Frik du Preez koester koskultuur oor dekades
Wanneer Frik du Preez deur sy ouma Lenie en ma Hermana se handgeskrewe resepteboeke blaai, vertel hy dat ’n mengsel van verlange, nostalgie, vreugde en trots na vore kom. Vir hom voel dit asof hy weer saam met hulle om die kombuistafel sit, hul sagte stemme hoor en selfs sy ma se hand op sy skouer voel.
Oor die resepte sy nuwe boek, KoesterKos, wat 75 jaar se Suid-Afrikaanse kostradisies weerspieël, sê hy dat hy hoop vandag se kokke weer die waarde van geduld en kreatiwiteit sal ontdek – veral die vermoë om met min bestanddele ’n smullekker dis op te tower. Hy glo dat kosmaak nie net ’n noodsaaklikheid behoort te wees nie, maar ’n daad van liefde en trots.
Hy verduidelik dat die boek ’n natuurlike opvolg is op sy vorige boek, StorieKos, waarin hy kosstories van oor die wêreld gedeel het.
“Ek het besef dat ek ook my eie kosstories het om te vertel, naamlik dié opgeteken in die handgeskrewe kookboeke van my ouma en ma. So eintlik was dit ’n spontane en logiese opvolg, en só bring KoesterKos dan die stories en resepte terug na eie bodem,” vertel hy trots.
Oor die vriende wat hy genooi het om hul ma’s se resepte te deel, onder andere Amanda Strydom en Lizz Meiring, vertel hy dat daar ’n duidelike goue draad deur al hierdie verhale loop.
“Net soos met die ontdek van nuwe en unieke resepte en disse, kom daar ook wonderlike mense oor jou pad en skryf jy hulle op in jou ‘gunstelingmense-resepteboek’. Hierdie vriende koester jy vir ewig, want jy weet dat hulle die tye saam met hul hartsmense deurgebring het om aan tafels te sit waar gunstelingdisse, met liefde deur hul moeders voorberei, vir altyd gekoester sal word.”
KoesterKos strek van 1914 tot 1989, en oor die veranderde Suid-Afrikaanse eetgewoontes en kombuistegnologie sê Frik: “Die resepte in KoesterKos vertel die kosverhaal vanuit die platteland tydens hierdie tydperk, waar daar min of geen toegang was tot winkels en ’n groter verskeidenheid van bestanddele. Nadat meer produkte, kookmetodes en kombuistoerusting beskikbaar gestel is, is die resepte aangepas met meer en nuwe bestanddele, kruie en speserye. Ons pallet is ook blootgestel aan disse van ander lande en so is ons kookmetodes dan ook aangepas om nuwe disse en toerusting te gebruik.”
Vir jonger geslagte wat nie noodwendig meer handgeskrewe resepteboeke het nie, sê hy dat dit maklik is om die koservarings relevant te hou: Gee vir hulle boeke soos KoesterKos en moedig hulle aan om die resepte hul eie te maak.
“Tydens ’n Kersmark waar ek KoesterKos bemark het, is die boek aangeskaf deur oumas met die idee om dit aan hul kleinkinders te gee, sodat die kinders blootgestel kan word aan die koskultuur van hul voorouers. Die resepte is wel eenvoudig, maar vorm ’n sterk basis waarop voortgebou kan word en aangepas kan word om meer modern te wees en die huidige koskultuur te verteenwoordig.”
Wanneer hy oor die een gereg praat wat hy graag weer vir sy ma of ouma sou voorberei, erken hy dat dit ’n moeilike keuse is. Tog sou hy uiteindelik sy ma se legendariese sjokoladekoek kies – die een waarvan hy altyd die mengbak uitgelek het.
“Die koek verteenwoordig en vertel stories van kerkbasaar- en skoolkermiskoektafels, wiskundehuiswerk wat geruil is vir ’n sny koek en bure en vriende wat gereeld verras is met ’n geskenk van hierdie wonderwerk van ’n koek.”
Oor die woord “koester” in sy boektitel sê hy dat dit vir hom beteken om met vreugde en nostalgie te onthou – om dit wat kosbaar is nooit te vergeet nie en altyd naby aan die hart te hou. Hy hoop dat wanneer iemand die boek oopmaak, die leser teruggevoer sal word na hul eie koesterkos-herinneringe, dat hulle ’n oomblik sal vertoef by daardie geure, mense en oomblikke, en dat hulle nie net met vreugde en respek sal onthou nie, maar ook sal voortbou deur nuwe koesterkos-ervarings vir hul eie families te skep.
KoesterKos word uitgegee deur Naledi en is teen R375 beskikbaar by alle groot boekwinkels en aanlyn platforms.
– Jannes Erasmus