‘Gekies vir die Kollig’: Span Cele gereed!
Die ATKV se gewilde realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, is vanaand weer terug op die kassie met sy vierde seisoen.
’n Nuwe tema, aanbieder en ligging wag simbioties op kykers.
Vanjaar se reeks is verfilm by die Thaba Eco Hotel in Johannesburg. Hierdie vierster-ekohotel was presies waarna die regisseur en vervaardiger, JJ van Niekerk op soek was. “Die Thaba Eco Hotel is ’n bewys dat mens, dier en natuur in simbiose gemaklik kan saamleef. Elke skoot was besonders en het simbioties ons tema omlyn.”
Die bekroonde Sinzinani Spa was die perfekte doepa om liggaam en siel in simbiose te laat saamwerk en het Lindsey Cele se span opnuut fokus gegee vir die finale ronde.
Die nuwe aanbieder vir die vierde seisoen van die reeks is Solomon Cupido. Hy was die wenmentor in seisoen drie en het in die eerste reeks ook as finaliste se klankbord gedien.
Solomon dra met elke episode ’n unieke simbiose-uitrusting wat kleurvol inskakel by die natuursketse van die Kliprivier-natuurreservaat in Johannesburg
Lindsey Cele is die mentor van ons eerste span, bestaande uit Rico Immelman en Nicole de Klerk.
Lindsey hou hierdie finaliste al sedert Maart dop en was in haar noppies toe sy hulle name uit die hoed getrek het.
Lindsey glo dat Rico die kykers met sy oë gaan betower en dat Nicole se konsep ’n uitklophou gaan wees. Sy weet ook dat haar span se emosionele intelligensie baie hoog is en dat dit hierdie eienskappe van haar span is wat hulle op die voorvoet gaan plaas.
Rico Immelman (17) is ’n graad 11-leerling in die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.
Sy monoloog, Veertig sekondes van vryheid is deur Robert Kruger geskryf.
Lees die monoloog hier.
Rico sê sy gunstelingoomblikke op stel was die mooi natuurskoon, beslis die spa-bederf, die lekker lag en tyd saam met sy mentor Lindsey Cele en spanmaat Nicole de Klerk.
Rico is baie opgewonde oor sy episode vanaand en kan nie wag vir mense om sy storie te sien en te hoor nie. Hy hoop dat elke kyker die subteks van die verhaal sal begryp en net terug sal sit en dit geniet.
Hy beklemtoon as mense nie gedurig oopmaak en oor hul probleme praat of klankbord nie, dit hulle finaal sal breek en dat hierdie waarheid hopelik elke kyker vanaand sal inspireer om simbioties saam te praat en saam te leef.
Oor wat hy anders sou doen, sou hy die geleentheid kry, het Rico geantwoord dat hy die ATKV-DigiToneelproses meer sou wou koester siende dit vanaand sy hoogtepunt bereik en hy die proses sal moet afsluit.
Rico som sy belewenis van ATKV-DigiToneel op deur met dankbaarheid te getuig dat die ATKV in sy toekoms belê en daardeur inspireer die organisasie hom elke dag om ’n beter akteur te word. Hy voeg by dat hy geen ander mentors sou wou hê nie.
Nicole de Klerk (17) is die tweede finalis van Lindsey Cele se span. Sy is ’n graad 11-leerling aan die Hoërskool Randburg.
Nicole vertel prontuit dat daar geen beter gevoel in die wêreld is as om op stel of voor ’n kamera te wees nie. Sy voel dat ATKV-DigiToneel vir haar die platform gegee het waar haar hart vinniger kon klop vir toneelspel en dat sy nou nie daarsonder kan klaarkom nie.
Sy is opgewonde oor haar episode vanaand en sien veral daarna uit om te sien hoe al die elemente van haar dag op stel bymekaarkom in realiteitsprogramformaat. Sy sal ook haar ore fyn spits vir die beoordelaars se kommentaar vanaand.
Nicole wil hê dat elke kyker haar vanaand sien as die mens wie sy is en haar liefde vir toneelspel sal waardeer. Oor haar monoloog, Koëvolusie van sestig, geskryf deur Kobus van der Schyff-Smal, hoop sy dat die kyker haar karakter nie te vinnig sal oordeel nie, haar sal verstaan, saam kan lag en ook haar pyn, woede en haat sal begryp.
Lees die monoloog hier.
Nicole beskryf haar reis met die ATKV as ’n groot geleentheid. Gekies vir die Kollig was vir haar ’n voorsmakie van die industrie en het ook aan haar die vaardighede gegee om haarself as mens aan ’n kyker bloot te stel. As akteur voel sy dat daar nooit ’n plek is waar jy ophou groei en leer nie. Sy het in haar reis met verskillende ATKV-mentors geleer dat die karakter en storie met elke vertelling verdiep en dit juis die verantwoordelikheid is van die akteur om ander mense deur hierdie stories te raak sodat jy hul persepsies en denkrigtings kan verander.
Moenie vanaand se episode misloop nie.
Gekies vir die Kollig is Maandae-aande om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) met herhalings op Donderdae om 22:30.
Hierdie reeks is ook op DStv Catch Up beskikbaar.
Sien hier ’n voorsmakie van vanaand se episode: