GVK: Lindsey Abrahams bring snydende simboliek
Première: Woensdag 19 November 2025
Tyd: 18:00
Kanaal: VIA, DStv-kanaal 147
Die magneetveld word al sterker en met elke nuwe episode trek hierdie stories jou dieper in. In die vorige episode het Span Hannah Borthwick gewys hoe emosie en waarheid ’n kragpaar vorm, maar nou is dit tyd vir ons finale span om hul stempel af te druk.
Welkom by Span Lindsey Abrahams – waar simboliek, sensitiwiteit en snydende eerlikheid saamvloei. Haar fyn mentorskapaanslag vir waarheid en emosie lei Liné Allen en Janru Steenkamp deur hul laaste fase van voorbereiding. Dit is die laaste twee finaliste wat hul monoloë bring voordat die skaal kantel. Wie gaan uitstaan? Wie gaan jou magneties aantrek?
’n Lem sonder ’n landlyn en ’n Montage vir die man in die maan
In Episode 4 tree ons ’n magnetiese veld van snydende simboliek en sterreverlange binne. Liné Allen sny diep met haar stuk, ’n Lem sonder ’n landlyn. Dit is rou, eerlik en teen die stroom. Janru Steenkamp reik weer na die sterre met ’n Montage vir die man in die maan – poëties, dromerig en vol verlange. Hierdie span speel nie net met teks nie – hulle vorm ’n wentelbaan van nuwe wêrelde.
“Waag net en glo!” – Liné Allen
Liné Allen van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp bring sagtheid en eerlikheid na die stel.
“Ek het geleer dat kritiek ’n mens kan verbeter en dat dit nie sleg is nie. Ek kon al die kritiek gebruik. Jy kan baie daaruit leer. Ek het elke keer net meer selfvertroue gekry en gevoel my stuk het verbeter.
“Doen dit. Jy leer. Jy ervaar soveel goed. Jy sal nie weet as jy dit nie probeer nie. Waag net en glo! Die uitkoms kan so mooi wees.”
“Die hoeveelheid storievertelling in elke skoot – dit is iets om oor na te dink.” – Janru Steenkamp
Janru Steenkamp van die Hoërskool Durbanville het onlangs gehore vasgevang met sy spel in Niggies, en nou betree hy weer die lig met ’n nuwe perspektief.
“Jy kry ervaring van al die verskillende kante van rolprentvervaardiging, nie net die spelkant nie. Jy kan ook met kinematografie, regie en skryf speel.
“Spel is baie lekker, maar dit is nie die volledige prentjie nie. Die hoeveelheid storievertelling in elke skoot – dit is iets om oor na te dink, iets om mee te werk. Ek het geleer dit is nie so maklik om ’n film bymekaar te gooi nie – jy verstaan skielik hoekom daar soveel mense agter die kamera werk.
“Die ATKV skep ’n ongelooflike platform waar tieners met passie vir kuns werklik kan groei. Dit is baie lekker.”
Die laaste indruk voor die groot onthulling
Met Liné se sny en Janru se sterresagtheid gaan Span Lindsey Abrahams ’n laaste emosionele indruk laat – eerlik, met introspeksie en onvergeetlike beelde. Maar … is dit genoeg om die kompetisie te oorrompel?
Net wanneer jy dink jy het alles gesien, wag daar nog ’n magnetiese draai. In episode 5 onthul ons die geheime uitdaging – ’n verrassende toets wat 15% van die finale punt tel!
Wie het gewankel? Wie het verras? Wie het gegroei?
En dan die groot oomblik: Wie is gekies vir die kollig?
Bly in die wentelbaan van Gekies vir die Kollig. Episode 4 première Woensdag 19 November om 18:00 op VIA, DStv-kanaal 147.