GVK: Marlo Minnaar bring vuur en fokus!
 
            Première: Woensdag 5 November 2025
Tyd: 18:00
Kanaal: VIA, DStv-kanaal 147
’N MENTOR MET VUUR EN FOKUS
In die vorige episode van Gekies vir die Kollig het Span Jacques Bessenger die kollig laat gloei met stilte, styl en intensiteit. Die magneet draai verder en hierdie week steek ’n nuwe mentor die vlam aan: Marlo Minnaar.
Marlo bring sy kenmerkende mengsel van vuur en fokus na die skerm. Hy is nie net ’n verteller nie – hy is ’n mentor wat inspireer. Sy span? ’n Energiebondel wat stories laat knetter met varsheid en verrassing.
‘DIE SOMTOTAAL VAN SEWENTIEN’
Eerste in Marlo se span is Moya Erasmus van die Hoërskool Die Wilgers – ’n denker, ’n dromer en ’n stem wat nuut klink, maar diep tref. In haar produksie Die somtotaal van sewentien wys Moya hoe tieneroë die wêreld kan laat kantel.
“Ek was nooit lief vir die kamera nie,” sê sy. “Ek het altyd teater verkies, maar hierdie jaar, met ATKV-DigiToneel, het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak. Om met ander mense oor my toneelspel te praat, laat iets in my brein klik. Dit help weer met teater én selfs debat.”
SKOP JOU VERWAGTINGE
Ontmoet vir Eduard de Villiers van die Hoërskool Franschhoek – vars, eerlik en vol verrassings. Sy produksie, Skop, doen presies dit – dit trek jou in en gee ’n skop met ’n glimlag en ’n hoopvolle reis in ’n gemeenskap wat afhanklik is van een skop.
“Ek is dankbaar. Ek voel geëerd om hier te wees,” sê Eduard. “Dis die eerste keer wat ek drama doen. Ek het nie geweet ek het die talent nie! Om langs iemand soos Marlo Minnaar te sit, is nie iets wat jy elke dag op ’n skinkbord kry nie.”
MINNAAR-MAGNEETMATERIAAL
Van die kompleksiteit van wiskunde tot die krag van ’n skop – Moya en Eduard hou niks terug nie. Onder Marlo se mentorskap word hul stories aan die brand gesteek met magnetiese intensiteit.
Maar… kan Span Minnaar die noordpool van Jacques Bessenger van hul troon af stoot? Bly ingetrek, want die kollig brand helderder met elke episode.
Kyk hier na ’n voorsmakie van episode 2:
 
                     
             
             
             
             
             
             
             
             
             
             
             
            