‘Gekies vir die Kollig’ eersdaags op die kassie
’n Hoogtepunt op die ATKV se jaarlikse kultuurkalender is die ATKV-DigiToneel-kompetisie, waarin hoërskoolleerders die geleentheid kry om hul spel vir die kamera te ontwikkel. Hulle doen dit deur nuutgeskrewe monoloë te verfilm. Hierdie kompetisie het in 2020 tydens die Covid-19-pandemie afgeskop en inskrywings van regoor die land het ingestroom. In 2021 is ATKV-DigiToneel na ’n nuwe vlak geneem toe die top-8-deelnemers verdere mentorskap ondergaan het en kon deelneem aan ’n nuwe realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, wat op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai is. Op hierdie manier word die jong talent geslyp vir hul eerste televisiebuiging.
Die top-8 van vanjaar se ATKV-DigiToneel is in Junie vanjaar aangekondig en aan vier mentors toevertrou, wat elkeen twee jong akteurs onder die vlerk geneem het en vir Gekies vir die Kollig gereed gekry het. Hulle is Corrine-Marie van Hoogdalem van die Hoërskool Noordheuwel met Beminde, Danelle Jacobs van die Hoërskool Martin Oosthuizen met Skisofrenie, Hanli Theron van die Hoërskool Jan van Riebeeck met I'm just a girl standing in front of a boy, Inge Marx van die Afrikaanse Hoër Meisieskool met K.A.R.A., Jean Retief van die Hoërskool Stellenbosch met Opbreek, Johan du Plessis van die Grey Kollege Bloemfontein met En toe sien ek haar, Nina Strydom van die Hoërskool Parel Vallei met Die smaak van damwater en Paul Strydom van die Hoërskool Parel Vallei met Die straf van skaamte.
JJ van Niekerk, die projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, sê die kreatiwiteit waarmee die leerders hierdie projek aanpak, verbeter jaar ná jaar. “Dit kan natuurlik aan die vorige jaar se televisieprogram toegeskryf word, want só kry die deelnemers ’n idee van wat die standaard is van die ouens wat in die top-8 uitkom. Omdat ons elke jaar ’n nuwe tema voorskryf, is die inhoud en die invalshoek anders. Dis lekker om elke jaar ’n bietjie aan die projek en die mentorskap te verfyn en dan die verstommende resultate te sien.”
JJ vertel dat daar vanjaar ’n effense verandering in die formaat van die kompetisie is. Die vier mentors, Jacques Bessenger, Solomon Cupido, Wilhelm van der Walt en Mari Molefe van Heerden, het elk twee van die deelnemers gekry om op te fokus. Tans is hulle druk besig met die finale redigeringsfase van die projek om te verseker die eerste episode van Gekies vir die Kollig word op 3 Oktober gebeeldsend.
Nadat die mentors die finaliste by Gold Reef City gehelp het met die afronding van hul monoloë, moes die deelnemers weer huis toe gaan en ’n finale video-opname gaan maak. Dit is ingestuur vir die finale beoordeling deur Lea Vivier en Lindsey Cele.
Vir Lea was vanjaar se inskrywings weereens van hoogstaande gehalte. “Die gehalte van die kinders se spel en die kwaliteit van die inskrywings is so hoog dat ek hierdie jaar beoordeel het asof die leerders alreeds werkende akteurs is.”
Lea sê dit is elke jaar besonder lekker om deel van hierdie projek te wees. “Vir ons as professionele akteurs is die leerders ongelooflik inspirerend en hulle maak my baie opgewonde oor ons talentpoel.”
Lindsey Cele stem saam met Lea dat die talent vanjaar verstommend was. Vir haar lê die grootste waarde van ’n projek soos hierdie in die mentorskap waardeur die leerders gaan. Met die terugvoer wat hulle kry ten opsigte van hulle kameraspel, leer hulle ongelooflik baie.
“Ek was aangenaam verras deur die keuse van monoloë. Dit wys ’n groot mate van volwassenheid en wys ook dat kinders reeds op ’n jong ouderdom ’n begrip het van dieperliggende kwessies. Dit maak ’n mens dankbaar,” sê Lindsey.
