Hedendaagse Nehemias help om SA te herbou
“Ek het nog nooit Nehemia se verhaal so aandagtig bestudeer soos die afgelope paar dae nie,” het ds. Louis Pienaar tydens die afsluiting van die ATKV-Kultuurkuier gesê. “Nehemia was slegs ’n nederige skinker. Toe hy egter hoor van die Israeliete wat ‘in ellende en smaad leef’ en Jerusalem se stadsmure wat verkrummel, het hy toestemming by die koning gekry om na die stad terug te keer om dit te help herbou.”
Vanjaar se Kultuurkuier is vanaf 9 tot 11 Julie by ATKV-Buffelspoort in die Noordwes gehou. Tydens die saamtrek het sprekers en kenners ‒ almal moderne weergawes van Nehemia, wat nie vir ’n uitdaging terugdeins nie ‒ vertel hoe gewone mense ’n reuseverskil in hul gemeenskap kan maak.
Sonél Brits, die ATKV-MSW se besturende direkteur, het verduidelik: “Elke jaar bring ons kenners en sprekers na die Kultuurkuier wat lede toerus met praktiese gereedskap om positiewe verandering in hul gemeenskappe teweeg te bring.”
Pienaar het voortgegaan: “Dit is een van die mooiste voorbeelde in die Ou Testament van iemand wat self inisiatief geneem het om ’n groot taak aan te pak. Nehemia het besef dat om te bid en te treur oor sy landsburgers se lot hulle nie gaan help nie. Hy het besluit om in te gryp, sy mense te betrek en binne 52 dae het hulle Jerusalem se stadsmuur herstel. Elkeen het sy eie stukkie muur herbou ‒ as elkeen van ons net ’n klein bietjie bydra, kan ons saam ’n reuseverskil maak in die omgewing waar die Here ons geplaas het,” het Pienaar beklemtoon.
Neem die inisiatief
André van Pletzen, leier van die Ignite and Revive Kroonstad-beweging, se strategieë vir dienslewering en gemeenskapsbetrokkenheid is gesetel in die beginsels van ’n “Nehemia-hart”. Dit behels die uitvoer van Goddelike doelwitte deur gebed en leiding van Bo, geloof en helderheid om jou visie deur te voer met dapperheid, nederigheid en integriteit, en die vermoë om ander te verenig om saam te help bou aan die gemeenskaplike doel. Net soos Nehemia moedig Van Pletzen dorpsinwoners aan om verantwoordelikheid te neem vir die verbetering van hul omgewing.
“Suid-Afrika is in ’n stryd om oorlewing gewikkel as gevolg van die agteruitgang in dienslewering. Ons kan die kwessie aanpak as ons bereid is om hande te vat om verandering teweeg te bring. Wanneer inwoners self verantwoordelikheid neem, is die resultate ongelooflik,” sê Van Pletzen.
Hy sê mense word dikwels ontmoedig deur die reuseagteruitgang en die klein aantal vrywilligers.
“Kroonstad Revive is ’n voorbeeld van wat ’n sterk kerngroep kan vermag. Ons het met 10 mense begin. Daar is 160 000 mense in Kroonstad. Minder as 1% werk saam met ons. Stel jou die verskil voor wanneer 30% betrokke is.”
Nehemia het nie alleen Jerusalem se stadsmuur herbou nie, maar vir elke gesin laat werk aan die stuk muur die naaste aan hul huis. Dit het hulle gefokus gehou op vordering binne hul eie omgewing, en so ook gemotiveer gehou.
Eenheid in diversiteit
Nehemia 3 beklemtoon hoe Nehemia die mense van Jerusalem, ongeag hul diverse agtergronde, kon verenig om ’n gemeenskaplike doel te bereik. Almal is betrek ‒ mans en vroue, volwassenes en kinders, adellikes en werkers, verskillende stamme, kulture en ambagsmense. Ten spyte van ontberings, terugslae en teëspoed het daar 52 dae later ’n nuwe muur rondom Jerusalem gestaan.
Die skaapboere Marius Pienaar van die Noord-Kaap en Mthunzi Ntutela van die Oos-Kaap, asook die opvoedkundige sielkundige en gemeenskapsleier Quinton Adams van Kaapstad, wys hoe mense van verskillende agtergronde kan saamwerk om ’n groter doel wat almal bevoordeel, te bereik.
Toe Pienaar Ntutela se Facebook-inskrywing oor sy gemeenskap se uitdagings om goeie skaapgene te bekom, lees, het hy eers gedink iemand anders gaan vir die Oos-Kaapse skaapboer met raad bystaan. Toe besef hy: “Ek is daardie iemand anders.”
