Doen en Leer-program maak ’n verskil
Kofi Annan, ’n voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies het op ’n keer gesê: “Geletterdheid is die brug van ellende na hoop.” Geletterdheid beteken jy moet kan lees en skryf. Lees is beslis die belangrikste vaardigheid wat ’n kind op skool moet bemeester, want jy sal nie kan leer indien jy nie kan lees nie. Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, fokus op leesbevordering en maniere om ’n liefde vir lees vanaf ’n jong ouderdom by kinders te kweek. Om dít reg te kry, versprei die VVA ongeveer 60 boektrommels per jaar aan goedbestuurde, geregistreerde kleuterskole en graad R-klasse regoor die land. So maak hulle seker kinders word vroeg reeds aan goeie en geskikte boeke blootgestel.
Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by die VVA, sê hulle het in 2013 ’n demonstrasie van die Doen en Leer-program bygewoon en was dadelik beïndruk. Doen en Leer is ’n holistiese lees-, wiskunde- en leerondersteuningsprogram wat kinders speel-speel leer op fisiese, emosionele en kognitiewe vlak. Doen en Leer span visuele, ouditiewe en kinestetiese metodes in om van leer pret te maak.
“Met dié dat die VVA tans in skole landwyd werk, het ons onder die indruk gekom van al die uitdagings wat daar rondom lees is. Daar is baie leerders van graad R tot graad 3 wat nie voldoen aan die vereiste leesgeletterdheidstandaard vir hulle graad nie. Die probleem strek eintlik veel verder, soms tot in graad 12. Die VVA het besluit om betrokke te raak by die verspreiding van die Doen en Leer-program, en ons is dankbaar om te kan getuig van positiewe resultate waar ons ook al gaan,” sê Chareldine.
Dokka Swart is ten nouste betrokke by Doen en Leer saam met haar vennote Nicolette van den Heever en Hannelize Upsher. Sy vertel dat sy dr. Rose Botha, ’n oudonderwyseres wat hierdie program ontwikkel het, meer as twintig jaar gelede vir die eerste keer ontmoet het. “Saam met Tina van Eeden het ek en dr. Botha Doen en Leer ontwikkel in ’n bemarkbare produk wat werklikwaar ’n reuseverskil in baie kinders se lewens maak. Die program fokus daarop om kinders woordjie vir woordjie, met prentjies en aksies te leer lees. Dit gaan oor die konnotasie wat kinders maak om die woorde vas te lê en ook om selfvertroue te bou. Ons doen aktiwiteite en speletjies om seker te maak die leerders verstaan die woord voordat hulle sinne bou. Dit klink dalk eenvoudig, maar dit werk,” sê sy.
Yolanda Hansby is ’n graad 2-onderwyseres by Watsonia Primêr in Kraaifontein. Een van haar leerders het op die ouderdom van twee jaar en elf maande Bell se verlamming gekry. Alhoewel sy groot en fyn motoriese ontwikkeling ondergemiddeld was, is sy spraak baie goed, eintlik ver bo gemiddeld. Met ’n demonstrasie van die Doen en Leer-program by Watsonia Primêr kon elke onderwyser ’n leerder identifiseer wat gebruik kon word om die resultate van die program te demonstreer. “Ek het besluit om hierdie seuntjie te kies. Dit was verstommend hoe goed hy dit reggekry het en toe ek ná afloop van die demonstrasie na sy ma stap waar sy vir hom gewag het, kon ek my trane nie keer nie. Die ma het net so gehuil toe ek haar vertel het dat haar seuntjie kon lees. Hy is nou so entoesiasties en probeer sommer van sy klasmaats help, wat ook sukkel om te lees,” sê Yolanda.
Uiteindelik bring hierdie program soveel hoop aan baie kinders wat voorheen nie kon lees nie. Afgesien daarvan dat nuwe wêrelde vir hulle oopgaan omdat hulle ook in staat is om te kan lees, doen dit besonder baie vir ’n kind se selfbeeld.
Chareldine vertel van ’n insident by St. Ives Primêre skool in Eldorado Park. Die een graad 5-seun is gevra om ná skool agter te bly sodat hulle met hom kon werk. Die seun het by die deur van die klaskamer vasgesteek en gesê hy sal nie kan bly nie, want die taxi sal nie vir hom wag nie. Hierdie seun is ’n immigrant uit een van die Afrikalande, maar is in ’n skool geplaas waar hy Afrikaans as ’n vak moes neem. Dié dag het Chareldine hom gerusgestel en gesê hy gaan net ’n kort rukkie besig wees, hulle sal wel sorg dat hy vervoer huis toe kry.
“Die seuntjie wat aanvanklik vreesbevange was, het merkbaar verander toe hy dit kon regkry om deur middel van Doen en Leer se metodes woorde te lees. Sy oë het vol selfvertroue geblink en hy was só trots! Toe ons klaar was, het hy weer ’n keer in die deur vasgesteek. “Kan ons môre hierdie weer doen?” het hy gevra. Om die verskil in een kind se lewe te sien, maak ’n mens só dankbaar. Dit is beslis die kersie op die koek wat my werk betref. Dan besef ’n mens wat jy doen is waardevol en jy kan ’n verskil maak in ’n wêreld vol uitdagings,” sê Chareldine.