‘Filmverse’ blaas nuwe lewe in geliefde poësie
Een van die uitmuntende projekte waarmee die ATKV sedert 2012 besig is, is Filmverse, ’n digkuns-animasieprojek in samewerking met Diek Grobler. Diek vertel dat hy reeds in 2002 ’n opdrag by die tydskrif De Kat gekry het om vir die KKNK ’n program saam te stel oor Suid-Afrikaanse animasiefilms. Hy het toe agtergekom dat daar bitter min beskikbaar was om te wys. Dit wat daar wel was, was tegnies heeltemal vaardig, maar die inhoud het meestal tekort geskiet. Hy het toe die idee gehad om poësie as bronmateriaal te gebruik in ’n animasieprojek om die plaaslike bedryf ’n hupstoot te gee. Hy het alles in ’n noukeurige dokument bymekaargesit. Tien jaar later is hy met die einste dokument na die ATKV en is die Filmverse-projek van stapel gestuur.
Vir die ATKV was hierdie die geleentheid om ’n forum vir onafhanklike animasie in Suid-Afrika te skep, om Afrikaanse poësie meer sigbaar en toeganklik te maak en om animasiefilms van internasionale gehalte te vervaardig.
Die eerste Filmverse is in 2012 voltooi en Filmverse 2 in 2016. Diek Grobler is regdeur betrokke as kreatiewe regisseur en hy moet dus oor almal se skouers loer om seker te maak die films is so goed as moontlik. Volgens Diek het heelwat van die deelnemers aan die projek nooit vantevore met animasie gewerk nie en hy moes bontstaan om tegniese raad te verskaf. Aan die begin van elke uitgawe het hy ’n drie dag lange werkswinkel oor animasie gedoen sodat al die deelnemers ’n basiese begrip van die medium kan hê. Tog was hy elke keer mateloos beïndruk deur die kunstenaars se vindingrykheid.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê die ATKV is altyd op soek na verskillende maniere om Afrikaans te laat voortleef, na nuwe geleenthede om te skep in Afrikaans en om Afrikaans ’n groter voetspoor te gee. “Filmverse het by hierdie doelwit van die ATKV ingepas. Ons wou juis verskillende vorme van Afrikaans wat dalk nie so bekend is nie deur middel van ons projekte en aktiwiteite uitlig. Dis belangrik dat ander mense van ander kulture moet verstaan wat ons stories is en met ons gedigte word daar soveel interessante verhale en stories oorgedra. Dit is dus die ideale platform, want saam met die animasiekuns kry dit vlerke. Dit was ’n eksperimentele projek wat ons ’n kans gegee het, maar die reaksie was oorweldigend en wonderlik om te sien.”
Die sukses van Filmverse strek veel verder as die leerders wat dit gesien het en wat dit kon gebruik om die gedigte beter te verstaan. Diek sê op internasionale vlak het daar ook al erkenning gekom vir hierdie werk. Naomi van Niekerk het ’n belangrike prys gewen op die Annecy-animasiefees in 2015 met ’n Gewone blou Maandag, gebaseer op Ronelda S. Kamfer se gedig. Charles Badenhorst het die Weimar-poësiefilmprys gewen met sy film van Adam Small se “What abou’ de lô?”. Erentia Bedeker en Jac Hamman se films het ook wyd gereis en pryse verower. Nog iets wonderliks wat hieruit voortgespruit het, is dat sommige deelnemers aan Filmverse van animasie ’n loopbaan gemaak het. Animasiekunstenaars soos Naomi van Niekerk en Erentia Bedeker maak gereeld poësiefilms, dikwels in Afrikaans. Erentia het ook al vir ’n Amerikaanse vervaardiger ’n poësiefilm en onlangs vir ’n Skotse sanggroep ’n musiekvideo gemaak wat eintlik ook maar ’n poësiefilm is.
Diek self het ’n PhD gedoen oor poësiefilms en dr. Linette van der Merwe het spesifiek oor die gebruik van die multimodale metafoor in Filmverse haar tesis geskryf. Etlike ander akademici het al referate oor aspekte van die filmvers gelewer. “Ek dink ’n projek is suksesvol as dit ’n impak op mense se lewens het, maar van die aspekte ook op akademiese vlak ondersoek word,” sê Diek.
Vir Gerrie lê daar groot waarde in die manier waarop Filmverse tot voordeel van Afrikaans strek. “Die internasionale blootstelling is geweldig besonders. Die seleksie van gedigte met Filmverse en Filmverse 2 is in lyn met die kurrikulum en is voorgeskrewe werke. Die onderwysers gebruik die Filmverse-animasiefilms in die klas as onderwyshulpmiddel om dit vir die kinders te wys. Wanneer kinders iets visueel sien, gaan ’n nuwe wêreld vir hulle oop. Digkuns het nou lekker geraak in die klas en die kinders het dit begin geniet,” sê Gerrie.
Die goeie nuus is dat die ATKV beplan om Filmverse saam met Diek Grobler voort te sit. Dit sal vir ekonomiese doeleindes in ’n ander formaat wees as voorheen. Daar sal nie weer 12 films op ’n keer aangepak word nie, maar twee films per jaar sal gemaak word.
“Sodoende kan ons aan filmmakers ’n beter begroting aanbied sodat hulle gefokus kan werk aan die projek,” sê Diek. “Ek is dankbaar dat die ATKV weer aan boord is en baie positief is oor die moontlikhede. As alles goed gaan, kan die projek dus onbeperk volgehou word met twee wêreldgehalte- Afrikaanse poësie-animasiefilms per jaar. Ons het hier ’n ding begin wat so onverwags goed gedoen het dat ons dit nie bloot daar kan laat nie.”
Kyk hier na die poësiefilms wat reeds deel uitmaak van die Filmverse-projek.