Groentetuinprojek groei uit sy nate

Met die ATKV se groentetuinprojek síén jy die verskil.
Daar lê soveel wysheid opgesluit in die ou, ou gesegde wat ons leer dat wanneer jy vir iemand ’n vis gee, hy kos het vir daardie dag. Wanneer jy hom leer om vis te vang, hou jy sy maag vir ’n leeftyd vol. Dieselfde beginsel was die inspirasie vir die ATKV se groentetuinprojek, wat vanjaar reeds sy derde jaar vier. Die groentetuinprojek verskaf tuinmaak-gereedskapskissies aan takke en individue, waarmee ’n volhoubare organiese groentetuin aangeplant kan word.
Andriëtte Potgieter, ATKV-streeksbestuurder van die Vrystaat, het tydens die inperking op ’n YouTube-video afgekom wat haar dadelik laat regop sit het. Sy het al lankal gedink aan die idee om ’n boksie saam te stel met die nodige items daarin, wat dan aan iemand wat ’n groentetuin wil begin, gegee kan word. In hierdie video van Seed 2 Harvest het Shaun Cairns, ’n plantkundige met ’n groot hart vir organiese tuinboukunde, vertel van ’n produk wat Seed 2 Harvest verskaf om voedselsekerheid aan kleiner huishoudings te voorsien. Dit is ’n kissie met 12 pakkies saad, ’n klompie organiese spuitstowwe, kelp en ander voedingsmateriaal en ’n spuitbottel om dit toe te dien. Andriëtte het dadelik geweet dit is presies wat sy in gedagte gehad het, en het kontak met Shaun gemaak. Die ATKV en Seed 2 Harvest het in vennootskap gegaan en sedertdien help ATKV-takke regoor die land om hierdie groentetuinprojek na die mense te neem.
“Vir ons is die grootste dryfveer met die projek om voedselsekerheid te bewerkstellig. Ons wil graag mense leer om na hulleself te kyk deur hul eie kos op die tafel te sit. Met een so ’n tuinmaakkissie kan iemand 60 kg se groente kweek in tuine, of selfs in houers soos ou motorbande. Dis veral belangrik om te sorg dat die tuine wat aangeplant word, volhoubaar is. Die mense moet betrokke bly. Ons plant dus nie sommer net tuine aan en dan laat ons die mense aan hulle eie lot oor nie. Ons volg die hele tyd op en maak seker ons help hulle wanneer daar probleme opduik. Dis heerlik om te hoor dat iemand soveel groente geoes het dat hulle daarvan kon verkoop. Op daardie manier leer ons hulle ook ietsie van entrepreneurskap en hoe om ’n ekstra inkomste te verdien. Dis die mooi wat uit ons groentetuinprojek voortspruit,” sê Andriëtte.
In drie jaar het die projek behoorlik gestoomroller. In die eerste jaar is daar 123 tuine aangeplant en die jaar daarna 128. Alles is nou reeds in plek vir die nuwe plantseisoen, wat net ná die winter begin. Daar word tans net op somergewasse gefokus. Met die identifisering van ’n nuwe tuinprojek word daar eers doodseker gemaak almal wat daarby betrokke is, gaan heeltemal inkoop by die idee. Hierdie is beslis nie ’n projek wat sonder volgehoue betrokkenheid kan slaag nie.
Niemand word in die diep kant ingegooi nie en deel van die projek is die opleidingsessies wat verskaf word. Andriëtte vertel dat die brosjure wat saam met die kissie kom, in Engels geskryf is. Een van die eerste dinge wat die ATKV gedoen het, is om dit ook in Afrikaans te vertaal om dit op daardie manier meer toeganklik te maak. Dan begin die opleiding met ’n drie uur lange teoretiese aanbieding waarin kwessies soos planttegnieke en plaagbestryding bespreek word. Daar word ook presies verduidelik hoe om die groentetuin in stand te hou. Hierdie teoretiese sessie word opgevolg deur ’n drie uur lange praktiese implementering van die dinge wat in die teoretiese sessie geleer is. Hierdie praktiese sessie gebeur dan in die tuine, waar daar prakties hand bygesit word om die nuwe tuin in plek te kry.
“Hierdie projek lê my baie na aan die hart,” sê Andriëtte. “Wat ek veral daarvan hou, is dat ’n mens die verskil kan sien. Een van die ATKV se hutsmerke is #weesdieverskil. Ek dink ons kan hierdie nou verander na #siendieverskil, want ons sien werklik die verskil in mense se lewens met hierdie projek. Hierdie groentetuinprojek het nou al regoor die land gespoel, maar tog is dit bloot ’n klein druppel in die emmer. Daar lê letterlik nog soveel braak land oor wat in groentetuine omskep kan word. Tog glo ek met hierdie projek van ons het ons die bal aan die rol gesit. Hopelik kring dit vorentoe net al hoe verder uit.”
#weesdieverskil en raak betrokke by ’n ATKV-tak in jou omgewing. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.