Sy repliek op Ntutela se inskrywing, “Hoe kan ek help?”, het aanleiding gegee tot ’n waardevolle vennootskap wat Oos-Kaapse boere help om hul skaapkuddes te verbeter. “Ons storie weerspieël Suid-Afrika se werklikhede as mense hande vat en saamwerk,” sê Ntutela.
Quinton Adams wys weer hoe alle vlakke van die samelewing kan bydra om ’n verskil te maak. Hy is die stigter van die niewinsgewende organisasie, The Shackbuilder, wat gesinne wat in vervalle plakkershutte woon, bystaan en toegang tot beter behuising bied. The Shackbuilder bou nuwe, veiliger strukture vir mense in informele nedersettings en help só om hul waardigheid te herstel. Die organisasie verskaf ook sonlampe, brandblussers en ander hulpbronne om die risiko van brande in die nedersettings te voorkom.
Net soos met Nehemia se werksmag kom hulp vanuit alle oorde ‒ internasionale maatskappye, argitektuurstudente wat ervaring wil opdoen en werklose mense wat opgelei word om beter skuilings te bou en hul vaardighede in die arbeidsmark op te skerp.
“Ons storie wys wat Suid-Afrikaners ‒ swart en wit ‒ kan vermag wanneer ons saamwerk,” sê Adams.
Wees ’n visioenêr
Moderne Nehemias neem self leiding vir positiewe verandering, en dit was die fokus van G.P. van Rheede van Oudtshoorn se werkswinkel. Deelnemers het geleer hoe om ’n positiewe en energieke samewerkingsgees binne vrywilligersgroepe te skep. Van Rheede van Oudtshoorn het raad gegee oor doeltreffende kommunikasie en beklemtoon hoe positiewe energie ’n span kan help om doelwitte vinniger te bereik.
Hy het ook advies gegee oor hoe om vrywilligers te laat voel dat hulle saak maak, en hoe om hulle te inspireer. Vrywilligers wil sien hoe hulle, deur hulself te wees, inpas en hoe hul individualiteit tot die groter geheel bydra.
“Gemeenskapsleiers wat inspireer, verstaan dat elke persoon uniek is en dat hul talente ook uniek is,” was Van Rheede van Oudtshoorn se boodskap. “Neem die tyd om na jou vrywilligers te luister, uit te vind wat hulle aanspoor, en pas jou benadering by elke individu aan. Skep ’n kultuur waar hulle waardeer en bemagtig voel en waar hulle die impak van hul werk op die organisasie en die gemeenskap kan sien.”
Begin by jongmense
Die voormalige sokkerster Doc Mabila en die mediapersoonlikheid Success Lekabe se werkswinkel het jong ATKV-lede insig gegee in die lig van die krisis van werkloosheid onder Suid-Afrika se jongmense. Suid-Afrika het van die hoogste jeugwerkloosheidsyfers ter wêreld.
Doc Mabila se organisasie, Youthzones, help jongmense uit benadeelde gemeenskappe regoor Suider-Afrika om werk te kry. Hy het egter verduidelik dat hoewel werkloosheid ’n probleem is, die lewensvaardighede wat mense help om goeie werknemers te wees en binne die werksplek aan te pas, dikwels ’n uitdaging is, en dat die gebrek aan dié vaardighede dikwels hul kanse tot volhoubare arbeid belemmer.
“Anders as akademiese leer, fokus lewensvaardighede op hoe jy moet optree by die werk, en wat jou werkgewer van jou verwag ‒ gewoontes wat die weg baan vir persoonlike en professionele sukses.
“Die lewensvaardighede word dikwels aangeleer deur blootstelling aan rolmodelle soos ouers, onderwysers, predikante of vriende, en talle jong Suid-Afrikaners het nie grootgeword met dié positiewe invloede nie. Maar selfs sonder rolmodelle kan jongmense steeds by mekaar leer, en dit is wat Youthzones vir jongmense doen,” het Mabila gesê.
Lekabe het ook beklemtoon dat jou omgewing en omstandighede nie bepaal wie jy is nie.
“Ons het die krag om ons reaksies op uitdagings en terugslae te kies. Om eksterne faktore vir ons ongelukke te blameer, hou ons terug, maar as ons eers besluit ons is oplossingsgedrewe, bemagtig ons onsself en ontwikkel ons veerkragtigheid en die vermoë om aan te pas by verandering, al is dit hoe uitdagend,” het sy beklemtoon.