Groentetuine: Klein begin, groot gewin in Burgersdorp
Vir Suid-Afrika en sy besondere probleme het ons besonderse mense nodig wat ’n verskil kan maak. Die ATKV-tak Stormberg het ’n groentetuinprojek saam met só ’n besonderse Burgersdorper van stapel gestuur. Alna Belendez-Retief is ’n gastehuiseienaar en verskilmaker op die dorp, vertel Jaco Spies, die ATKV se streeksbestuurder in die Oos- en Noord-Kaap.
“Die ATKV het in 2022 vir die eerste keer professionele opleiding deur Seed 2 Harvest op Burgersdorp aangebied. Die opleiding het ook die praktiese verbouing van tuine ingesluit. Laasjaar het ons 36 gemeenskapslede opgelei en volhoubare tuine aangeplant. Die sukses van die projek berus juis op die feit dat elke begunstigde eienaarskap neem van sy of haar 30 vierkante meter tuin. Ons het die opbrengs van die tuine in Maart vanjaar met ’n feestafel en potjiekos gevier, wat 30 mense gevoed het!”
Alna fasiliteer al sedert 2022 saam met die ATKV en Shaun Cairns van Seed 2 Harvest om mense te leer hoe om groentetuine aan te plant en dit te onderhou. Alna het saam met plaaslike groentetuinplanters begin om seker te maak dit wat Seed 2 Harvest leer en bied, word reg geïmplementeer. Alna plant ook by haar huis, voorsien aan die plaaslike gemeenskap en leer hulle hoe om groente te was en te verpak. Die groente word op die plaaslike mark verkoop en die geld word aan die gemeenskap geskenk.
Alna vertel dat sy haar perseel op Burgersdorp gekoop het met die droom om haar eie groente te kan kweek.
“Die geleentheid om my passie in die gemeenskap uit te leef het toevallig gebeur toe Gertjan Holtzhausen (voormalige ATKV-streeksbestuurder) by my gastehuis geslaap het en ons oor die idee begin praat het, en ook oor hoe ons kon hande vat om dit te laat gebeur. Die eerste jaar het ons individuele mense geïdentifiseer en opgelei en die tweede jaar het ons die projek na ons gemeenskap se groentetuine uitgebrei.”
Vandag is daar ’n paar rolspelers betrokke en word die projek al hoe groter. “Die Ukwethu Farming-projek het hande met RHOOM, die ATKV en Seed 2 Harvest gevat. Saam het ons vanjaar al 30 gemeenskapslede geleer hoe om groente te plant,” vertel Alna trots.
“Ons projek leer mense van nuwe planttegnieke, organiese metodes en grondhernuwing. Hierdie toegepaste tegnieke het ’n langtermynimpak op hoe ’n mens plant en wat jou opbrengs is. Daar is altyd uitdagings in ’n natuurlike ekostelsel, maar dit is wat ’n mens daaruit leer wat sukses verseker.”
Alna vertel dat hierdie projek vir haar baie bevrediging verskaf en die verhouding met die ATKV is net ’n plesier. Sy moedig graag ander ATKV-takke aan om die projek ook in hul dorpe uit te rol.
“’n Mens het net ’n paar dinge nodig om die projek te laat werk. Eerstens ’n stuk geskikte grond met water, tweedens iemand om die projek te dryf en laastens gemeenskapslede wat hul eie kos wil kweek. Daar is niks beter as om in ’n tuin in te loop en jou eie kos te pluk nie, veral in ons dag en tyd,” sê sy.
Jaco sê as jy so ’n projek beoog, is die wegspringplek die identifisering van die behoefte. “Daarna word ’n bestekopname gedoen van wat reeds in die gemeenskap beskikbaar is, soos boorgate, vrugbare grond, dinamiese leiers en gereedskap. Enige mens kan by die inisiatief baat, dit gaan slegs oor volhoubare bestuur en die effektiewe implementering van entrepreneurskapvaardighede.”
Een vrou wat gewys het hoe om dit te doen, is Paulina Ntsombo. Sy is ook van Burgersdorp en het ’n groentetuin by haar huis. Sy voorsien só vir haar gesin en gemeenskap. “Ek het baie geleer en is nou baie lief vir tuinmaak. Solank jy grond en water het, sal jy nie honger wees nie. Ek weet hoe om grond voor te berei en wat jy daaruit kan kry. Jy moet seker wees dat jy bemesting en kompos gee en water gee voor jy plant.
“Ek weet dat plante beskut moet word en ek beskerm my tuin ook teen diere. Die groente in die winkels is so duur, maar ek kan nou vir iemand iets gee om die aand te kook en te eet. Dit is ook my verantwoordelikheid om vir ander mense te leer hoe om te plant. Ek is baie gelukkig dat ek in Burgersdorp woon en ’n groentetuin het, en die mense is baie dankbaar dat ek my groente met hulle deel,” sê Paulina.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Stormberg in Burgersdorp of om ’n nuwe ATKV-tak te stig, reik uit na ATKV-streeksbestuurder Jaco Spies by jacos@atkv.org.za.