Hekelmarathon lewer bykans 2000 komberse
Die afgelope naweek het hekelpenne regoor die land geklik-klak toe meer as 1500 kranige hekelentoesiaste van Alberton tot Aliwal-Noord en orals tussenin blokkieskomberse vir behoeftiges gehekel het.
Die ATKV-tak Arendsnes aan die Wes-Rand was verantwoordelik vir hierdie besonderse projek, wat vanjaar gaan sorg dat baie mense in nood die winter se koue sal kan temper.
“Die omvang van en die reaksie wat ons op hierdie projek ontvang het, het ons almal verstom. Dit wys net weer vir jou dat daar nog goed in die wêreld is,” sê Leandra van Wyk, ondervoorsitter van die tak.
Hekelaars het by 104 hekelstasies regoor die land byeengekom om deel te neem aan die 30 uur lange hekelmarathon.
“Mense het tot so ver as Botswana en Namibië aan die marathon deelgeneem en die eindproduk is verbysterend,” sê sy.
Die marathon het Vrydagmiddag om 12:00 afgeskop en Saterdag om 18:00 geëindig.
Teen Maandagoggend het Leandra en haar span 70 805 hekelde blokkies ontvang. Elke kombers bestaan uit 36 blokkies en tot dusver kan daar 1966 aanmekaargewerk word.
Die tak gaan die blokkies aan die liefdadigheidsorganisasie Maak ’n Verskil oorhandig, wat dit aanmekaar gaan werk en aan behoeftiges gaan skenk.
Volgens Leandra stroom die gehekelde blokkies steeds van heinde en verre in.
“Ons is nog nie klaar getel nie. Ons het vanoggend nog 35 blokkies ontvang en verwag nog. Ons afsnydatum vir blokkies is eers teen Woensdag.”
Leandra, takvoorsitter Monique Brink, en 12 ander taklede van die ATKV-tak Arendsnes het ook aan die marathon deelgeneem.
“Monique het drie weke voor die marathon geleer hekel en het ’n totaal van sewe komberse se blokkies gehekel.”
Die hoof-hekelstasie was in Constantia Kloof in Roodepoort, waar sowat 100 mense op dieselfde tyd gehekel het. 40 van hierdie hekelaars het die volle 30 uur hulle hekelpenne laat sing, insluitend Leandra.
“Ek het net teen 04:00 die oggend gesukkel om my oë oop te hou,” sê Leandra.
Volgens haar was daar egter mense wie se hande van al die harde werk in spasmas begin gaan het.
“Daar was ’n tannie wie nekspasmas begin kry het, maar ons het ’n fisioterapeut byderhand gehad wat vir almal oefening gegee het. Dit was eintlik groot pret gewees en dit is lekker om te weet ons het dit gedoen om ander mense te help.”
Sy sê daar is ook nuwe vriendskappe tydens hierdie projek gesmee.
“As jy hekel, sit jy mos maar en gesels met die mense rondom jou. Mense het hulle families uitgepluis en oor enige ding gesels.
“Die beste van als is dat nie een van hierdie komberse dieselfde is nie. Elkeen is uniek en elkeen gaan iemand hierdie winter kan warm hou,” sê Leandra.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Arendsnes, kontak Ann Koopman by 082 682 6964 of stuur ’n e-pos na monique@leandrarealestate.co.za. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.