Germandt Geldenhuys: Die ATKV moet sy lig laat skyn

Die ATKV het vier “lekker” landgenote ingespan om sy nuwe veldtog vlytig aan die volk oor te dra. Met die tema “Belê in jouself, belê in die toekoms” en die hutsmerk #weesdieverskil wil die vereniging sy strewe daarna om in Afrikaans ’n verskil te maak wyd laat weerklink.
Germandt Geldenhuys is een van dié vier en het geen bekendstelling nodig nie. Die ATKV het ’n bietjie met hom gesels om meer oor sy belangstellings uit te vind.
Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?
“Uiteraard” – ek hou van die feit dat daar ’n bietjie van ’n sarkastiese ondertoon daaraan gekoppel is, soos as iemand jou vra of jy die rugby Saterdag gaan kyk – duh ... Uiteraard! Ek hou ook van woorde soos “majestueus” – stel jou voor iemand van oorsee moet dit uitspreek met al daai klinkers! Dan oor woorde met die “rrrr”-klank!
Wat dink jy van die voortbestaan van Afrikaans en die diskoers daaroor?
Die oorsprong van Afrikaans, met al sy geskiedenis en dialekte is belangrik om te onthou en te erken vir die voortbestaan van Afrikaans. Wat Afrikaans so spesiaal maak is dat hy so baie leen by ander tale en in die proses ’n taal word “deur” die mense “vir” die mense. Vir die voortbestaan van die taal moet die mense weet dat daar nie noodwendig ’n suiwerheid moet wees van hoe ’n mens die taal aanpak nie. Afrikaans behoort aan verskillende bevolkingsgroepe – en dit sal sy voortbestaan ook verseker. Dit is belangrik dat ons die taaldebat lewendig hou. Afrikaans is so eie aan ons land en mense – dit het ’n reg om voort te bestaan en beskerm te word.
Wie is jou gunsteling- Afrikaanse sanger?
Joshua na die Reën, Herman Kleynhans en natuurlik Coenie de Villiers.
Hoe dink jy kan jy ’n verskil in Suid-Afrika maak?
Ek dink ’n mens moet meer global kyk na hoe jy ’n verskil in die wêreld kan maak. Kindness en compassion teenoor mense in ons alledaagse lewe en om te besef dat elke mens met wie ons te doen kry, het ’n storie. Wanneer ’n mens jouself in ander mense se skoene kan sit, sal jy meer deernis met hulle hê. Ons moet ook wegbeweeg van die “ons”- en “hulle”-uitkyk, asook wit en swart. Dis baie selde dat dinge net wit en swart is, dis die meeste van die tyd grys. En as die wêreld in skakerings van grys kan sien, sal dinge baie makliker wees.
Hoe belê jy in jouself?
Goeie vraag. Ek werk baie hard en daag myself uit. 2021 het my geleer om bietjie stadiger te leef. Ek luister na myself en na my lyf om te weet wanneer ek ’n bietjie briek moet aandraai.
Het jy ’n gunsteling- Afrikaanse gedig?
Daar is ’n paar. Toe ek jonger was, was dit Ingrid Jonker se “Bitterbessiedagbreek”. Tans is dit D.J. Opperman se “Negester en stedelig” – ek is veral mal oor die laaste frase:
“voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen
besef jy is ’n vegter weer aan die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.”
Watter Afrikaanse skrywers lees jy graag? Is daar ’n boek wat vir jou uitstaan?
Ek moet bieg my tyd is maar min vir lees en ek lees meestal artikels en koerante, asook opiniestukke. Ek is lief vir die digkuns van Loftus Marais, ek het ook onlangs Die Derde Spoel van S.J. Naude gelees. Ek is baie lief vir Nataniël en ek het heelwat van sy boeke – dis veral sy manier van skryf en hoe hy dinge beskryf wat vir my uitstaan.
Hoe sien jy die die rol van die ATKV in 2021?
Wel, hulle moet seker maak dat daar ’n bietjie lig skyn deur al die donkerte. Daar is soveel negatiewe dinge wat gebeur, dis hulle werk om ons positief te hou en die kunste, kultuur en taal te ondersteun, en ons te herinner aan die “lig”.