Al agt die jongmense wat deel is van hierdie heerlike avontuur, is dit eens dat alles ’n wonderlike leerkurwe was.
Danelle Jacobs sê sy het ’n hele paar nuwe tegnieke aangeleer. “Hulle het vir my gesê ek moet myself ’n bietjie meer uitdaag. Ek het ook hierdie jaar soveel geleer van redigering en is trots om myself nou ’n redigeerder te kan noem,” sê sy. Vir Inge Marx was hierdie ’n heerlike geleentheid om ’n bietjie uit die boks te klim. “Ek is uitgedaag om onbekende onderwerpe aan te pak en dit dan te geniet. Dit het ook my oë oopgemaak vir die ongelooflike talent van my medefinaliste. Hierdie ervaring het my geleer om werklik my talente uit te leef waarmee die Here my geseën het.”
Jean Retief reken een van die belangrikste dinge wat hy met vanjaar se Gekies vir die Kollig geleer het, is dat die kunste regtig vreeslike harde werk is. “Om te dink dat die twee of drie tonele wat ons verfilm het ’n span van meer as tien mense geverg het om dit te laat gebeur: kamera, klank, grimering, redigering ... Ek het in graad 9 vir die eerste keer deelgeneem, maar alles op my eie gedoen. Hierdie keer het ek gesien dat om verskillende perspektiewe met ’n projek te hê, nooit ’n slegte idee is nie.”
Vir Nina Strydom was dit besonder lekker om te kon sien hoeveel sy gegroei het sedert haar inskrywing van 2022. Sy het toe in die top-16 geëindig. Sy sonder ook die mentorsessies met Pietie Beyers uit as iets wat haar sal bybly. Pietie is weer vanjaar die aanbieder van Gekies vir die Kollig. “’n Mens stap weg en jy het soveel geleer, maar jy word terselfdertyd ook geïnspireer om oor volgende jaar te droom,” sê Nina, wat vanjaar in graad 10 is.
Dit sal nog ’n rukkie wees voor ons uitvind wie gekroon gaan word as vanjaar se ATKV-DigiToneel-wenner en kykers sal die opwindende Gekies vir die Kollig moet volg om te sien wie met die kroon wegstap. JJ van Niekerk beloof dat vanjaar se reeks, wat by Gold Reef City geskiet is, kleurvol en propvol adrenalien gaan wees.
Oor hiérdie ervaring kan die finaliste ook nie uitgepraat raak nie: “Dit was ’n lewensveranderende ervaring,” sê Corrine-Marie van Hoogdalem. “Dit was so interessant om te werk met mense wat al in die industrie werksaam is. Hulle weet wat hulle doen en waarvan hulle praat. Ek is dankbaar vir die voorreg om hierdeur te kon gaan.”
Hanli Theron sê vir haar is die heel lekkerste gedeelte van die ondervinding om te kan sê sy het dit ervaar. “Ek dink ek gaan nog vir baie lank hieroor kan spog en gesels. Eendag kan ’n mens terugkyk en sê: ‘Wow! Ek het dit gedoen.’ Ek het wonderlike vriende gemaak en om my mentor, Jacques Bessenger, te ontmoet, was baie lekker.”
Johan du Plessis deel ’n pluimpie aan die ATKV uit: “Geleenthede soos hierdie kom oor ’n mens se pad danksy die ATKV en ek dink dit is ’n uitstekende konsep waarmee hulle hier vorendag gekom het. Dit gee aan soveel kinders geleenthede om hul talent te kan wys en daar is soveel talent in Suid-Afrika.”
Paul Strydom stem saam dat ATKV-DigiToneel ’n briljante idee is. “Danksy ATKV-DigiToneel kry leerders die geleentheid om monoloë in te skryf. Só gee dit aan jongmense met ’n droom vir ’n toekoms in die filmbedryf die geleentheid om direk te sien hoe die bedryf werk. Jy ontmoet wonderlike mense en kom gou agter hoe groot die verskil tussen spel op die verhoog en spel voor ’n kamera is. Ek is dankbaar dat ATKV-DigiToneel ontstaan het en hoop dit gaan sterk voortgaan in die toekoms.”