'Doen dit net' – Andante-wenner
Die algehele wenner van die Andante Plus50-musiekkompetisie is op 4 November tydens die PLUS 50-kuierweek se gala-aand by ATKV-Buffelspoort aangewys.
Die musikant Cor Uys, ’n jare lange vennoot van die ATKV, het in samewerking met ATKV-Buffelspoort en die PLUS 50-tydskrif die kompetisie aangebied. Dit was oop vir alle senior burgers van 50 jaar en ouer, buiten professionele en voltydse kunstenaars wat steeds as musikante bedrywig is.
Waar hulle aanvanklik tussen 50 en 60 inskrywings verwag het, het hulle nagenoeg 200 inskrywings ontvang waarvan 76 nuwe komposisies was.
Lientjie Sothmann (56) het met haar eie komposisie gewen. Sy het die liedjie tydens die geleentheid saam met haar neef, Izak de Villiers (56) – soos sy, ook van Pretoria – gesing. Dié twee het in hul grootwordjare op familiebyeenkomste en -verjaarsdae gesing. Lientjie was voorheen in die onderwys en bedryf die afgelope 20 jaar haar eie sangskool, terwyl Izak in die IT-bedryf werk.
Lientjie sê sy het eintlik eers later in haar lewe met musiek begin.
“Ek het op universiteit in die koor gesing en ’n wonderlike mentor, dr. Ernst Conradie, gehad. Ek het onder sy leiding my graad 7-klaviereksamen voltooi – dit is waar die musiekgogga my behoorlik gebyt het,” verduidelik sy.
“Ek het ná universiteit die onderwys betree en in Riebeeckstad skoolgehou waar ek klasmusiek en Afrikaans aangebied het. Later, toe ek Pretoria toe trek, het ek aanhou skoolhou en ook buitemuurse sanglesse begin gee, bloot omdat daar soveel aanvraag was. Ek was nie formeel as sanger opgelei nie, maar het mettertyd opleiding by afrigters soos Ina Wiegand, Ona Ackerman en Christopher Vale ontvang.
“Ek het rondom 2004 begin liedjies skryf en danksy die aanmoediging van een van my ouers my eerste lied, ‘Jou verhaal’, vir die ATKV-Crescendo-kompetisie ingeskryf. Ek is as een van die toptienfinaliste gekies en het ’n werkswinkel by ATKV-Klein-Kariba bygewoon, waar my lied later deur Karin Hougaard opgeneem is.
“Hoewel dit die begin van iets groter kon wees, het ek dit nie verder nagestreef nie. Ek het aanhou liedjies skryf – meestal vir ander groepe, jong sangers en projekte in verskillende genres. Dis vir my wonderlik om terug te kyk en te besef hoe baie ek deur daardie ervaringe geleer het, selfs al het ek dit nooit as beroep beoefen nie.”
Lientjie sê sy en Izak het die lied “Sterrenagkombers” uitgevoer – ’n oorspronklike lied wat sy spesiaal vir die kompetisie geskryf het.
“Ek het aanvanklik nie ’n Afrikaanse lied gehad nie, toe besluit ek om iets nuuts te skryf.
“Ek sou dit solo sing, want ek het gedink dit gaan net ’n opname wees. Maar toe ek begin skryf, het ek onthou hoe lekker ek en Izak altyd saam gesing het en toe vra ek hom om saam met my te sing. Nadat die lied klaar was, het ons sommer gou die harmoniese dele uitgewerk, en só het dit begin!
“Ons het aanvanklik afsonderlik geoefen en selfs afsonderlik opgeneem. Ettienne Lane het die verwerking en meng van die stemme gedoen en ek het die opname ingestuur. Eers toe ons as finaliste aangekondig is, het ons besef: ‘Nou gaan ons dit regtig op ’n verhoog moet sing!’
“Ons het toe so drie oefensessies ingewerk voor die finaal, al was ons albei ongelooflik besig. Dis hoe ons voorberei het – met min tyd, maar baie entoesiasme.”
Op die vraag oor hoe sy daaroor voel om in ’n kategorie spesifiek vir mense bo 50 mee te ding en watter unieke perspektiewe of voordele sy dink volwasse musikante na hul optredes bring, antwoord Lientjie: “Ek dink baie mense het vreemd gekyk na die 50-plus-kategorie, maar ek glo nie 50 is oud nie – jy word net beter. Daar is ongelooflik baie talentvolle mense bo 50 en dit is lekker om in ’n ruimte mee te ding waar almal in dieselfde lewensfase is.
“Ek dink dit is goed dat daar plek is vir volwasse musikante. Ons bring ervaring, diepte en ’n ander soort energie. ’n Samelewing bestaan immers uit alle ouderdomme en musiek moet dit weerspieël.”
Lientjie verduidelik kortliks haar musikale doelwitte en aspirasies ná die oorwinning en of sy en Izak beplan om voort te gaan om mee te ding of op te tree.
“Ons gaan beslis nie hier stop nie. Dit was aanvanklik net vir die lekker, maar die ervaring het nuwe idees en drome in ons wakker gemaak. Ons het besef ons stemme pas goed bymekaar en dat daar iets besonders in ons samewerking is.
“Nou wil ons verder daarop bou – nuwe liedjies skryf, dalk ’n paar enkelsnitte uitreik en op die Afrikaanse mark fokus. Dis vir ons net die begin van iets opwindends.”
Lientjie het ’n spesiale boodskap wat sy graag met ander mense bo 50 wil deel wat dalk huiwerig is om hul musikale drome na te jaag of aan kompetisies deel te neem.
“Jy kan niks verloor nie,” sê sy met oortuiging.
“Baie van ons het gesê ons sou nooit weer ’n pen of ’n kitaar opgetel het as dit nie vir hierdie kompetisie was nie. Dis ongelooflik om te sien hoe mense weer begin skryf, musiek speel en droom.
“Die samelewing druk jou soms opsy omdat jy nie meer trendy is nie, maar hierdie kompetisie gee vir mense bo 50 weer ’n kans. Die grootste beloning is nie om te wen nie – dis om iets te skep, om trots te wees op wat jy gemaak het. Ek sal dit vir enigeen aanbeveel. Doen dit net. Jy het niks om te verloor nie.”
Besoek die ATKV-webwerf om op die hoogte te bly van nuus oor die Andante Plus50-musiekkompetisie 2026.