Finaliste vir ATKV-Crescendo 2024 bekend
Ná vier dae se leiding en raad deur van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf is die deelnemers van ATKV-Crescendo se finale slypskool in September 2024 aangekondig.
“Nie dat dit ’n maklike taak was nie,” erken Robin-Dean Fourie, kreatiewe direkteur van die mentorskapprogram. “Elke jaar se deelnemers is uniek, maar wat veral opgeval het, is die diversiteit van genres waaruit die deelnemers se liedjies bestaan het. Daar was iets van alles te hoor – R&B, kletsrym, folk, noem maar op.”
Hierdie diversiteit is juis wat die mentorskapprogram nastreef. “ATKV-Crescendo is een van die organisasie se grootste en bekendste projekte,” meen Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV. “Oor die vyftig jaar van ATKV-Crescendo se bestaan, het die projek talle musieklegendes opgelewer wat diep spore in die Afrikaanse musieklandskap getrap het.”
Vir projekorganiseerder Morné van Staden is dit ’n groot voorreg om juis vanjaar deel van die projek te wees waar elke deelnemer aan die einde van hierdie paar dae as ’n wenner die wêreld kon ingaan. “Al is ’n persoon nie gekies om die finale slypskool by te woon nie, is hy of sy bemagtig en geïnspireer om ’n musiekloopbaan af te skop. Elkeen wat tydens die mentorskapprogram se afsluitingskonsert op 30 Maart opgetree het, is ’n nuutgebore legende in eie reg. Die sukses van die konsert was weereens ’n bewys dat ATKV-Crescendo die leuse ‘waar legendes gebore word’ gestand doen.”
Die groot verskeidenheid van onderwerpe wat deur die mentors in hierdie week aangebied is, is ’n bewys van die stewige platform wat aan die deelnemers gegee is. Die leiding was egter nie net musikaal van aard nie. Talle deelnemers het tydens ’n terugvoersessie ná die week genoem dat die emosionele groei wat hulle tydens die program ondergaan het aan elkeen ’n unieke stem gegee het. “Die program het ons gehelp om enige pretensie af te stroop en ons het begin streef na die mens wat ons veronderstel is om te wees,” sê een deelnemer. Soos Helmut Meijer tydens sy sessie oor ateljeeopnames verduidelik het: “Gaan vind uit wat is daardie een ding wat die wêreld gaan mis as jy nie jouself deur middel van jou musiek aan mense gee nie.”
Uiteindelik is dit egter net tien mense wat kan deurdring om die finale slypskool en die res van die jaar se optredes te kan meemaak. Sarah Theron, sangeres en stemafrigter, verklap dat die span se keuses gegrond was op die liedjie waarmee elke deelnemer vorendag gekom het. “Hoe kreatief, hoe uniek en hoe afgerond dit was.” Petronel Baard, sangeres en medementor, voeg by: “Die vertoning van elke deelnemer is egter die voertuig waarmee die liedjie oorgedra is en is ook baie belangrik.”
Ná baie oorweging is die volgende 10 finaliste in alfabetiese orde aangekondig:
- Andile Citashe
- Dané Prins
- Duran Titus
- Eulanda Wagner
- Edinia Citwa
- Janine Fourie
- Lester Paulus
- Lize-Marie Naudé
- Shaundray van der Horst
- Victor Fredericks
Hierdie finaliste gaan deur die jaar in drie Platformsessies te sien wees, naamlik op 3 Mei (Eulanda, Edinia en Shaundray), 21 Junie (Andile, Janine, Victor en Dané) en 16 Augustus (Lester, Duran en Lize-Marie) voor hulle die finale slypskool van 21 tot 29 September gaan bywoon en in die afsluitingskonsert SIT DIT AAN ... gaan optree. Op 30 November kry die finaliste ook die geleentheid om saam met vorige Crescendo-legendes die verhoog te deel tydens die produksie Platformsessies: Goud, die beste van toeka tot nou.
- Die video van die mentorskapprogram se Unplugged-afsluitingskonsert sal binnekort op YouTube beskikbaar wees. Volg ATKV-Crescendo se sosialemediaplatforms om nie die aankondiging mis te loop nie.
SÓ SKRYF JY IN
- Digitale inskrywings is 366 dae, 24 uur, 7 dae ’n week oop. Belangstellendes het tot 12:00 op 31 Desember 2024 tyd om vir ATKV-Crescendo 2025 in te skryf. Besoek https://www.crescendo.org.za/ indien jy digitaal wil inskryf.
- Oudisies kan ook in persoon gedoen word deur die volgende persone te kontak:
- Expression Sessions in Worcester, elke laaste Donderdag van ’n maand. Kontak Robin Fourie by robindf9@gmail.com.
- Expression Sessions in Kuilsrivier, elke laaste Sondag van ’n maand. Kontak Jerome Rex by info@jeromerex.co.za.
- Keuring aan die Weskus word behartig deur William Jacobs wat by 1@hotmail.com gekontak kan word.
- Petronel Baard hou oudisies in die Tuinroete-omgewing. Sy kan gekontak word by baard@gmail.com.