Gesogte ATKV-Woordveertjies vir uitblinkers
In ’n tyd waar sosiale interaksie aan bande gelê is deur die Covid-19-pandemie, het boeke die ideale geselskap geword.
Ongeag ’n uitdagende jaar het die uitgewersbedryf daarin geslaag om puik boeke die lig te laat sien.
“Dit is vir die ATKV ’n voorreg om uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Die voorafgaande kalenderjaar is een wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word en ons glo dat die wenners van die ATKV-Woordveertjies bygedra het om ’n moeilike tyd meer draaglik te maak,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.
“Die Amerikaanse skrywer Jhumpa Lahiri sê ‘Boeke laat jou reis sonder dat jy voete hoef te beweeg’, en hoe waar was dit nie, veral in 2020.
“Die ATKV is dankbaar vir elke skrywer wat vir Afrikaanse lesers die geleentheid te gee om hul horisonne te verbreed al was dit net met reise op die rusbank. Baie geluk aan elke wenner.”
Die wenners is soos volg:
Die ATKV-Prosaprys is een van die oudste Woordveertjietoekennings, en is die eerste keer in 1984 toegeken. Dit gaan aan die skrywer van die beste gewilde Afrikaanse prosawerk wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het.
Vanjaar word Willem Anker word vir Skepsel (Queillerie) vereer met die ATKV-Prosaprys. Die beoordelaars in die kategorie was Francois Bekker, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe.
Die Prys vir Spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Die versoeking van Thomas Maas – Chris Karsten (Human & Rousseau).
Die Prys vir Niefiksie is deur Jean Meiring, Martie Retief-Meiring en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949 – 1981 – Stephanus Muller & Stephanie Vos (Protea Boekhuis).
Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen het die Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Die meeste sterre is lankal dood – Johann de Lange (Human & Rousseau).
Marina Griebenow, Theo Kemp en Ilse Oppelt was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Droomwerk – Pieter Odendaal.
Die rol van woordboeke en taalgidse kan nie onderskat word nie en daarom bekroon die ATKV elke jaar een van die boeke.
Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse het bestaan uit: Willem Botha, Rufus Gouws en Marné Pienaar.
Vanjaar gaan die Woordwystoekenning aan: Eleanor Cornelius vir Gewone Taal: ’n Oorsig (2020). Uitgegee deur: SUN PReSS.
Die Prys vir Romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Amanda Claasens beoordeel met die wenner: Liefste rooikop – Elize Davies (Romanza).
Die kategorie vir Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Malene Breytenbach, Shireen Crotz en Ilse Salzwedel met die wenner: Kanaän – Sophia Kapp (LAPA Uitgewers).
Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gemik om kinders te laat lees en leesbevordering aan te moedig. Terselftertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir hul toegewyde werk.
Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die leerders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:
Voorleeskategorie: Graad RR – 1
- Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Moenie die melk vergeet nie
- Illustreerder: Linki Brand (LAPA Uitgewers) – Magriet die stadshoender
Selfleeskategorie: Graad 2 – 3
- Skrywer: Andre Trantraal (LAPA Uitgewers) – Keegan en Samier: Die sokker-fiasko
- Illustreerder: Tumi K. Steyn (Pan Macmillan SA) – Minki in die middel
Selfleeskategorie: Graad 4 – 5
- Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Oupa Zombie
- Illustreerder: Theodore Key (Pan Macmillan SA) – Oupa Zombie
Selfleeskategorie: Graad 6 – 7
- Skrywer: De Wet Hugo (Human & Rousseau) – Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf
Selfleeskategorie: Graad 8 – 10
- Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Offers vir die vlieë
By die ATKV besef ons dat ’n liefde vir lees en toegang tot boeke die verloop van ’n kind se lewe heeltemal kan verander. Daarom bekroon ons ook graag projekte wat gemik is op die bevordering van ’n leeskultuur onder kinders en jongmense, en vanjaar se Toekenning vir Leesbevordering gaan aan die Otto Stigting. Lees meer HIER.