‘Doldraaiers’ vier Afrikaans, bou woordeskat

Afrikaans het al vir meer as ’n eeu lank ’n spesiale plek in die harte van Suid-Afrikaners. Alhoewel hierdie merkwaardige hartstaal veel ouer as 100 jaar is, het dit op 8 Mei 1925 amptelike status in Suid-Afrika verkry.
Die ATKV is trots daarop om die Afrikaanse taal en kultuur al vir 95 van Afrikaans se 100 amptelike jare te bevorder en loods op die dag van Afrikaans se eeuviering as amptelike taal ’n splinternuwe projek – Die doldraaiers.
Hierdie situasiekomedie is ’n allegaartjie van vreemde en nuwe woorde.
Wat beteken daardie woord?
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, sê dis belangrik om Afrikaans oop te breek en uit te pak.
“Taal is ’n rooi granaat wat oopgebreek kan word en elke keer ontdek ’n mens iets nuuts. ’n Mens hoor vreemde woorde en weet nie wat dit beteken nie. Wat is dan nou beter as om in die toekoms van Afrikaans te belê met dié fantastiese projek?”
Die Binnelanders-aktrise Cindy Swanepoel borrel, nes haar karakter Mercia, oor hierdie projek.
“Ons het probeer om ’n kreatiewe manier te vind om dié woorde aan mense voor te stel – woorde wat hulle dalk nog nooit gehoor het nie of woorde wat hulle dalk al gehoor het, maar van vergeet het. Afrikaans is net so veelsydig en interessant.”
Anél Wood, wat Mercia se suster in Die doldraaiers vertolk, is dit met haar eens.
“Ons wil wys hoe vreemde Afrikaanse woorde in alledaagse situasies gebruik kan word. Dit het ons reggekry deur ’n sitkom te skep waarin karakters in die 1980’s in ’n pragtige huis leef. Wat hulle anders maak, is die vreemde woorde in hul woordeskat.”
Die poppe gaan dans
In Die doldraaiers sal jy vier karakters ontmoet. Mercia (Cindy) is ’n kleurvolle, wulpse, energieke karakter wat die hele boel omskop wanneer sy by haar suster, Fransonette (Anél), intrek.
Fransonette is ’n saai huisvrou wie se man nie te lank terug nie dood is en sy probeer net oorleef.
Dan is daar die buurman Jorrie (Botha Enslin), ’n aangename knaap; behulpsaam, plat op die aarde en heeltemal onbewus van wat om hom aangaan.
Voeg daarby tannie Irma (ook Botha), wat haar elmboog hopeloos te hoog lig.
Met Mercia se aankoms begin die poppe dans, want dié twee susters begin baklei vir Jorrie se aandag.
“Elke episode van ongeveer drie minute lank eindig op ’n naelbytwyse en aan die einde van die ses episodes sal dié klimakse verduidelik word,” sê Cindy.
Volgens Anél het hulle konteks, suggestie en herhaling ingespan om die woorde aan die kyker te verduidelik.
“Met konteks hoor iemand ’n woord en verstaan dadelik wat dit beteken. Met suggestie span ons handgebare in om te verduidelik wat die woord beteken en met herhaling sal een karakter die nuwe, vreemde woord gebruik en die ander karakter in die dialoog ’n verduideliking gee.”
Oud en jonk kan saam kyk
Saam met Cindy en Anél het die fotograaf André Badenhorst en videograaf Alan Sayers ure bestee om lewe aan die projek te gee.
Anél kan nie uitgepraat raak oor hul samewerking nie.
“André en Alan is ongelooflike kunstenaars in eie reg. Hulle handhaaf ’n hoë standaard en het diep respek vir hul kunsvorms. Teen die tyd wat ons by die ateljee opdaag, kan ons net verder inkleur aan hul ongelooflike beligting, stel en groot kennis.”
Die stel is noemenswaardig. Monja Ras en haar man, Reinhardt, van Raven Manufacturing het ’n tamaai sitkamer, kombuis en motorhuis gebou.
“Ons het almal lekker saamgespeel. Ons was ’n span met geen ego’s nie. Ons het alles bespreek en saam besluite geneem. Ons het verskillende dinge probeer en dan kom daar iets uit wat almal laat oe en aa, laat lag en opgewonde maak. Ons is vol vertroue en hoop dat ander mense ook ons werk sal geniet,” sê Anél.
Cindy hoop dat hierdie ’n vermaaklike manier word vir mense om nuwe woorde in Afrikaans te leer.
“Ek hoop dis vir mense lekker om hierna te kyk. Dit is vir jonk en oud. Dis iets wat die kinders saam met hul ouers kan kyk en hopelik sal dit mense ook saam kan laat lag. Ek hoop dat ons later nog episodes kan maak.”
Moenie die kakofonie van kleurvolle karakters en humor misloop wat selfs die grootste senuwee-orrel sal laat glimlag nie!
Vanaf 8 Mei word daar elke Donderdag ’n nuwe episode van Die doldraaiers op die ATKV se sosialemediablaaie vrygestel. Lys vyf Afrikaanse woorde wat nie algemeen gebruik word nie in die kommentaarafdeling en staan die kans om ’n midweek-wegbreek by ’n ATKV-oord los te slaan! Volg die ATKV se blaaie op Facebook en Instagram om deel te neem.