GVK: Hannah Borthwick bring magnetiese diepte!
Première: Woensdag 12 November 2025
Tyd: 18:00
Kanaal: VIA, DStv-kanaal 147
Die wentelbaan bou momentum, en met elke nuwe episode raak die magneetveld sterker. In die vorige episode het Span Marlo Minnaar twee indrukwekkende produksies waar taal en waarheid as ’n kragpaar saamgestaan het in die lewe geroep. Nou beweeg ons nader aan die kern, en dit is Span Hannah Borthwick wat haar stempel afdruk.
Nina Strydom en Keagan Cooper bring tekstuur, vrae en charisma na die kameralens. Dit is stemme met karakter en karakters met stem.
Welkom by die magneetveld van Hannah Borthwick
Episode 3 is vol vrae, oudisies en emosionele reise – dit is waar Hannah Borthwick haar kreatiewe aantrekkingskrag wys. Sy werk saam met Nina Strydom, wat ons met haar produksie, Wou jy my iets vra?, laat wonder oor die dinge wat ons nooit vra nie, maar aanneem. Keagan Cooper wys in Oudi(sies) dat toneelspel nie net gesien word nie, maar magneties ervaar word.
“Om te hoor: ‘Ek dink jy is talentvol. Hoe help ek jou?’” – Nina Strydom
Nina Strydom van die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes maak geskiedenis. Dit is haar derde keer op die stel van Gekies vir die Kollig. Vir haar is hierdie ervaring meer as bloot ’n kompetisie – dit is groei, mentorskap en inspirasie.
“Om met professionele mense te praat en te hoor waar ons dieselfde dink, en waar nie … dit is ongelooflik om te dink hoe ver van die werklike bedryf jy nog sit en dan help hulle jou. Hulle beoordeel jou, maar om jou te help. Dit is so ’n mooi omgewing wat geskep word.
“Om te hoor: ‘Ek dink jy is talentvol. Hoe help ek jou?’ Dit is nét so lekker. Vir tieners is dit lekker om meer van die bedryf te leer en om met mense in die bedryf te kan gesels. Dit sit jou in die posisie om te ervaar dat dit nie ver weg is nie – jy is nou so naby aan die droom.”
“Harde werk klop talent.” – Keagan Cooper
Keagan Cooper van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp keer vir ’n tweede keer terug na hierdie magnetiese stel. Sy produksie, Oudi(sies), wys dat waarheid en toneel dikwels dieselfde taal praat.
“Dat die ATKV vir ons só ’n geleentheid gee, is fenomenaal. Dit is verskriklik lekker om te sien hoe ’n mens geleenthede gegee word om te kan verbeter en waar jy talent het, dit ten toon gestel kan word.
“Die ATKV skep ’n platform waar toekomstige akteurs en mense wat in die bedryf wil ingaan, raakgesien kan word. Ek het geleer as ek die tyd en moeite gaan insit om iets besonders te skep, kan iets goed daarvan kom. Harde werk klop talent.”
Dit is meer as stories – dit is introspeksie
Onder Hannah Borthwick se mentorskap het hierdie span nie net stories vertel nie – hulle het vrae gevra, spieëls opgetel en iets diep binne jou laat roer. Dit is toneelspel wat nie net gesien word nie, maar ervaar word – magneties, eerlik en intens.
Bly in die magneetveld
Episode 3 van Gekies vir die Kollig première op Woensdag 12 November om 18:00 op DStv-kanaal 147 (VIA).