‘Haas en Harriët’ Coetzer se ‘heel beste werk’
Haas en Harriët deur Susan Coetzer neem die leser op ’n emosionele reis deur die ingewikkelde wêreld van gesinsverhoudings, en is ’n merkwaardige afwyking van haar tradisionele geestelike en inspirerende werke. Met hierdie boek beweeg sy weg van die bekende “soet” temas wat haar vroeëre werke kenmerk en kombineer sy die bitter, die suur en die soet tot ’n veel dieper leeservaring wat in balans staan. Dis ’n boek vol umami en net die heel nodigste tikkie soet.
Die verhaal volg die lewe van Mila, wat as volwasse sakevrou terugkyk op haar kinderjare en die komplekse verhouding met haar eksentrieke ma, Harriët. Sy wroeg oor haar eie swak verhouding met haar outistiese dogter Tami, haar man Conrad en haar broer Fanie.
Hierdie verhouding word in drie tydlyne vertel – 1972, 2009, en die huidige – waar die leser die gelaagdheid van Mila se ervaring beleef: van onskuldige kinderjare tot die besef dat dit eintlik traumatiese gebeurtenisse is.
Harriët se vreemde belangstellings in Keltiese mitologie en taksidermie lei tot haar vergelykings van diere met mense, wat sy ook vir klein Haas (Mila) aanleer. Daar is dwarsdeur die boek beelde van diere, en byname soos Skilpad, Aapstert en Uil.
Temas is onvolmaakte ouerskap, verraad van geliefdes, vergifnis, outisme, PSTD, die effek van fisieke gebreke op verhoudinge en hoe dit emosionele letsels laat. Tog kan sulke trauma positiewe gevolge hê. Mila doen byvoorbeeld ’n navorsingsvoorstel vir haar PhD-graad oor die effek van langdurige trauma as ’n gevolg van swak ouerskap.
Nie net swak ouerskap nie, maar ook gebrekkige verhoudings tussen familie, sibbes en vriende laat hierdie verhaal soos ’n greep uit die werklike lewe klink.
Coetzer bou spanning en emosie, en skilder karakters wat ambivalent en veelkantig is, wat die leser dwing om elke karakter vanuit ’n nuwe perspektief te verstaan.
Haar skryfstyl is maklik, dit lees lekker, maar die diepte en ernstige kwessies in hierdie boek moet nie onderskat word nie. Die humor is skerp, die woordspelings slim.
Met temas soos vergifnis, verraad en die langtermyn-impakte van swak ouerskap, trek Coetzer ’n dapper politieke parallel tussen ouerskap en die politieke geskiedenis van Suid-Afrika, wat ’n unieke en betekenisvolle dimensie aan die storie verleen. Die besondere taalgebruik dra by tot ’n ligter, maar tog diepgaande ervaring, en Coetzer se unieke styl maak hierdie werk ’n treffende bydrae tot die Afrikaanse literatuur.
Haas en Harriët is ’n verhaal wat die leser laat lag en hulle tegelykertyd kwaad maak. Die emosionele kompleksiteit van die menslike psige word met humor en insig verken.
Hierdie verhoudingsroman oor onvolmaakte ouerskap en ook onvolmaakte kindwees met sy dosis huishoudelike noir, lees filmies en bied beslis leesstof wat ’n blywende indruk sal laat.
Na my mening is hierdie Susan Coetzer se heel beste werk en dit behoort byval te vind by ’n wye lesersmark. Dit sal ’n uitstekende Kersgeskenk maak.
Haas en Harriët word uitgegee deur NB-Uitgewers. Koop dit hier.
Resensent: Trisa Hugo