat nie en dies meer,” sê sy. Sy sê die doel van die projek is nie net om kinders aan die wonderwêreld van lees bloot te stel nie, maar ook om ’n nuuskierigheid te kweek vir die wêreld en vir vrae vra. Tog is die projek veel meer as net ’n teaterproduksie. “Daarmee saam wil ons ook graag ’n leeskultuur onder die jonges aanwakker. Met die projek gaan ons ook poog om skole by te staan met hulle leesprogramme. Dit gaan oor volhoubare ontwikkeling,” sê Jané.
“Die ATKV fokus deurlopend op projekte wat voordelig is vir die taal, kunste, onderwys en, die belangrikste van alles, tot voordeel van die gemeenskap is. ’n Projek soos Dinosourusse kan nie lees nie kombineer die fokuspunte deur die kinders van die gemeenskap op te voed deur middel van die kunste.”
Die teaterproduksie het in September en Oktober gepoog om by soveel skole moontlik uit te kom. Daar word beoog om die projek op ’n nasionale vlak met ’n toneelgeselskap in elke streek te loods. Op hierdie wyse word ATKV-takke betrek en kan meer skole en meer “leeskierige” (nuuskierige en leesgierige) leerders bereik word.
Jané sê, “Samewerking is die sleutel tot sukses en die teaterproduksie het in September en Oktober skole in samewerking met die Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, besoek. Tydens hierdie skoletoer is leerders van skole wat deur streeksbestuurders en die VVA geïdentifiseer is nie net bederf met wonderlike boektrommels om onderwysers en skoolbiblioteke te ondersteun nie, maar ook met ’n topgehalte kinderteaterproduksie.
“In September het ons skole in die Oos-Kaap besoek en in Oktober was dit Gauteng se beurt. Die kinders se entoesiasme en interaksie met die akteurs was ongelooflik! Ons is vol vertroue dat laerskoolkinders landswyd een van die dae almal kliphard saam gaan sing: ‘Boeke is vriende wat mooi stories vertel, hulle is altyd daar, hulle is ons beste pêl!’”