Dreunend dapper talent bekroon tydens ATKV-Tienertoneelfinaal

Danksy dreunend dapper tieners wat met hul passie die verhoog aan die brand gespeel het, moes ’n swaargewigpaneel van beoordelaars behoorlik kopkrap om die wenners van die gewilde ATKV-Tienertoneelkompetisie aan te wys.
Niemand anders nie as die Hoërskool Parel Vallei met mAaNmAaTs het daarin geslaag om die beoordelaars met puik spel te oorrompel en is as die nasionale wenner aangewys.
Die Hoërskool Jan van Riebeeck met Wat die water weet het hulself net so goed van hul taak gekwyt en ’n tweede plek behaal.
Helpmekaar Kollege met ’n Einde is as die derdeplekwenner aangewys.
Die finaal van dié geliefde kompetisie het van 5 tot 8 Oktober in die Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind. Die beste jong toneeltalent is tydens ’n spogprysuitdeling op 8 Oktober aangewys.
Rooksein en Droomsindroom het die gehoor vermaak en die akteur en komediant, Solomon Cupido, was die pittige seremoniemeester by die geleentheid.
Die beoordelaars, Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, Pietie Beyers, Marijda Kamper, Zenobia Kloppers en Wilhelm van der Walt was dit eens dat die top 12-produksies kreatiewe baanbrekerswerk gedoen het en dat die toekoms van die teater met súlke talent en innovasie kerngesond is
Meer as 3000 dreunend dapper tieners van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem en die topproduksies is na die nasionale finaal genooi – dit sluit die top 2-produksies in wat in die slegs-leerderskategorie meeding. In dié unieke kategorie is slegs leerders betrokke by al die aspekte van teatermaak.
Die beste slegs-leerdersproduksie tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal 2022 is die Hoërskool Zwartkop met Oberon.
Hier volg ’n volledige lys van wenners tydens ATKV-Tienertoneel se 2022 nasionale finaal:

Die beste verhoogbestuurder is: CHRISTINE COCKETT van die HOËRSKOOL PAREL VALLEI met MAANMAATS.

Die beste klankoperateur is: NEL ROHLAND van die HOËRSKOOL TYGERBERG met DIE WÊRELD IS ONS WONING NIE.

Die beste beligtingsoperateur is: MEGAN PAYNE van die HELPMEKAAR KOLLEGE met ’N EINDE.

Die beste hantering van tegniese aspekte word toegeken aan: die HOËRSKOOL ELDORAIGNE met SAD GIRL MUSIEK.

Die prys vir die mees belowende spel in ’n rol behoort aan: CAYLEE RAY van die HOËRSKOOL JAN VAN RIEBEECK as JANA in WAT DIE WATER WEET.

Die beste akteur in ’n ondersteunende rol is: DADE JASON van die HOËRSKOOL TYGERBERG as ‘TIGER’ ABRAHAMS in DIE WÊRELD IS ONS WONING NIE.

Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol is: CORRINE-MARIE VAN HOOGDALEM van die HOËRSKOOL NOORDHEUWEL as MA in NA ’N ANDER AARDE.
VANJAAR HET ONS TWEE BESTE AKTEURS IN ’N HOOFROL: PAUL STRYDOM van die HOËRSKOOL PAREL VALLEI as PAUL in MAANMAATS en VIAN SINGLETON van die HELPMEKAAR KOLLEGE as BENJAMIN in ’N EINDE.

Die beste aktrise in ’n hoofrol is: ZONIKA DE VRIES van die HELPMEKAAR KOLLEGE as AMY in ’N EINDE.

Die beste ensemblewerk is toegeken aan: HOËRSKOOL PAREL VALLEI met die produksie MAANMAATS.

Die beste regisseur is: DARRYL SPIJKERS van die HOËRSKOOL PAREL VALLEI met DIE SUSTERSKAP.

Die beste media-en-bemarkingsportefeulje tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir 2022, wat ook ’n kontantprys van R5 000 ontvang, word toegeken aan Hoërskool Parel Vallei vir uitnemende en volgehoue bemarking van die produksies 5678, (kant)LYNSTAAN, DIE SUSTERSKAP en MAANMAATS.
Die beste nuutgeskrewe teks tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir 2022, wat ook ’n kontantprys van R5 000 ontvang, is ook aangewys tydens hierdie spoggeleentheid.
Alle nuutgeskrewe tekste van 2022 is na afloop van die seisoen deur beoordelaars Wim Vorster en Mari Molefe van Heerden gefynkam om hierdie waardige wenner aan te wys.
Magdel Brand vir haar teks Thomas vermoor: Die toneelstuk, opgevoer deur die Kuswag Skool in Amanzimtoti, is as wenner gekroon.

Die beste slegs-leerdersproduksie tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal 2022, wat ook ’n kontantprys van R10 000 ontvang, is: HOËRSKOOL ZWARTKOP met OBERON.

Die top 3-produksies ontvang benewens ’n kontantprys ook ’n speelvak tydens die Suidoosterfees in 2023. Die wenproduksie maak ook sy buiging op die Toyota US Woordfees op 10 en 11 Oktober 2022.

Die derdeplekwenner, wat met ’n kontantprys van R10 000 wegstap, is: HELPMEKAAR KOLLEGE met ’N EINDE.

Die naaswenner, wat ’n kontantprys van R20 000 wen, is: HOËRSKOOL JAN VAN RIEBEECK met WAT DIE WATER WEET.

Die beste produksie en wenner van R30 000, asook die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee, is: HOËRSKOOL PAREL VALLEI met MAANMAATS.
Foto’s is geneem deur Nardus Engelbrecht.